SuperSport Schools Plus

Manjifieke Meyer Mbombela se held

By Franco Oberholzer , in Rugby | Featured Rugby | News , at 2024-07-13 Tags: , , , ,

FOTO: Riaan de Bruyn

NELSPRUIT – Theuns Meyer het Mbombela aan die brand geskop om Hoërskool Nelspruit na ‘n geskiedkundige sege oor Hoërskool Garsfontein te lei.

Herleef al die aksie op SuperSport Schools(www.supersportschools.com)

Die Nellie Rhino’s se losskakel het sy staal getoon deur 15 punte vanaf die skopkegel aan te teken in sy span se sege van 30-29 oor die Bere. Meyer het drie doelskoppe en drie strafdoele deur die pale geklits vir die helfte van sy span se totaal.

Die SDC Noordvaal Cup se Beker-afdeling is besig om in ‘n uiters interessante wedloop te ontwikkel, verál na die Bere se nederlaag. Die Nellies se groot name het hand opgesteek, met senter en kaptein, Ian Wood, uitstaande in die middeveld. Wood se bedrieglike voetwerk en vaart het die Bere se binnesenter en kaptein, Luann Olivier, deurgaans aan die raai gehou.

Olivier was op sy beurt een van die besoekers se uitblinkers, met sy bereidwilligheid om reguit te maak op die aanval wat telkemale vrugte afgewerp en die Bere oor die voordeellyn help kry het.

Dit was egter voorlangs waar die Rhinos die meeste beïndruk het. Dit was ‘n wonder dat agtsteman, Vaughn van Zyl, self nog van die veld kon loop, aangesien hy, soos op die Cravenweek, sy lyf op die spel geplaas het. Sy verdediging was uit die boonste rakke en hy het die Garsies deurentyd gekasty met kragtige dryfspel, wat ook aan hom ‘n drie besorg het.

Oopkantflank, Banele Ngwenya, was ‘n doring by die afbreekpunte en het keer op keer die Garsies se bal ontwrig om hul momentum te stuit.

Die Bere het egter nie gaan lê nie. Die besoekers het in die tweede helfte goeie ritme bewerk deur klipharde voorspelerspel wat die Rhinos effens onkant betrap het. Oopkantflank, Stephan Pretorius, was vernaam genadeloos op die aanval en verantwoordelik vir een van sy span se vyfpunters.

FOTO: Tap Light Edits

In Pretoria het Hoërskool Dr. Eg Jansen sy stempel verder afgedruk deur vir die tuisspan, Hoërskool Menlopark, met 62-22 af te ransel.

Innoverende spel tussen voor- en agterspelers het gelei tot 13 drieë aan die kant van die Arende, waarvan die Jansies se slot, Gerhard van Aswegen, vir die soveelste keer vanjaar twee gedruk het.

Losskakel, Matthew Bergman, en buitesenter, Juandre Jacobs, het deeglik gebruik gemaak van dié stewige grondslag, en het ‘n aandeel in ‘n hele paar drieë gehad.

Die Parkies se treurmare het in die tweede helfte toegeneem. Nadat hulle teen rustyd slegs 11 punte agter was, is die krane oopgedraai in die laaste 35 minute en het die Jansies nóg 36 punte teen sewe aangeteken.

Die Parkies het in die eerste helfte soms aanskoulike hardlooprugby gespeel en die Jansies dikwels laat omdraai met netjiese aanvalslyne en taktiese skopwerk deur losskakel, Logan Botha, en skrumskakel, Gustav Schaffner. Heelagter, Reinhardt Herbst, se strafdoel van sowat 50 meter was ook ‘n hoogtepunt vir die tuisskare.

Puntemakers: 

Hoërskool Nelspruit 30 (29) – Drieë: Banele Ngwenya, Vaughn van Zyl, Ian Wood. Doelskoppe: Theuns Meyer (3). Strafdoele: Meyer (3). Garsfontein 29 (0) – Drieë: Ethan van Wyk, Stephan Pretorius, Ruan Enslin, Thinus Oosthuizen, Brooklyn Newman. Doelskoppe: Junade Pasensie (2).

Dr. EG Jansen 62 (26) – Drieë: Gerhard van Aswegen (2), Divan Francis (2), Marco Ventura (2), Duwan Potgieter, Matthew Bergman, Jean-dre Claasen, Zandre Naude. Menlopark 22 (15) – Drieë: Gustav Schaffner, Wynand van Wyk, Divan Nel. Doelskoppe: Logan Botha, Reinhardt Herbst. Strafdoel: Herbst.

Ander spanne: 

o.16: Garsfontein 32, Hoërskool Nelspruit 17; Menlopark 37, Dr. EG Jansen 17.

o.15: Garsfontein 33, Hoërskool Nelspruit 8; Menlopark 29, Dr. EG Jansen 19.

o.14: Garsfontein 19, Hoërskool Nelspruit 6; Menlopark 24, Dr. EG Jansen 13.

Franco Oberholzer
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.