SuperSport Schools Plus

Liplekker-stryd wag in Pretoria

By Franco Oberholzer , in Cricket | News , at 2024-02-09 Tags: , , , , ,

Die derde-ronde stryd tussen die twee Pretoriaanse skole, Midstream College en Hoërskool Zwartkop, behoort toeskouers Saterdag op die punte van hul stoele vasgenael te hou.

Die onoorwonne Midstream sal die wedstryd as gunstelinge betree. Die span van Midrand is inderdaad uitstekend op dreef, met hul aanvangsbouler, Xander Senekal, wat oudergewoonte die boulaanslag sal lei.

Senekel, pas na sy vyftal paaltjies teen die Hoërskool Ben Vorster verlede naweek, sal sy verwoede ritme teen die Zwarries wil voortsit.

In die kolfdepartement kan dinge nie veel beter gaan nie. Meeste van die Midstream-kolwers is op vorm, met Jeandre Lourens wat uitstaan. Die voorslagkolwer se paaltjie sal ongetwyfeld in die Zwarrie-boulaanval se visier wees.

Aan die Zwarries-kant sal die bestendige Nicholas Conradie poog om Senekal en kie onder druk te plaas. Conradie het tot dus ver vuurwarm vertoon met die kolf, en is die span van Centurion se sleutel to sukses.

Conradie sal hoop dat Wihan Gelderblom ook sy goeie spelpeil van die vorige twee rondes kan voortsit. Wat die boulwerk betref, sal Rowan McLaren vroeg-vroeg sy klas wil tentoonstel en ‘n beduidende rol speel om die imponerende Midstream-kolflys onder druk te plaas.

Hoërskool Pietersburg pak Saterdag weer die langpad aan wanneer hulle teen Hoërskool Lichtenburg in Lichtenburg te staan kom. Albei spanne lek nog wonde na nederlae in die vorige ronde.

Die Pieties sou egter heelwat selfvertroue uit sy vertoning teen Zwartkop geput het. Die jongeling, Andreas Jansen, het lekker ritme gevind met die bal en sal Saterdag daarop wil voortbou.

Die Pieties se uitstaande bouler, Hanno van Zyl, beleef tot dusver ‘n indrukwekkende reeks met die bal. Die veelsydige speler sal egter graag ‘n bestendige bydrae met die kolf ook wil lewer.

Die kaptein, Nicholaas Oerlemans, sal die sukkelende begin tot die reeks agter hom wil plaas, en daarop uit wees om ‘n waardevolle bydrae met die kolf te lewer.

Die Liggies se vurige Ona Senokwane wag die Pietie-kolwers met hope selfvertroue in. Senokwane was die Liggies se keurbouler in die afgelope twee rondes.

Sy kollega, Lethabo Memani, het ‘n taamlike rol om te vervul met sowel die bal as kolf. Memani se boulwerk het deur die loop van die reeks beïndruk, en die alsydige speler sal sy kolf ook wil laat praat. Dit sal vir Douw Jacobs, die Liggies se topkolwer, heelwat ondersteuning bied.

Marais Viljoen reis na Tzaneen waar hulle vir die Hoërskool Ben Vorster die stryd aansê. Dit behoort ‘n taamlike toets vir die Tzaneeners te bied, aangesien Marais Viljoen na drie rondes steeds onoorwonne is en dit blyk nie of die span van Alberton enige planne het om spoedig te verloor nie.

Hul aanvangskolwer, Tyron Douw, het sy ritme gevind met ‘n uitmuntende honderdtal teen die Liggies . Die gevaarman, Nathan Coleske, het homself ook weer onder die lopies bevind.

Die Vossies se groot uitdaging sal kom wanneer die draaier, Declan Botes, die bal opneem. Hy behoort te brand om sy opponente op die stadiger, draaiende blaaie van Limpopo te fnuik.

Njabulo Maseko, die Vossies se voorste kolwer, sal geensins terugstaan vir die uitdaging nie. Die draaier, Anton Lourens, sal ook daarop uit wees om vroeë paaltjies teen die sterk Marais Viljoen-kolflys te laat kantel.

Franco Oberholzer
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.