SuperSport Schools Plus

Luiperds, Rooikatte en Pumas grom hardste op eerste dag van die VKB-week

By Willem Louw , in Rugby | News , at 2023-07-02 Tags:

VKBDie Suid KwaZulu-Natal-span het hul veldtog by die VKB Platteland-week op ‘n goeie noot begin toe hulle die tuisspan, Oos-Vrystaat, met 24-17 op die eerste dag kon afien.

Al die wedstryde is beskikbaar op SuperSport SchoolsRegistreer nou

Ondanks ‘n opwindende terugvegpoging deur die Oos-Vrystaat spelers het hulle teveel ongedwonge foute in die eerste helfte begaan en die seuns van Suid KwaZulu-Natal kon hulle daarvoor straf en ‘n tien punt voorsprong bou teen rustyd.

Die besoekers was gelei deur hul generaal, Eben Botes. Die losskakel van Hoërskool Suid-Natal in Port Shepstone het die spel beheer met sy skopskoen en sy span se aanval goed bestuur waneer hy die bal versprei.

Vir Oos-Vrystaat het sy lewendige skrumskakel van Ladybrand, Justin Haakonsen, uitgestaan en hy kon twee drieë druk, maar dit was ongelukkig vir die Vrystaters te min, te laat.

Sy direkte teenstander vir SKZN van Kingswood, Lathu-Tha Fikeni, het ook gewys hoe veelsydig hy is toe hy na rustyd na die vleuel posisie skuif en ook ‘n drie agter sy naam kon kry.

Haakonsen en sy spanmaats het onlangs nog teen mekaar uitgedraf in die Oos-Vrystaat liga se kwarteindstryd, en baie van hulle sal weer binnekort mekaar moet aanpak in die halfeindstryd. Hulle het in die laaste vyf minute gewys waartoe hulle in staat is waneer hulle saam speel toe Lebohang Nteo van Retief, wat as ‘n plaasvervanger in die agterlyn opgekom het, ‘n skitterende spandrie kon afrond.

Verlede jaar se kampioene, die Luiperds, het hul week ook sterk begin met 59-5 sege oor Zululand in die eerste wedstryd van die dag. Hul groot agsteman van Lichtenburg, Dries Scheepers, was onstuitbaar en kon ‘n driekuns van drieë aanteken.

Albei spanne se losskakels, Albert Joubert van Lichtenburg en Zander Ackerman van Vryburg, het ook baie goed gelyk in daardie wedstryd.

Nog ‘n agsteman wat amok gemaak het is Matthew Zondach van Ferrum. Hy kon ook drie drieë druk vir NKZN teen die Platteland Kiewiete in hul 40-10 oorwinning.

Sandveld se agsteman, Janro Struwig, van Bultfontein, het al sy span se punte aangeteken in hul 59-10 nederlaag teen die Rooikatte.

Rooikatte het verlede jaar in die eindstryd 24-17 teen die Luiperds verloor, en hulle lyk ook asof hulle hierdie jaar een van die gevaarlikste spanne is.

Hul losskakel, JJ Steenkamp, van St Albans College, het ook ‘n driekuns aangeteken en sy haker en skoolmaat, Luke Webber, was ook op topvorm.

Hul heelagter van Midstream College, Jaedon de Leeuw, het ‘n uitstekende wedstryd beleef en kon sewe van hul nege drieë verdoel.

Die Barbarians het in die ware gees van hul naamgenote ook onverwags as een van die spanne uitgekom wat lyk asof hulle kan aanspraak maak op die titel.

Hierdie groep het gister eers bymekaar gekom en het nog net een oefensessie agter die rug, maar die seuns en afrigtingspan het daardie tyd klaarblylik baie effektief gebruik.

Hulle het in een van die hardste wedstryde van die dag met 28-22 teen die Vrystaat Kiewiete gewen.

Juan Theunissen, die Barbarians se losskakel van Voortrekker, se visier was ingestel en hy kon al vier van sy span se drieë verdoel.

Hul agsteman, Daniel Meintjies, van Witteberg was orals op die veld betrokke en het ‘n drie as beloning vir sy harde werk gekry.

Na die koring op die eerste dag van die kaf geskei is beloof Maandag se wedstryde om nog harder te wees, waneer die spanne meeding vir ‘n plek in die hoofwedstryd Woensdag.

Daar is egter nog steeds meer as genoeg rede vir al die seuns om hul uiterste bes te lewer die week, aangesien daar weer aan die einde van die byeenkoms ‘n span gekies gaan word wat die Platteland in Frankryk gaan verteenwoordig, asook ‘n sewes-span, na afloop van Dinsdag se sewes-toernooi, wat in Dubai gaan deelneem.

Verlede jaar se Speler van die Toernooi, die Midstream College flank, Tian Pretorius, wat vir die Rooikatte uitgedraf het, speel tans in Amerika vir The University of Mary in Washington.

Puntemakers: 

SKZN 24 (17) – Drieë: Lodewyk Marais, Marthinus Fritz, Lathu-Tha Fikeni. Doelskoppe: Eben Botes (3). Strafdoel: Botes. Oos-Vrystaat 17 (7) – Drieë: Justin Haakonsen (2), Lebohang Nteo. Doelskop: Janco Swart.

NKZN 40 (19) – Drieë: Matthew Zondagh (3), Ndumiso Ndlovu, Tyler Jonck, Pieter Pretorius. Doelskoppe: Wandile Ndlamgamandla (3), Kyle Barsdorf (2). Platteland Kiewiete 10 (5) – Drieë: Markus Allerston, Bin Laden Macholo.

Pumas 44 (27) – Drieë: Lux Bulala (2), Dullon Venter, Lyle Johst, Walt Stander, Hermanus Robberts, Taku Tanderera. Doelskoppe: Sandile Motha, Minenhle Mtsweni. Griekwas 26 (14) – Drieë: Jerome Davids, SW van Heerden, Juandre Beebee, Ashrand van Rooi. Doelskoppe: Davids (3).

Barbarians 28 (14) – Drieë: Urban Pienaar, Daniel Meintjies, Marco Grobler, Nico van Rensburg. Doelskoppe: Juan Theunissen (4). Vrystaat Kiewiete 22 (15) – Drieë: Wehan Strydom, Ruan Kruger, Sterling Batties. Doelskoppe: Henré Smith (2). Strafdoel: Smith.

Rooikatte 59 (28) – JJ Steenkamp (3), Luke Webber (2), Zander Wessels, Nkosi Malaza, Jacques Vos, Xander Senekal. Doelskoppe: Jaedon de Leeuw (7). Sandveld 10 (10) – Drieë: Janro Struwig (2).

Luiperds 59 (38) – Drieë: Dries Scheepers (3), Johan Steyn (2), Linda Boyo (2), Herco Jansen van Vuuren, Hanco Halgryn. Doelskoppe: Albert Joubert (4), Zander Ackerman (3). Zululand 5 (0) – Drie: Kyle Hulley.

Maandag se bepalings:

09:00 – Griekwas t. Vrystaat Kiewiete; 10:20 – Sandveld t. Kiewiete Platteland; 11:40 – Zululand t. Oos-Vrystaat; 13:00 – Barbarians t. SKZN; 14:20 – Rooikatte t. Pumas; 15:40 – Luiperds t. NKZN.

 

Willem Louw
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.