SuperSport Schools Plus

Menlopark en Eldoraigne in belangrike Beeldtrofee-wedstryd

By Hannes Nienaber , in Rugby | News , at 2014-06-20 Tags: , , , , , ,

Die kragmeting tussen Menlopark en Eldoraigne se eerste rugbyspanne more op eersgenoemde se tuisveld sal bepaal wie van die twee spanne se deelname om die Beeldtrofee vir Makro-skole kortgeknip sal word. Pennypinchers en Timbercity is medeborge van dié reeks.

Dié wedstryd is ook die laaste ligawedstryd in die streek van die Blou Bulle. Indien Menlopark die wedstryd wen en meer as drie drieë druk en met drie of meer punte wen sal hy derde in die Ligbloues se liga eindig. Indien Eldoraigne wen sal hy derde in die liga klaarmaak.

Centurion beklee tans die derde posisie met 14 punte op die puntelys. Eldoraigne en Menlopark het onderskeidelik tien en agt ligapunte tot dusver ingesamel. Spanne kry in die liga ’n punt vir deelname, vier punte vir ’n wen, ’n bonuspunt vir drie of meer drieë of ’n bonuspunt vir ’n nederlaag met sewe of minder punte.

Menlopark het op die oomblik ’n negatiewe punteverskil van 40 punte, terwyl Centurion ’n negatiewe punteverskil van 42 punte het.

Die Afrikaanse Hoër Seunskool van Pretoria se onttrekking teen Garsfontein en Menlopark sal waarskynlik Centurion die derde posisie op die puntelys kos. Centurion het sy twee ligapunte in sy naelskraapse nederlaag van 21-20 teen Affies weens die onttrekkings verbeur.

Garsfontein en Waterkloof is reeds verseker van die eerste en tweede posisie in die liga. Die voorste vier spanne van die Bulle dring deur tot die Beeldtrofee.

) Die eindstryd van die Pumas se Makroskole vind op 26 Julie tussen HTS Middelburg en Hoërskool Nelspruit se Rhinos plaas.

) Die Leeus se eindstryd sou ook op 26 Julie tussen Monument en Florida plaasgevind het. Die twee skole het egter ooreengekom om die wedstryd af te las oor die Suid-Afrikaanse Skole-proewe wat ook op daardie dag in Kemptonpark sal plaasvind.

Monnas sal as die Leeus se voorste span die Beeldtrofee betree, terwyl Florida die tweede span sal wees. Die span van Krugersdorp sal in die kwarteindronde van die kompetisie teen die wenner van die kwalifiserende wedstryd tussen die Pumas se naaswenners en die derde span van die Valke te staan kom.

) Die Valke se halfeindstryde vind more op Dr. Malan in Meyerton se velde plaas. EG Jansen sê om 10:50 vir Vereeniging Gimnasium die stryd aan. Die span van Boksburg het die twee spanne se ligawedstryd op ’n drafstap met 84-14 gewen. In die ander halfeindstryd om 14:50 sê Kemptonpark vir Jeugland die stryd aan.

) Die Luiperds en Limpopo het elk slegs een skool wat aan die Makro-afdeling deelneem en die twee skole, Hoërskool Rustenburg en HTS Tom Naudé, pak mekaar in ’n uitspeelwedstryd later vanjaar. Dié wenner sal die vierde gekeurde span van die Blou Bulle op 26 Julie in ’n uitspeelwedstryd pak.

Hannes Nienaber
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.