SuperSport Schools Plus

Menlopark se uitspeeldrome hang aan dun draadjie na Jansie Bom

By Hannes Nienaber , in Rugby | News , at 2019-07-29 Tags: , , ,

NewsGHencovanWyk13Die Hoërskool Dr. EG Jansen van Boksburg het Saterdag ‘n reuse rots in Menlopark se pad na die halfeindrondes van die Virsekerbeker se Beker-kompetisie gerol. Die Jansies het vir ‘n opskudding gesorg deur die Parkies met 29-17 te verslaan. 

Menlopark beklee tans die vierde posisie met 21 ligapunte op die reeks se puntelys en kom Saterdag in die laaste ronde groepwedstryde teen Monument van Krugersdorp te staan. Die Parkies moet dus ‘n sege behaal oor Monnas indien hulle nie op gunsies van ander spanne wil staatmaak om tot die halfeindronde deur te dring. 

Monument het wel reeds sy plek in die uitspeelwedstryde bespreek, maar met 31 ligapunte in die derde posisie sal die span van Krugersdorp met ‘n oorwinning wil seker maak dat hy tuisveldvoordeel tydens die halfeindrondes geniet.

Garsfontein en Helpmekaar-kollege beklee die boonste twee posisies op die puntelys met 32 punte elk. Helpmekaar het reeds sy verpligtinge voltooi, terwyl Garsies nie te veel probleme behoort te ondervind om Transvalia af te stof nie. 

Waterkloof (20) en EG Jansen (19) kan dus die naweek by die agterdeur inglip. Die Klofies reis na Middelburg waar hulle teen die HTS Middelburg se Rooi Bulle te staan sal kom.

Dis nooit maklik in Middelburg nie, maar Klofies sal sy oog op ‘n sege en ‘n moontlike bonuspunt hê om sy kanse op ‘n plek in die uitspeelrondes te versterk. Die Jansies behoort ‘n bonuspunt-sege oor Noordheuwel Saterdag op sy tuisveld in Boksburg te behaal. Nories kon vanjaar nog net een sege oor Transvalia (25-20) in die reeks behaal. 

Jansies het dus met sy sege van 29-17 oor Menlopark die deur vir hulself en vir Waterkloof op ‘n skrefie oopgeskop. Die Parkies se klipharde kantman, Lohan Potgieter, het dubbelle driedruk-plesier ervaar. Sy tweestryd met Jansies se Juandré Odendaal was een van die hoogtepunte van die kragmeting. 

Monnas se kaptein en SA Skole-buitesenter, Henco van Wyk, was verwoestend in sy span se oorwinning van 52-22 oor HTS Middelburg. Van Wyk het telkens verby die verdediging geglip en is met ‘n driekuns aan drieë beloon. Hy het ook die stelskopwerk waargeneem en vyf doelskoppe tussen deur die pale geklits. 

Monnas sal sonder Van Wyk asook die agtsteman, Izan Esterhuizen, in die uitkloprondes van die reeks moet klaarkom. Die Wit Bulle en Garsfontein word die grootste deur die feit dat die nasionale skolespelers nie in die wedstryde in aksie sal wees nie, weens hul verpligtinge by die twee nasionale spanne. 

Garsfontein het vier spelers Zeilinga Strydom (heelagter), Geraldo Flusk (vleuel), Jurich Claassens (skrumskakel) en sy kaptein en slot, Raynard Roets, wat vir die twee nasionale skolespanne in aksie was wees. 

Garsies se Turkoois Bere is egter vuurwarm die afgelope paar wedstryde en het Saterdag ook vir Noordheuwel met 68-24 oortuigend oorrompel. Die span se losskakel, Wikus Basson, het waarskynlik sy beste vertoning nog vir sy skoolspan opgedis. Basson het twee keer ‘n draai agter die doellyn gemaak. Hy het ook nege van sy span se tien drieë verdoel. Hy het dus ‘n persoonlike bydra van 28 punte tot die sege gelewer. 

Helpmekaar het Waterkloof met 36-24 uitoorlê, maar was met die telling op 14-12 teen lemoentyd in Klofies se guns so effens met die rug teen die muur. Klofies se losskakel, Ian Trollip, was op sy stukke en het spel met sy besluitneming dikteer. Hy is boonop vir sy goeie spel met twee drieë beloon. 

Helpies se beste speler op die dag was sy slot Keith Whitehead wat die veld vol gespeel het. Whitehead het die aanvoorwerk vir twee van sy span se drieë gemaak. Die kantman Zander du Toit is vinnig weer besig om sy spelpeil van vroeër die seisoen te herwin.

FOTO: Mari van der Walt/Freestyle Pics

Puntemakers: 

Monument 52 (19) – Drieë: Henco van Wyk (3), Luan van der Walt, Herschelle Goodman, Rynard Mouton, Heiko Pohlman. Doelskoppe: Van Wyk (5), Goodman. HTS Middelburg 22 (15) – Drieë: Christiaan Vlok, Cyle Visagie, Tiaan Herbst. Doelskoppe: Alec Vermaak (2). Strafdoel: Vermaak. 

Garsfontein 68 (42) – Drieë: Dillon Olckers (2), Manie Potgieter (2), Wikus Basson (2), Dupré Wessels, Zeilinga Strydom, Raynard Roets, AJ Johnson. Doelskoppe: Basson (9). Noordheuwel 24 (7) – Drieë: Bradley Engelbrecht (2), Maurice Marks, Levandré Horn. Doelskoppe: Juan Nieuwenhuizen (2). 

Helpmekaar 36 (12) – Drieë: Divan Esterhuizen (2), Melbirt van der Spuy, Kuene Kirkham, Zander du Toit, Sebastine Watney. Doelskoppe: Tiaan Botes (3). Waterkloof 24 (14) – Drieë: Ian Trollip (2), Marcus de Kock, AJ Smith. Doelskoppe: Trollip (2).

EG Jansen 29 – Drieë: Brandon Pienaar, Franco Enslin, Lesley October, Keagan Balfour. Doelskoppe: Jason Edwards (3). Strafdoel: Edwards. Menlopark 17 – Drieë: Lohan Potgieter (2), Enrique Courtiers. Doelskop: Niel Beukes.

Ander spanne

o.16: HTS Middelburg 17, Monument 7; Menlopark 45, EG Jansen 10; Helpmekaar 54, Waterkloof 7; Noordheuwel 48, Garsfontein 19.

o.15: Helpmekaar 22, Waterkloof 10; Menlopark 45, EG Jansen 6; Monument 21, HTS Middelburg 7; Garsfontein 19, Noordheuwel 15.

o.14: Helpmekaar 60, Waterkloof 7; Monument 15, HTS Middelburg 13; Menlopark 29, EG Jansen 8; Garsfontein 26, Noordheuwel 6.

[powr-comments id=”f77dc140_1564406938021″]

Hannes Nienaber
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.