Liggies mik vir driekuns, Klerksdorp wil wendroogte breek
Daar is nóg ‘n derby op Hoërskool Klerksdorp se spyskaart wanneer hy vir Hoërskool Lichtenburg Saterdag tuis in Klerksdorp verwelkom.
Volg al die aksie regstreeks op SuperSport Schools – (www.supersportschools.com)
Die Klerksdorpers moes vandeesweek terugkeer na die tekenbord ná hul nederlaag van 22-27 in die Klerksdorp-derby teen Wesvalia, hul eerste uitstappie in die Plaat-afdeling van vanjaar se SDC Noordvaal Cup.
Die Liggies het ‘n langer blaaskans geniet en pak die tog na Klerksdorp aan met ‘n gedugte, vars span, in die hoop om vir ‘n derde agtereenvolgende keer die pyp te rook in hierdie derby. Klerksdorp se laaste oorwinning oor die Liggies was in 2022 toe hy naelskraaps met 23-22 die knoop kon deurhak.
Soos gebruiklik word ‘n uiters fisiese stryd voorsien tussen dié twee spanne, met albei spanne wat vanjaar reeds aangedui het dat hulle bereid is om met mening in te klim, vernaam voorlangs.
Die Liggies se kaptein, KG Legodi, wat vanjaar uithalerspel op agsteman lewer, se tweestryd met KHS se Tiaan Koen beloof om ‘n hoogtepunt te wees. Legodi kan ook staatmaak op kragtige ondersteuning van haker, Juan van Rhyn, en steelkantflank, Tiaan Booysen, wat albei verlede jaar reeds hul merk gelaat het op eerstespan-vlak.
Agterlangs kan die vonke spat tussen die twee buitesenters, Klerksdorp se Winton Abrahams, een van sy span se grootste aanvalswapens, en Liggies se bedrieglike Oratile Sekoto.
Die spanne:
Hoërskool Klerksdorp t. Hoërskool Lichtenburg om 13:40 in Klerksdorp:
Klerksdorp: 15 Jayden Turner, 14 Tyrand Masango, 13 Winton Abrahams, 12 Jarred van Staden, 11 Marco Symington, 10 Dorian Isaacs, 9 Rellston Wilson, 8 Tiaan Koen, 7 Marnus van der Merwe, 6 D-Jee Treurnich, 5 Juan Hills, 4 SG de Klerk, 3 Hanro Nel, 2 Brandon Botha, 1 De Wet le Roux.
Lichtenburg: 15 Xander Blom, 14 Tehan Potgieter, 13 Oratile Sekoto, 12 WJ Liebenberg, 11 Kuzi Mupudzi, 10 Luan Snyman, 9 Rea Motsusi, 8 KG Legodi, 7 Tiaan Booysen, 6 George Bingudzu, 5 Darius Lombard, 4 LJ Kleynhans, 3 Duan Kruger, 2 Juan van Rhyn, 1 Ruben Pretorius.