Mauritz Hansen trap diep spore in die Waterberge
Wanneer daar oor Mauritz Hansen gesels word, is dit duidelik hoekom hy in baie kringe ook as ’n Leeu van die Noorde bekend staan, want net soos een van Suid-Afrika se vorige eerste ministers, Hans Strijdom, het hy ook ’n blywende indruk in die Waterberge gelaat, berig Hannes Nienaber.
Friedrich Mauritz von Nessen Hansen is in Potgietersrus (deesdae Mokopane) gebore, net omdat daar nie ’n hospitaal in Naboomspruit (Mookgophong) was nie, maar hy is in murg en been ’n seun van Naboomspruit aan die voet van die Waterberge in Limpopo.
Boonop was Hansen van 1986 af tot en met 1999 skoolhoof van die Hoërskool Hans Strijdom, wat na dié voormalige Suid-Afrikaanse eerste minister vernoem is.
“Naboom is my grootword-wêreld. Ek was van graad een af hier op skool en het in 1965 hier gematrikuleer,” sê Hansen. Hy was in 1965 ook die kaptein van Hans Strijdom se eerste span.
Bydrae tot Onderwys
Die Hansens van die Waterberge het ’n reuse bydrae in die onderwys gelewer.
Vier van die vyf kinders van Andries en Tokkie Hansen het baie diep spore in onderwys getrap.
Saam het Mauritz (29 jaar), Wynand (30), Jas (40) en Reah (15) ’n volle 114 jaar van hul lewens aan onderwys gewy.
Jas het verlede jaar as hoof van die Hoërskool Piet Potgieter afgetree.
“My broer Wynand was ’n beter onderwyser as ek en het ook ’n uitsonderlike kennis van rugby gehad.”
Mauritz Hansen se bestuurstyl kan in sekere kringe as outokraties beskryf word. Wat daarmee bedoel word, is dat hy sy eie kop volg, maar nie altyd soos ’n alleenheerser optree nie.
Hansen het as pedagoog en as administrateur en afrigter in rugby groot sukses behaal.
Hy het sy onderwysloopbaan in 1970 by Wonderboom in Pretoria begin. Hy was daarna van 1971 tot 1977 by die Hoërskool Nylstroom betrokke.
“Dit was van my gelukkigste jare. Ek en Yvonne (neé Kruger) is in 1970 getroud en albei my kinders André en Angelique is hier gebore.”
In 1978 het hy departementshoof van Geesteswetenskappe by Generaal Hertzog in Witbank geword.
In 1981 is hy as adjunkhoof van HTS Witbank aangestel voordat hy in 1984 hoof van Ventersdorp geword het. Hier was hy twee jaar hoof voordat hy na sy alma mater teruggekeer het.
Vroeë aftrede
Hoewel Hansen in 1999 die tuig neergelê het, het hy sedertdien steeds ’n aktiewe bydrae by die Naboomspruit Opvoedkundige Trust Rugby-akademie (NOPTRA) asook sy huidige pos as bemarker van die wêreldbekende Legends-gholfbaan.
Hansen het in 1999 weens sy gesondheid aftree nadat Mineur-sindroom by hom gediagnoseer is.
Dié sindroom tas die binneoor aan, wat onder andere duiseligheid en gehoorverlies veroorsaak.
Hansen, die afrigter
Hansen het die Cravenweek vyf keer as afrigter en drie keer as spanbestuurder bygewoon. Hy het Verre Noord (1975 en 1976), Suidoos-Transvaal (1983 en 1984) en Stellaland (1985) gebrei.
Hy was in 1977 Verre Noord se spanbestuuder en het in 1981 en 1982 ook dié pos vir Suidoos-Transvaal beklee.
Hansen het in 1975 tydens sy eerste Cravenweek as afrigter in Pretoria die blondekop losskakel van Noord-Transvaal, Naas Botha, ’n drag slae tydens die toernooi gegee.
“Hy het vroeg elke oggend die bal teen die trappe van die koshuis geskop en dan gevang. Ek het hom die eerste oggend buitentoe gejaag waar hy sy oefening kon voortsit.
“Die volgende oggend was hy weer terug en toe gee ek ek hom drie van die bestes.”
Hansen was twee keer in die voorsitterstoel van Verre Noord- en Limpopo se skolerugbyverenigings. Sy eerste termyn was van 1989 tot en met 1995 en hy was in 1997 ook in die stoel.
Hy het vyf skole se eerstespanne in sy loopbaan gebrei. Hulle is die Hoërskool Nylstroom, Generaal Hertzog van Witbank, HTS Witbank, Hoërskool Ventersdorp en Hans Strijdom.
Hansieland is Rugbyland
Hans Strijdom is eintlik maar ’n kleinerige plattelandse skool, maar het onder die wakende oog van Hansen groot hoogtes bereik.
Hans Strijdom het in 1996 tot die halfeindronde van die Beeldtrofee gevorder deur Monument met 36-15 in ’n kwalifiserende wedstryd te troef. Die span het Lichtenburg in die kwarteindronde met 10-6 uitoorlê.
Die skool is ook in 1996 op Grant Moodie se ranglys vir skolespanne as 13de beste span in die land gereken.
