Luiperds sal titel teen Rooikatte in die eindstryd van VKB-week verdedig
Na die tweede dag van die VKB Platteland Rugbyweek te Hoërskool Reitz is dit weer die Luiperds en die Rooikatte wat uitstaan bo die kompetisie.
Die twee spanne speel Woensdag in die hoofwedstryd in ‘n herhaling van verlede jaar, toe die Luiperds met 24-17 die Rooikatte kon mak maak.
Die wedstryde is beskibaar op SuperSport Schools – Registreer nou
In die hoofwedstryd van die tweede dag moes die Luiperds eers ‘n opgewekte NKZN aanval absorbeer voordat die damwal gebars het.
Tot diep in die tweede helfte was dit slegs die Hoërskool Vryburg se haker, Marco van den Berg, se drie vir die Luiperds wat die twee spanne geskei het op 11-6.
Nadat hulle eers baie druk van die Lammergeiers moes absorbeer was dit weer die Luiperds se uitblinker agsteman, Dries Scheepers, wat die deurbraak gemaak het vir sy span.
Scheepers was Saterdag ook onmisbaar en kon drie drieë druk in hul 59-7 oorwinning teen Zululand. Na nog twee drieë vandag het die agsteman van Lichtenburg op die oomblik die meeste drieë in die toernooi agter sy naam.
Die Rooikatte verdien hul plek in die hoofwedstryd na hul 50-21 sege teen ‘n sterk Pumas span.
Hul opwindende heelagter van Midstream College, Jordan de Leeuw, was op sy stukke en kon twee drieë druk.
Die groot Rooikat senter van Curro Hazeldean, Tshepo Hlungani, wat in die nommer sewe trui speel omdat die agterlyn truie nie voorsien vir ‘n man met sy bou nie, het ook ‘n pragdrie bygedra.
Die Luiperds lyk goed ingerig om hul kampioenstatus te verdedig, maar die Rooikatte sal ander planne vir Woensdag se wedstryd hê.
Zululand het hul staal gewys toe hulle kon terugkom nadat hulle halftyd nog 22-10 agter was om 36-22 teen Oos-Vrystaat te wen.
Hul agsteman, Emile Erasmus, van Richardsbaai het in die laaste vyf minute gedruk om vir Zululand die voordeel te gee wat hulle kon beskerm tot die eindfluitjie blaas.
Caleb Picton, die hardwerkende agterlynspeler van Felixton College het uitgestaan in daardie kragmeting en is as speler van die wedstryd gekies.
Die Barbarians is die derde span wat nog onoorwonne is nadat hulle met die SKZN span kon afreken (36-24).
Urban Pienaar, hul vleuel van Goudveld af, was op ‘n vlak van sy eie en kon ‘n driekuns aanteken teen die Suid-Natal span.
As die Barbarians Woensdag teen die Griekwas kan wen sal dit slegs hulle en die kampioene wees wat die byeenkoms onoorwonne verlaat.
Dinsdag neem die spanne almal deel aan ‘n sewestoernooi. Die spelers sal dan ook die kans kry om ‘n plek te verdien in die Platteland sewes-span wat in Dubai gaan meeding.
Puntemakers:
Luiperds 36 (11) – Drieë: Dries Scheepers (2), Marco van den Berg, Hanco Halgryn, PW Smit. Doelskop: Zander Ackerman. Strafoelle: Albert Joubert (2), Ackerman. NKZN 6 (6) – Strafdoelle: Kyle Barsdorf (2).
Rooikatte 50 (26) – Drieë: Jordan de Leeuw (2), Anru Cronje, JJ Steenkamp, Xander Senekal, Tian Pretorius, Justin Hattingh, Tshepo Hlungwani. Doelskoppe: De Leeuw (5). Pumas 21 (7) – Drieë: Delron Cyster, Bonolo Mtsweni, Lux Bulala. Doelskoppe: Minenhle Mtsweni (3).
Barbarians 36 (24) – Drieë: Urban Pienaar (3), Tyrece Britz, Daniel Meintjies, Nico van Rensburg. Doelskoppe: Juan Theunissen (2), Dries Stemmet. SKZN 24 (10) – Drieë: Langelihle Vezi (2), Jethro Alexandre. Doelskoppe: Eben Botes (3). Strafdoel: Botes.
Zululand 36 (10) – Drieë: Jarred Builherme, Ruhandre van Heerden, Kyle Hulley, Elijah Botha, Joshua van Schalkwyk, Emile Erasmus. Doelskoppe: Van Heerden (3). Oos-Vrystaat 34 (22) – Drieë: Letlotlo Mohale, Prince Selikane, Lebohang Nteo, Koketsa Mnumzana, Lefa Lehalehale. Doelskoppe: Tebello Kabi (2), Janco Swart. Strafdoel: Kabi.
Sandveld 31 (7) – Drieë: Johan Jordaan (2), Braam Madden, Janru Struwig. Doelskoppe: Alex du Pisani (3), Jordaan. Strafdoel: Du Pisani. Kiewiete Platteland 17 (3) – Drieë: Bin Laden Macholo, Divan Bekker. Doelskoppe: Licha Leballo (2). Strafoel: Leballo.
Griekwas 17 (7) – Drieë: Eugene Makubedu, SW van Heerden. Doelskoppe: Junaid Jood. Strafdoel: Jood. Vrystaat Kiewiete 17 (12) – Drieë: Sterling Batties, Divan Greyling, Raymond Vers. Doelskop: Batties.
Bepalings:
Dinsdag (sewes): 15:00 – Barbarians t. NKZN; 15:20 – SKZN t. Oos-Vrystaat; 15:40 – Kiewiete Platteland t. Luiperds; 16:00 – Pumas t. Sandveld; 16:20 – VS Kiewiete t. Griekwas; 16:40 – Rooikatte t. Zululand.
Woensdag: 08:00 – Kiewiete Platteland t. Oos-Vrystaat; 09:20 – VS Kiewiete t. SKZN; 10:40 – Zululand t. Sandveld; 12:00 – Barbarians t. Griekwas; 13:20 – Noord-Natal t. Pumas; 14:40 – Luiperds t. Rooikatte.