Maroen Masjien stoom verby ‘Bosch, Boland Landbou ploeg met Biskoppe

Paul Roos Gimnasium het Saterdag wraak geneem op die Tinkie Heyns-veld, nadat Rondebosch Boys’ High in 2022 met 24-12 op hul tuisveld geseëvier het.
Die Maroen Masjien het verlede jaar reeds die bordjies verhang met ‘n sege van 24-7 in Stellenbosch, maar die afgelope naweek se oorwinning van 38-17 sal ekstra soet smaak aangesien hulle dit op ‘Bosch se tuisveld kon vermag.
Beleef al die aksie weer op SuperSport Schools – Registreer nou – Skakel na die wedstryd
Die tuisspan het die kragmeting belowend begin om na 20 minute met 10-0 voor te loop, danksy hul groot slot, Tom Barnard, wat oor kon bars vir die eerste drie en die betroubare skopskoen van losskakel, David Simon. Simon was deurlopend ‘n uitblinker vir Rondebosch en het dikwels die besoekers se druk verlig met sy reuse lynskoppe.
Die manne van Stellenbosch het egter die skroewe aanhou vasdraai en was beloon met ‘n strafdrie kort voor halftyd om die agterstand na 7-10 te laat krimp.
PRG se stewige stut, Oliver Reid, het beïndruk met ‘n paar kragtige stormlopies waarmee hy sy span op die voorvoet kon kry, maar ongedwonge foute het die besoekers in die eerste helfte duur te staan gekom.
Na die omdraaislag het Riley Norton en sy makkers egter die tempo gelig. Hulle het die voortou geneem met ‘n onkeerbare dryfmaal, voordat Gert Kemp ‘n verdediger summier onderstebo geloop het vir die eerste van sy twee drieë. Dit het die telling op 21-10 in die besoekers se guns te staan gebring.
Dylan Miller het sy ore platgetrek en ‘n uitstekende lyn gehardloop om nog ‘n slag terug te slaan vir Rondebosch, maar sy direkte opponent, Matthew Seymore, het dit uitgeskakel met ‘n drie van sy eie.
‘n Rooi kaart aan Rondebosch en nog drieë deur Kemp en die breker agsteman, Reuben Kruger, het uiteindelik ‘n gemaklike oorwinning aan Paul Roos besorg.
Die Stellenboschers se lostrio was die groot doring in die vlees van die tuisspan. Kemp, Norton en Kruger was deurgaans aan die spits van Paul Roos se aanvalle, terwyl skrumskakel, Adeeb Boraine, ook lewendig vertoon het agter die skrum.
Volgende naweek ontvang Paul Roos vir ‘n gekweste Hoër Jongenskool Paarl op die Markötter, nadat Boishaai die naweek vir die eerste keer in 36 jaar teen Wynberg Boys’ High verloor het, en dit boonop op hul tuisveld.
Boishaai het egter al vanjaar gewys dat hulle oor meer as genoeg skietgoed besit om enige span die loef af te steek, dus kan Paul Roos nie bekostig om hulle te onderskat nie.
In Kaapstad het Boland Landbou vir Diocesan College op die Piley Rees-veld met 52-10 pakslae gegee.
Losskakel, Retagen van Rooi, het eiehandig 22 punte, wat ‘n tweekuns ingesluit het, bygedra, terwyl Heinrich Bezuidenhout ook twee keer agter die doellyn gaan kuier het.
Alex Smith het die Biskoppe se enigste drie gedruk.
Puntemakers:
Paul Roos Gimnasium 38 (10) – Drieë: Gert Kemp (2), Reuben Kruger, Matthew Seymore, Gerrit van Vuuren, Strafdrie. Doelskoppe: Joshua Dampies (3). Rondebosch Boys’ High 17 (7) – Drieë: Tom Barnard, Dylan Miller. Doelskop: David Simon (2). Strafdoel: Simon.
Boland Landbou 52 – Drieë: Retagan van Rooi (2), Heinrich Bezuidenhout (2), Sydney Blaauw, Kody Nell, Hans Verster, Enslin Claasen. Doelskoppe: Van Rooi (6). Diocesan College 10 – Drie: Alex Smith. Conversion: Lucca Mynhardt. Strafdoel: Mynhardt.
Ander tellings:
o. 19 – Paul Roos II 22, Rondebosch Boys’ High 7; Paul Roos III 68, Rondebosch Boys’ High 0; Paul Roos IV 26, Rondebosch Boys’ High 0; Paul Roos V 74, Rondebosch Boys’ High 3; Boland Landbou II 41, Diocesan College II 0; Boland Landbou III 31, Diocesan College III 10; Boland Landbou IV 24, Diocesan College IV 7; Boland Landbou V 75, Diocesan College V 0.
o. 16 – Paul Roos 49, Rondebosch Boys High 12; Paul Roos B 52, Rondebosch Boys’ High B 7; Paul Roos C 70, Rondebosch Boys’ High C 3; Diocesan College 14, Boland Landbou 14; Boland Landbou B 10, Diocesan College B 0; Diocesan College C 38, Boland Landbou C 10.
o. 15 – Rondebosch Boys’ High 26, Paul Roos 8; Paul Roos B 26, Rondebosch Boys’ High B 0; Paul Roos C 28, Rondebosch Boys’ High C 0; Paul Roos D 74, Rondebosch Boys’ High D 0; Boland Landbou 36, Diocesan College 0; Boland Landbou B 40, Diocesan College B 3; Boland Landbou C 43, Diocesan College C 0; Boland Landbou D 32, Diocesan College D 7.
o. 14 – Paul Roos 36, Rondebosch Boys’ High 0; Paul Roos B 26, Rondebosch Boys’ High B 0; Paul Roos C 64, Rondebosch Boys’ High C 0; Paul Roos D 106, Rondebosch Boys’ High 0; Boland Landbou 31, Diocesan College 12; Boland Landbou B 48, Diocesan College 7; Boland Landbou C 18, Diocesan College C 0; Boland Landbou D 53, Diocesan College D 0.