In 2001 het Hans Strijdom ’n toernooi deur Australië onderneem wat Hansen ook meegemaak het. Die Suid-Afrikaners het Sonskynkus se tien-aan- ’n-kant-toernooi deelgeneem en as kampioen uit die stryd getree.
Voor die toernooi het die span aan die voormalige Wallaby Barry Honan se Goue Kus Rugby-karnaval deelgeneem.
Hans Strijdom het derde geëindig. Nieu-Seeland se Kelston Boys’ High het gewen.
“Nieu-Suid Wallis se plattelandse span het ons om die tweede plek uitgestof. Hulle het die toekomstige Wallaby Adam Ashley-Cooper in hul geledere gehad.”
Vasvra-kampioen
Hansen was in 1973 die wenner van die Radio Suid-Afrika se vasvraprogram Kontant met Kennis. Hy het Peet van Staden, wat vir 27 jaar ’n senior lid van die SAUK se televisienuusredaksie was, in die eindronde uitgestof.
“My pa moes altyd drie koerante koop, want ek en my twee broers het dit verslind. Ek het veral die rugbyrubriek in die Landstem ‘Die man wat weet’ opgeslurp,” sê Hansen.
Sy belangstelling in rugby isdeur ’n boek as geskenk deur sy pa aangeblaas. “Ek het van agtjarige ouderdom ’n ongekende belangstelling gehad. My pa het het vir my ’n boekie gekoop wat al die Springbok-spanne van 1891 tot 1955 ingehad het.”
Hansen kry gereeld oproepe van oor die land heen waar mense hom probeer vasvra of van sy onuitputbare kennis van die geskiedenis van veral rugby gebruik maak.
In 1975 het Hansen saam met ’n vriend Willie Slabbert, wat later hoof van Hoërskool Overvaal geword het, vir Noord Transvaal in die Radio Curriebeker verteenwoordig. “Ons het teen Transvaal in die eindstryd met ’n halwe punt verloor.” Dié nederlaag was teen die bekende rugbyskrywer Quintus van Rooyen en Derek Hay.
Hansie-week
Die grootste rugbyweek ter wêreld is na Hansen vernoem.
Die Mauritz Hansen-week, wat volgende jaar die 25ste agtereenvolgende jaar deur die Hoërskool Hans Strijdom aangebied sal word, is die grootste rugbyweek wat die aantal spanne betref wat jaarliks in aksie is. Jaarliks neem meer as 70 spanne aan die week deel.
Tydens 2008 se toernooi het ’n ongelooflike 82 spanne in Mookgophong saamgetrek. Die Hansie-week, soos dit bekend staan, is in 1993 onder Hansen van stapel gestuur. Die afgelope twee jaar is ’n o.19-span gekies ná dié week gekies wat oorsee getoer het. Die span het verlede jaar deur Ierland getoer en het vanjaar sy staal in Italië getoon.
Elardus ErasmusHans Strijdom se hoof van 1965 tot en met 1980, Elardus Erasmus, was daarvoor verantwoordelik dat die skool die eerste, en baie lank die enigste skool in Suid-Afrika, was wat met ’n sintetiese atletiekbaan spog.
Dié baan is in 1978 voltooi en was die enigste skool totdat Noordheuwel in Krugersdorp ook ’n sintetiese baan gebou het.
Ná Erasmus se afsterwe, het Hansen die skool se jaarlikse Top 20-byeenkoms in 1986 na die Elardus Erasmus-gedenkbyeenkoms herdoop.
Geskiedenisman
Hansen is ’n uitsonderlike geskiedkundige en het sy graad in geskiedenis aan die Universiteit van Pretoria behaal.
Twee boeke het uit sy pen verskyn. “Hulle het voorgeloop” is ’n boek oor al die hoofde van die Afrikaanse hoërskole in die ou-Transvaal. Die ander boek is “Naboomspruit 1910-2010: Eeu van Genade”.
Hansen was ook sekretaris van die Geskiedenis Werkgemeenskap vir Verre-Noord. Hy was ook ’n lid van die eksamenpaneel, hoofnasiener en ook medeskrywer van die handboekreeks, Geskiedenis vir Suid-Afrikaanse skole.
Só lyk die beste van die bestes van die Hoërskool Hans Strijdom wat die legendariese Mauritz Hansen gekies het:
15 HP Pelser (1986), 14 George Maartins (1997-98), 13 Francois du Toit (198-91), 12 Marinus Ras (1995-96), 11 Albertus Geldenhuys (1986), 10 Renier Potgieter (1989-91), 9 Bennie Nortjé (1990-92), 8 Bennie Riekert (1995-96), 7 Wimpie Bannink (1990-92), 6 Kudu Pretorius (1985-86), 5 Johan van Wyk (1991-92), 4 Chris Clasquin (1978-79), 3 Chris Nel (1978-79), Manna Hendriks (1984-86), 1 Stefan Lombard (1990-92).
- Grey College favourites once again to be crowned Champion of Champions - 2025-09-19
- RUGBY | Grey College – 2025 - 2025-09-18
- Witwarm Wilgies sal Prieska se Gadeija moet hokslaan - 2025-08-30