Liggies aangeskakel vir groot FNB Classic Clashes-aksie
Die opwinding is tasbaar in afwagting op Saterdag se jaarlikse FNB Classic Clashes-kragmeting tussen Hoërskool Lichtenburg en Hoërskool Klerksdorp.
Volg al die aksie regstreeks op SuperSport Schools – (www.supersportschools.com).
Die spanne sê mekaar vanjaar die stryd aan in Lichtenburg, met Klerksdorp wat oorgehaal sal wees om die bordjies te probeer verhang nadat hulle verlede jaar tuis met 27-31 die knie teen die Liggies moes buig.
Albei spanne lek ook nog wonde na nederlae in hul eerste uitstappies in onderskeidelik die SDC Noordvaal Cup se Skild- en Plaat-afdeling verlede naweek.
Lichtenburg het in die Skild-afdeling met 12-23 teen Hoërskool Wesvalia vasgeval, terwyl die Klerksdorpers, in die Plaat-afdeling, hul rieme styfgeloop het met 31-44 teen ‘n begeesterde Hoërskool Zwartkop.
Die stryd tussen die pakke voorspelers beloof om ‘n groot gestoei af te gee. Albei geniet die fisiekheid voorlangs en die skote gaan ongetwyfeld klap op sowel die aanval as verdediging.
Die Liggies se slot en kaptein, John Kleyhans, het ‘n taamlike taak op hande maar, indien sy spelpeil op dieselfde vlak is as in die laaste klompie wedstryde, behoort hy met gemak die vuur onder sy pak te kan aansteek. Hy behoort ook kranige ondersteuning te ontvang van agtsteman, Abrie Coetzee, wat terugkeer na sy gunstelingposisie.
Eddie du Preez vervang die beseerde haker, Juan van Rhyn, in die voorry, terwyl Liggies agterlangs ook slegs een verandering aangebring het met Benré Pollar wat geleentheid kry op binnesenter in die plek van Oratile Sekoto, wat homself ook op die krukkelys bevind.
Om die span van Klerksdorp in ‘n groot derby te klop gaan egter nie maklik wees nie, met die besoekers wat slegs een verandering aan hul vyftiental aangebring het.
Tyron Masanga skuif in op regtervleuel, met Winton Abrahams wat Saterdag in die nr. 15-trui diens doen. Hul gereelde staatmaker op heelagter, Deacon Loots, ervaar nog las van ‘n besering. Abrahams se verdediging is nietemin uit die boonste rakke, en hy kan ook heelwat waarde toevoeg op die teenaanval.
Voorlangs kan haker, Janu de Wet, die lewe uiters moeilik te maak vir die tuisspan, vernaam in gebroke spel.
Benewens die spogregte wat daarmee gepaardgaan, bied hierdie Saterdag se FNB Classics Clashes-stryd in Lichtenburg ook ‘n waardevolle geleentheid vir albei spanne om momentum te bou met die oog op volgende naweek se Noordvaal Cup-aksie.
Die spanne is:
Hoërskool Lichtenburg t. Hoërskool Klerksdorp op Lichtenburg om 12:50:
Lichtenburg: 15 Luan Snyman, 14 Tirll van Schalkwyk, 13 Dundré Dempers, 12 Benré Pollard, 11 Rea Motsusi, 10 Albert Joubert, 9 Willem van Niekerk, 8 Abrie Coetzee, 7 Tiaan Booysen, 6 Kgolagano Legodi, 5 John Kleynhans, 4 GJ Malan, 3 JJ Jonjer, 2 Eddie du Preez, 1 Donovan Rosato.
Klerksdorp: 15 Winton Abrahams, 14 Tyron Masango, 13 Asif Sumara, 12 Diwan Labuschagne, 11 Louis Vorster, 10 Brendin Mathyse, 9 Jared van Staden, 8 GJ Steenberg, 7 Elardus Botha, 6 Tiaan Koen, 5 Juan Hills, 4 Bokamoso Mabeleng, 3 Liam Pretorius, 2 Janu de Wet, 1 De Wet le Roux.