Liplekker tweestryd tussen Jooste en Pratt in Riversdal


Die vonke gaan behoorlik Saterdag op die De Eike-veld net buite Riversdal spat wanneer twee van die land se voorste loskopstutte op skoolvlak teen mekaar te staan kom.
Die gasheer, Oakdale Landbou, se Kai Pratt en die besoekers, die Hoër Jongenskool Paarl, se Jordan Jooste sal nou wel nie direk teen mekaar in die skrums sak nie, maar sal met hul vertonings reeds hul aanspraak wil versterk om vanjaar die Suid-Afrikaanse Skole-span se Nr. 1-trui te dra.
Volg al die aksie regstreeks op SuperSport Schools (www.supersportschools). Die wedstryd sal ook op DStv kanaal 216 asook SABC Plus (18:00) uitgesaai word.
Die kragmeting is deel van die King Price Derby Series.
Jooste het reeds verlede jaar na afloop van die Cravenweek in Krugersdorp die SA Skole A-span verteenwoordig. Pratt het ook verlede jaar reeds die Suidwestelike Distrikte op die Cravenweek verteenwoordig en kan met sterk vertonings sy aanspraak versterk.
Jooste is egter die man in die saal, met Jeppe se André Poulton wat ook reeds verlede jaar vir die SA Skole A-span uitgedraf het.
Die Bulle van Oakdale het vanjaar egter ‘n omgesukkelde span wat moontlik die span van die Paarl se onoorwonne status sover vanjaar kan bedreig.
Malan du Plessis (hoofafrigter) het egter vir Oakdale tot seges oor Boishaai in 2018 (47-29) en 2023 (20-17) gebrei. Du Plessis het op sy dag die Blitzbokke verteenwoordig. Die span se aanvalsafrigter, JB Naudé, sal ook gewis ‘n paar planne beraam om die besoekers met die kous oor die kop huis toe te stuur.
Die Hoër Jongenskool Paarl beskik ook oor gedugte afrigtingskorps met Sean Erasmus, David Sadie en Neil de Bruin. Laasgenoemde is die oudste seun van die Springbok vrouespan se afrigter, Swys de Bruin.
Neil is einde verlede jaar as Direkteur van Rugby by Boishaai aangestel. Hy het voorheen in die Leeus se junior strukture afgerig asook in Japan onder andere by die NTT Red Hurricanes.
Die span van die Paarl het nog nie vanjaar die onderspit gedelf nie. Hy het tydens die onlangse NMI Toyota Noord/Suid-toernooi vir Waterkloof (66-0) en die Afrikaanse Hoër Seunskool van Pretoria (25-17) geklop. Hy het ook die seisoen met ‘n sege van 55-19 oor HTS Drostdy op Trappespark in Worcester afgeskop.
Oakdale was vanjaar ook sover drie keer in aksie. Hy het in sy eerste kragmeting in Bloemfontein teen Grey-kollege met 10-25 die onderspit gedelf. Grey is laas in 2017 in die Rosestad verslaan. Die span van Riversdal het daarna tydens die Noord/Suid-toernooi vir Hoërskool Nelspruit (45-12) en Helpmekaar (40-21) die loef afgesteek.
Die spanne is:
Oakdale Landbou: 15 Reinhart Viljoen, 14 Myburgh Eksteen, 13 Anrich Scheffer, 12 Christian Vorster, 11 Lee-Winn Pretorius, 10 CT Vosloo, 9 Tyrese Plaaitjies, 8 Jakobus de Villiers, 7 Liam Lightly, 6 Jannes Snyman, 5 Rico Ferreira, 4 Diaan Augustyn, 3 Francois le Roux, 2 Adrian Smith, 1 Kai Pratt.
Hoër Jongenskool Paarl: 15 Mark Grindlay, 14 Jeneal Davids, 13 Tristan Joubert, 12 Iwan Jordaan, 11 Wian Delport, 10 Francois van der Merwe, 9 Liam de Villiers, 8 Gavie Kok, 7 Steph van der Merwe (kaptein), 6 Wege van Zyl, 5 Jayden Joubert, 4 AD Faul, 3 Juan van der Merwe, 2 Christiaan Grundling, 1 Jordaan Jooste.
Afskop: 14:00
Vorige kragmetings:
nt_header_0 | nt_header_1 | nt_header_2 | nt_header_3 | nt_header_4 | nt_header_5 |
---|---|---|---|---|---|
2024 | Paarl Boys' High | 19 | Oakdale Landbou | 10 | Paarl |
2023 | Oakdale Landbou | 20 | Paarl Boys' High | 17 | Riversdal |
2022 | Paarl Boys' High | 22 | Oakdale Landbou | 15 | Paarl |
2019 | Paarl Boys' High | 42 | Oakdale Landbou | 0 | Riversdal |
2018 | Oakdale Landbou | 47 | Paarl Boys' High | 29 | Paarl |
2017 | Paarl Boys' High | 36 | Oakdale Landbou | 31 | Riversdal |
2016 | Paarl Boys' High | 35 | Oakdale Landbou | 21 | Paarl |
2015 | Paarl Boys' High | 25 | Oakdale Landbou | 19 | Riversdal |
2013 | Paarl Boys' High | 38 | Oakdale Landbou | 10 | Riversdal |
2012 | Paarl Boys' High | 22 | Oakdale Landbou | 7 | Paarl |
2011 | Paarl Boys' High | 24 | Oakdale Landbou | 13 | Riversdal |
2010 | Paarl Boys' High | 39 | Oakdale Landbou | 33 | Paarl |
- Grey College favourites once again to be crowned Champion of Champions - 2025-09-19
- RUGBY | Grey College – 2025 - 2025-09-18
- Witwarm Wilgies sal Prieska se Gadeija moet hokslaan - 2025-08-30