Liplekker-stryd wag tussen Eldoraigne en Menlo
Die Jakarandastad is aan die gons oor die reuse stryd tussen die twee plaaslike skole, Hoërskool Eldoraigne en Hoërskool Menlopark.
Die Eldo’s het ‘n punt om te bewys na hul nederlaag met ses punte teen Hoërskool Middelburg verlede naweek. Dié kragmeting sou die span van Centurion se selfvertroue nietemin ‘n taamlike hupstoot gegee het. Eldoraigne het heelwat durf aan die dag gelê om met mening terug te veg en so hittete ‘n groot opskudding te veroorsaak.
Losskakel, JP Meyer, sal weer sy skopskoen wil inpak. Hy was nie alleen uitstekend vanaf die skopkegel nie, maar het deurentyd ook die groot Middies-pak met slim taktiese skopwerk laat omdraai.
Voorlangs behoort loskopstut, Jayden Niehaus, die Menlo-verdedigers op hul tone hou. Sy dryfspel, veral in gebroke spel, laat ‘n mens nogal terugdink aan dié van Os du Randt, terwyl sy skrumwerk ook uit die boonste rakke is en sal help om sy span op die voorvoet te plaas.
In teenstelling met Eldoraigne, sal Menlopark vir die eerste keer hierdie naweek in aksie wees. Hulle sal vroeg reeds hul stempel wil afdruk met ‘n dominerende vertoning, ter voorbereiding van die Noordvaal-reeks wat later vanjaar afskop. Die voorry, bestaande uit Phillip du Plessis (vaskopstut), Declan Pelser (haker) en Mattheus Prinsloo (loskopstut), sal ‘n belangrike rol hê om te vervul in die vaste fasette.
Agterlangs beskik hul generaal en losskakel, Logan Botha, oor hope spoed aan sy buitekant, en sal hy soveel as moontlik vir Bladen Pieterse (regtervleuel) en Ruben Fourie (buitesenter) in besit wil stel. Divan Nel, heelagter, sal ook sy lippe aflek vir geleenthede om gevaarlike teenaanvalle van agter te loods.
Hoërskool Nelspruit staar ‘n groot toets in die gesig wanneer hulle, op tuisbodem, teen ‘n goed afgeronde Hoërskool Middelburg te staan kom. Albei spanne het suksesvolle eerste uitstapies in vanjaar se seisoen beleef.
Die Nellies se binnesenter, Divan de Kock, hou beduidende gevaar in met die bal in hand. Die Middies sal ook nie enige strafskoppe in hul eie helfte wil afstaan nie, aangesien De kock ook ‘n skerpskutter van formaat is.
Hoërskool Middelburg se vername wapen is losskakel, Matthew Abbey, wat vroeg reeds in die seisoen getoon het dat hy opponente met die stewel kan straf. Voorlangs wag die woelige Khensani Buthelezi (steelkantflank) op die Nellies se pak, en hy sal moeilik gekeer word wanneer hy op loop gaan.
Hoërskool Kempton Park verwelkom vir Hoërskool Dr. E.G. Jansen tuis, en sal hul spiere, met ‘n span wat spog met 12 oorblywende spelers van 2023, wil bult. Preston Smith, die Kempies se klipharde agtsteman, sal weer hul aanslag van agter die skrum loods.
Marko Opperman, wat verlede jaar op binnesenter en losskakel diens verrig het, sal vanjaar die nr. 10-trui sy eie maak, terwyl Joshua Meyer weer op heelagter die Kempies se agterlyn verder sal versterk.
EG Jansen, bekend vir hul groot pakke voorspelers oor die jare, sal staatmaak op hul slotpaar, Zandre Naude en Gerhard van Aswegen, om met hul fisiekheid die harde manne van Kemptonpark voorlangs te probeer sagmaak. Divan Francis maak ook sy terugkeer op steelkantflank.
Matt Bergman, sal die verantwoordelik as generaal op losskakel neem, met, aan sy buitekant, die gevaarlike senterpaar van Steven Williams en Juandre Jacobs.
In ‘n derby wat vir ten minste nog een keer vanjaar op die spyskaart sal wees, verwelkom Hoërskool Transvalia vir die Rooibulle van HTS Middelburg in Vanderbijlpark.
Transvalia spog met 19 oorblywende spelers van 2023, met loskopstut en staatmaker, Dylan Booth, asook Christiaan Liebenberg (slot) en Juan Bishoff (oopkantflank), wat slaggereed is om die Rooibulle te pak.
Agterlangs maak Dylan Steynman sy terugkeer om weer die leisels as losskakel op te neem, met Anro Nagel wat die nr. 9-trui oor sy kop trek om die gevaarlike skakelpaar te voltooi.
