SuperSport Schools Plus

Memani laat ses spat in Liggie-sege

By Franco Oberholzer , in Cricket | News , at 2024-02-12 Tags: , , , , , ,

‘n Uitmuntende boulvertoning deur Lethabo Memani het aan Hoërskool Lichtenburg ‘n tweede sege in Afdeling C van  die Finsbury-reeks besorg.

Die alsydige krieketer het, na ‘n mislukking met die kolf, behoorlik opgemaak deur ses paaltjies vir slegs 14 lopies te laat kantel in sy span se oorwinning oor Hoërskool Pietersburg.

Sy prestasie met die bal was deurslaggewend vir die span van Noordwes, aangesien hulle slegs 122 lopies in hul kolfbeurt kon aanteken. Liggies se staatmaker in die toporde, Douw Jacobs, het tot die span se redding gekom na ‘n uiters wankelrige begin, en ‘n hardverdiende 34 lopies van 36 aflewerings aangeteken.

Hanno Coetzee, die Pieties se keurbouler in die reeks, het weer die grootste skade aangerig. Hy het aan die einde van die Liggies se kolfbeurt met syfers van drie paaltjies vir 35 lopies gespog, en is goed bygestaan deur Cilliers van der Merwe (2/17) en AJ Galloway (2/21).

Met die kolf was daar egter weinig sukses vir die besoekers. Slegs hul aanvangskolwer, Stephan Swanepoel, het gemaklik voorgekom in die kolfkampie om ‘n waardevolle 43 lopies aan te teken, voordat hy Memani se eerste slagoffer geword het.

Ona Senokwane (3/30), het Memani skitterend bygestaan. Die nege paaltjies tussen die twee boulers het beteken dat die Pieties se laaste paaltjie met hul totaal op slegs 103 gekantel het.

Hoërskool Marais Viljoen het vir Hoërskool Ben Vorster se boulers behoorlik laat les opsê. Die span van Alberton kon spog met ‘n honderdtal en twee vyftigtalle deur drie van hul voorslagkolwers. Aldre Huyzers het die toon aangegee met 109 lopies van net 79 aflewerings, terwyl die veelsydige Tiaan Kuhn (60, 40b) en Jaden Govender (55, 53b) hom uitstekend ondersteun het.

Onder die sukkelende Vossie-boulers, het Rivoningo Chauke (3/56) uitgestaan. Die aanvangsbouler het goed teruggeveg in sy tweede boulskof om twee kritieke paaltjies te laat kantel. Die draaier, Ndzalama Mushwana (3/57), het ook beïndruk en het saam met Chauke die Vossies se terugvegpoging gelei.

Marais Viljoen se boulers was op hulle beurt eenvoudig nét te goed vir die Vossie-kolwers. Tiaan Kuhn was taamlik verniegtigend kort voor middagete, met boulsyfers van een paaltjie vir twee lopies in drie beurte. Dit was egter die draai-kombinasie van Nathan Coleske (5/16) en Declan Botes (2/33) wat die Vossies finaal geknak het.

Net Chauke (32) en Ruben Pohl (31) kon noemenswaardige bydraes lewer voordat die Tzaneeners vir ‘n skamele 88 lopies uitgeboul is.

Hoërskool Zwartkop het Midstream College verras met ‘n vyf-paaltjie sege. Rowan Mclaren (4/14) en Wynand Frylinck (2/13) het Midstream met kookwater boulskofte onder enorme druk geplaas.

Ryan Struass (26) en Gerhard van der Westhuizen (24) het hul bes probeer om die span se kolfbeurt aanmekaar te hou. Dit was egter nie genoeg nie, en die span van Midrand moes tevrede wees met ‘n totaal van 108.

Jonathan Wiseman se boulskof van drie paaltjies vir 30 lopies het die Zwarries vroeg in die moeilikheid gehad. Estiaan Cronje (30) en Zandre van Staden (22) het egter koelkop gebly en gesorg daarvoor dat die Zwarries  Midstream se telling in die 30ste beurt kon verbysteek.

Beknopte telkaarte:

Hoërskool Lichtenburg: 122 (Douw Jacobs 34, Hanno van Zyl 3/35, Cilliers van der Merwe 2/17, AJ Galloway 2/21). Hoërskool Pietersburg: 103 (Stephan Swanepoel 42; Lethabo Memani 6/14, Ona Senokwane 3/30). Lichtenburg wen met 19 lopies.

Hoërskool Marais Viljoen: 293 (Aldre Huyzers 109, Tiaan Kihn 60, Jaden Govender 55, Jordan Baijnath 22; Rivoningo Chauke 3/56, Ndzalama Mushwana 3/57). Hoërskool Ben Vorster: 88 (Rivoningo Chauke 32, Ruben Pohl 31; Nathan Coleske 5/16, Declan Botes 2/33). Marais Viljoen wen met 205 lopies.

Midstream College: 108 (Ryan Strauss 26, Gerhard van der Westhuizen 24; Rowan McLaren 4/14, Wynand Frylinck 2/13, Liam van Wyk 2/18). Hoërskool Zwartkop: 109/5 (Estiaan Cronje 30, Zandre van Staden 22; Jonathan Wiseman 3/30). Zwartkop wen met vyf paaltjies.

Franco Oberholzer
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.