SuperSport Schools Plus

Mediaverklaring van die Hoërskool Garsfontein – Marnitz verlaat Bere aan die einde van 2022

By Hannes Nienaber , in Rugby | News , at 2022-11-30 Tags:

Hendré Marnitz
FOTO: Frans Lombard

Dit is met spyt dat die Hoërskool Garsfontein vandeesweek kennis geneem het dat sy Direkteur van Rugby, Hendré Marnitz, aan die einde van 2022 die skool se diens sal verlaat. Marnitz het sedert September 2019 aan stuur van die skool se rugbyprogram gestaan.

Marnitz het die skool in kennis gestel dat hy vanaf 1 Januarie 2023 die pos as Direkteur van Rugby by Maritzburg College in Pietermaritzburg aanvaar het. “Ons wens mnr. Marnitz en sy gesin sterkte toe met hul toekomsplanne asook mnr. Marnitz se loopbaan as breier,” het mnr. Leon Bantjes, skoolhoof van die Hoërskool Garsfontein, gesê.

Garsfontein is trots op die feit dat sy personeel so hoog in aanvraag is by ander skole. Dit toon die skool maak die regte keuses wanneer dit kom by die werwing en aanstelling van personeel, wat altyd tot voordeel van die leerders moet wees – soos ook blyk uit die skool se voortdurende top akademiese, sport en kulturele prestasies.

Op sportgebied is verskeie van die skool se personeel reeds deur ander toonaangewende skole en unies gewerf nadat hulle die Garsie-leerders gehelp het om top louere te verwerf.

Hoewel Garsfontein persone van die kaliber afstaan, is daar nie kommer oor die pad vorentoe nie – omdat die skool se bestuur die regte strategie, prosesse en strukture in plek het, wat dit moontlik maak vir ‘n nuwe persoon om soomloos in te skakel – en dan ook sy eie unieke stempel af te druk.

So byvoorbeeld is die aanvanklike rugbystrukture gevestig deur mnr. Pote Human, voormalige Direkteur van Rugby en gewese afrigter van die Blou Bulle se superrugbyspan, waarop voortgebou is deur mnr. Francois de Kock, huidige skoolhoof van Kempton Park, en daarna Ryno van der Merwe, hoof van rugby by Affies.

Hoërskool Garsfontein is reeds in die proses om mnr. Marnitz se pos te vul. Gustav Theunissen wat aan hoof van die skool se werwing staan sal intussen in dié pos waarneem.

Die skool beoog om die nuwe Direkteur van Rugbyafrigting aan te stel om reeds in Januarie 2023 sy plek in die sisteem in te neem.

Garsfontein glo aan voortdurende verbetering en vernuwing.

Die Bere handelsmerk is uniek en gevestig – die nuwe aanstelling sal bydra tot die uitbou van hierdie trotse tradisie. Die skool sal dan ook, soos in die verlede, sorg dat die regte persoon aangestel word om die rugbyseuns se vaardigheidsvlakke en mensontwikkeling verder uit te bou – en so die skool se trotse rugbykultuur oor die afgelope agt jaar voort te sit.

Vir enige verdere inligting kan Theunissen per e-pos gekontak word by gustav@garsies.co.za.

Hannes Nienaber
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.