Die Rooibulle het ‘n indrukwekkende begin tot hul seisoen beleef deur met ‘n telling van 30-7 met Hoërskool Die Anker, van Brakpan, af te reken. Die ramkatflank, Toy Engelbrecht, maak sy terugkeer vir ‘n tweede jaar om ook die span van Middelburg aan te voer, en behoort waardevolle ondersteuning van slot, Sam Ndwandwe, te ontvang.
In die agterlyn behoort die kookwater senterpaar van Luhan Graaf en Johnny Dos Santos heelwat kopsere vir die Transvalia-verdedigers te besorg.
Die spanne:
Eldoraigne t. Menlopark om 13:00 in Pretoria:
Hoërskool Eldoraigne: 15 Divan van Rooyen, 14 Hendru van Zyl, 13 Hanno Jacobs, 12 Ivan Vermeulen, 11 MJ Buitendag, 10 JP Meyer, 9 Darren Bruwer, 8 Justin Meintjies, 7 SW Liebenberg, 6 Cameron Killian, 5 Juandre Meyer, 4 Rikus Rheerde, 3 Jaco Fourie, 2 Marnus Prinsloo, 1 Jayden Niehaus.
Hoërskool Menlopark: 15 Divan Nel, 14 Bladen Pieterse, 13 Ruben Fourie, 12 Ruben Rudolph, 11 Reinardt Herbst, 10 Logan Botha, 9 Phillipus de Bruin, 8 Rocco Myburgh, 7 JN van Wyk, 6 Nathen du Plessis, 5 Xander Roets, 4 Keagen Pretorius, 3 Phillip du Plessis, 2 Declan Pelser, 1 Mattheus Prinsloo.
Nelspruit t. Hoërskool Middelburg om 12:20 in Nelspruit:
Hoërskool Nelspruit: 15 Christiaan van Deventer, 14 Tinyiko Silubane, 13 Ian Wood, 12 Divan de Kock, 11 Jordan Pretorius, 10 Theuns Meyer, 9 Liam Pringle, 8 Vaughn van Zyl, 7 Bradley Claasen, 6 Tiaan de Beer, 5 Arrie Raath, 4 Banele Ngwenya, 3 Gert Cloete, 2 Regard Vermaak, 1 Siya Gama.
Hoërskool Middelburg: 15 Le Roux French, 14 Janco Erasmus, 13 Eckard Marx, 12 Marko Mulder, 11 Jacques Greyling, 10 Matthew Abbey, 9 Crawfrod Joubert, 8 Jabu Mathebula, 7 Khensani Buthelezi, 6 CW Hanekom, 5 Joseph Loretz, 4 Rogan van der Walt, 3 Wandisa Mthombeni, 2 Roux Grobler, 1 Wian Olwagen.
Kemptonpark t. Dr. E.G. Jansen om 12:30 in Kemptonpark:
Hoërskool Kemptonpark: 15 Joshua Meyer, 14 Wian Riekert, 13 Tian Aucamp, 12 Tiaan Delport, 11 Vaughn Fouche, 10 Marko Opperman, 9 Ryan Smith, 8 Preston Smith, 7 JP Barnard, 6 Armandt Botha, 5 Luann Schreuder, 4 JP Roos, 3 Zander Luckay, 2 Deon Mulligan, 1 Aiden Nepgen.
Hoërskool Dr. E.G. Jansen: 15 R-Jay Peterson, 14 Jeandre Claassen, 13 Juandre Jacobs, 12 Steven Williams, 11 Keanu van Loggerrenberg, 10 Matt Bergman, 9 Riekus van der Merwe, 8 Storm Labuschagne, 7 Divan Francis, 6 Zaide-Lee Rippenaar, 5 Zandre Naude, 4 Gerhard van Aswegen, 3 Duwan Potgieter, 2 Danre Pike, 1 Zian Marais.
Transvalia t. HTS Middelburg om 13:45 in Vanderbijlpark:
Hoërskool Transvalia: 15 Tsepho Molakeng, 14 Kyle Esterhuyzen, 13 Siyabonga Khambula, 12 Brandonlee Smit, 11 Nkanyiso McCamel, 10 Dylan Steyman, 9 Anro Nagel, 8 Wynand Stols, 7 Daniel Kazuambu, 6 Juan Bishoff, 5 Christiaan Liebenberg, 4 Vincent Brits, 3 Stiaan Breedt, 2 Jaydan McPhearson, 1 Dylan Booth.
HTS Middelburg: 15 Jaque Stassen, 14 Chris Skosane, 13 Johnny Dos Santos, 12 Luhan Graaf, 11 Dandre Oosthuizen, 10 WJ Enslin, 9 Reece Botha, 8 Tercuis Bezuidenhout, 7 Antonie Smuts, 6 Toy Engelbrecht, 5 Sam Ndwandwe, 4 Kagiso Mabizela, 3 Kagiso Gumbi, 2 Hanro Terblanche, 1 Dirk du Plooy.