SuperSport Schools Plus

SSS_logo_Cricket

Marais Viljoen begin HJS Krieketfees met sege oor Gimmies

By Willem Louw , in Cricket | Featured Cricket | News , at 2024-01-12 Tags: , ,

Die Hoërskool Marais Viljoen het hul aanslag by die eerste dag van die Hoër Jongenskool Paarl se Krieketfees op ‘n sterk noot begin toe hy vir Paarl Gimnasium met twee paaltjies kon klop.

Volg die aksie regstreeks op SuperSport Schools – Registreer nou Skakel na die toernooi

Tiaan Kuhn het vroeg in die wedstryd die eerste bloed getrek vir die besoekers, maar Marinus Daling se beurt van 75 het sy span weer op die voorvoet gesit.

Charles King kon ook 54 lopies bydra voordat Ryan Montanus hom uitgevang het, maar die res van die Gimmie kolwers het gesukkel om enige momentum te bou. Montanus en Ruben Kruger kon elk twee paaltjies vat en Nathan Coleske kon ook ‘n paaltjie en twee vangskote neem om te help om die Paarl span tot 198 te beperk.

Coleske was verlede jaar ook by die jaarlikse toernooi in die Paarl ‘n uitblinker en kon vyf paaltjies teen Brackenfell insamel vir die verlies van slegs 13 lopies.

Na Marais Viljoen eers gestruikel het tot 46-3 kon Aldré Huyzers weer op sy beurt vir die span van Alberton ‘n platform bied om die nodige telling af te jaag. Huyzers het 77 lopies teen meer as ‘n lopie per bal aangeteken en, ondanks uitmuntende boulwerk deur Gimmies se Zheemo Isaacs om vier belangrike paaltjies vir slegs 18 lopies plat te trek, het Coleske en Jaden Govender goed kombineer om die ‘n wen op die eerste dag aan die besoekers te besorg.

Hans Moore het hul spiere gebult in hul wedstryd teen Diamantveld, met ‘n onoorwonne 112 lopies vir Warren Minnaar en ‘n verdere 76 en 41 deur Aiden en Kenan Shaw om 288/6 aan te teken voordat hulle besluit het om vir Diamantveld te laat kolf.

Luhan de la Rey en Simon Liversage het die aanslag vir Diamantveld gelei met drie paaltjies elk, maar Minnaar en kie was deurlopend in beheer van die spel.

Na ‘n reeds indrukwekkende kolfbeurt het Kenan Shaw toe ook met die bal beïndruk. Shaw kon vyf Diamantveld-kolwers se paaltjies laat kantel in die eerste beurt, en toe nog drie plat trek in hul tweede beurt om ‘n indrukwekkende oorwinning met 161 lopies vir sy span te verseker.

Marius du Plessis het ses paaltjies teen Noord-Kaap neem, sy spanmaat, Gunther Schmidt kon ook drie van die Northerns se kolwers terugstuur kleedkamer toe om hul beurt kort te sny op 149.

Dit kon selfs ‘n moeiliker situasie vir die besoekers wees as dit nie was vir Junaid Jacobs wat 94 lopies kon aanteken in 177 aflewerings nie. Schmidt kon uiteindelik van die gevaar wat Jacobs getoon het onslae raak, net voor hy sy 100-tal kon behaal.

Die Boland Landbou manne kon die telling gemaklik afjaag binne 36 beurte, met ‘n sterk vertoning deur Jan-Albert van Niekerk om 63 aan te teken.

Stellenberg se Lohann Pretorius het uitstekend geboul en vyf paaltjies vir slegs 10 lopies geneem teen Montana.

Met ‘n lae telling van 133 om te jaag kon Kyle van Stanten se onoorwonne beurt vir 54 lopies die trotse span van die noordelike voorstede gemaklik oor die lyn sien vir ‘n oorwinning in hul eerste wedstryd by die jaar se byeenkoms.

Hoërskool Bellville se eerste wedstryd was nie so maklik nie. Nadat Ethan Smith en Dylan Potgieter vir Noordheuwel tot ‘n sterk telling van 225 gelei het kon Ruan Strauss (5/17) en Sage Pretorius (3/26) verwoesting saai onder die Kapenaars se kolwers om hulle 111 lopies kort van hul doelwit uit te boul, daar was egter nie genoeg tyd om die tweede beurt af te handel nie en die wedstryd eindig amptelik onbeslis,

Die aksie begin weer Vrydag oggend nege-uur waneer HJS vir Garsfontein aandurf, en Paarl Gimnasium die eerste dag se nederlaag agter die rug sit en vir Noordheuwel die stryd aansê.

Beknopte telkaarte | Dag  1

Paarl Gimnasium 198 (Marinus Daling 75, Charles King 54, Jandré Botha 20; Ruben Kruger 2/6. Ryan Montanus 2/18); Marais Viljoen 199/8 (Aldré Huyzers 77, Jaden Govender 39, Nathan Coleske 35*, Tyron Bouw 29; Zheemo Isaacs 4/18). Marais Viljoen wen met twee paaltjies.

Hans Moore eerste beurt 288/6 (Warren Minnaar 112*, Aiden Shaw 76, Kenan Shaw 41, Stephan Vermaak 30*; Luhan de la Rey 3/50, Simon Liversage 3/105); Diamantveld eerste beurt 100 (Nathan Baird 21*, Simon Liversage 20; Kenan Shaw 5/22, Warren Minnaar 2/2); Hans Moore tweede beurt 27/0 (Warren Minnaar 13*); Diamantveld tweede beurt 54/5 (Simon Liversage 27; Kenan Shaw 3/37). Hans Moore wen met 161 lopies.

Noord-Kaap 149 (Junaid Jacobs 94, Dihan Janse van Rensburg 32; Marius du Plessis 6/52, Gunther Schmidt 3/23); Boland Landbou 150/4 (Jan-Albert van Niekerk 63; Lohann Louw 37; Yazeed Kajee 2/43). Boland Landbou wen met ses paaltjies.

Montana 133 (Luca Bairos 31, Ekstras 30, Luhan Theunissen 22; Lohann Pretorius 5/10, Jan Jak Alberts 2/25, Gerrad Kamalie 2/37); Stellenberg 134/4 (Kyle van Stanten 54*, Arno Koen 35; Malan du Toit 2/11). Stellenberg wen met ses paaltjies.

Noordheuwel eerste beurt 225 (Ethan Smith 47, Dylan Potgieter 43, Corné Botha 34, Extras 20; AD van der Westhuizen 3/42, Ruald Coetzee 2/20, Janno Junas 2/36); Hoërskool Bellville eerste beurt 114 (Onke Mazitshana 28, Chris Roets 22; Ruan Strauss 5/17, Sage Pretorius 3/26) Noordheuwel tweede beurt 73/1; Hoërskool Bellville tweede beurt 32/4. Onbeslis.

error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.