Leeuwenhof bult spiere in eerste ronde van Puk 16-reeks
Leeuwenhof Akademie het Saterdag met ‘n weghol-oorwinning van 72-14 oor Overvaal van Vereeniging in die NWU-Pukke 16-reeks ‘n vroeë waarskuwing aan die ander spanne in die kompetisie gestuur.
Leeuwenhof se vleuel Jordan Mayhew en Jared Steyn het elk drie keer ‘n draai agter Overvaal se doellyn gemaak. Die wenspan het 11 drieë in die oorwinning ingeryg.
Pionier van Vryheid wat saam met Bekker van Magaliesburg die verdedigende kampioene van die reeks is, moes so bietjie sweet om Volksrust met 17-3 in sy eerste wedstryd van die kompetisie onder te kry. Pionier het teen rustyd ‘n skamele voorsprong van 5-3 geniet.
Pionier het vroeër in die week teen Kearsney College met 23-17 as oorwinnaars uit die stryd getree. Die span van Vryheid is dus ‘n span om vanjaar dop te hou. Kearsney College het ook vir Sarel Cilliers van Glencoe met 52-0 afgestof.
Bekker sou volgens die bepalings sy aanslag teen Alberton High begin het. Laasgenoemde het egter sy rugbyspanne aan die reeks onttrek. Bekker het daarom verlede week ‘n vriendskaplike wedstryd teen die Hoërskool Randburg gespeel.
Bekker het hom deeglik van sy taak gekwyt en slegs met 39-43 die knie gebuig. Die span van Magaliesburg was met slegs 15 minute se spel oor in die kragmeting met 17-43 agter.
Ferrum van Newcastle het ‘n goeie sege van 20-12 oor Piet Retief behaal, terwyl Schoonspruit nie heeltemal gelukkig oor sy gelykop-uitslag van 29-elk teen Vryburg sal wees nie.
Ferrum se losskakel, Ruben Kwakkernaak, het ‘n uitmuntende wedstryd beleef. Voorlangs het die agtsteman, Thando Jele, die bal goed gedra. Die beste vertoning op die dag vir Ferrum het egter aan die kantman Dominic Batista behoort.
Schoonspruit was teen die omdraaislag met die telling op 29-14 in sy guns stewig in die saal. Die span het boonop die voordeel van die wind van agter in die tweede helfte geniet.
Pretoria-Noord kon nou wel nie ‘n bonuspunt-sege in sy oorwinning van 24-5 oor Stoffberg buit nie, maar sal steeds tevrede met die uitslag wees.
Puntemakers:
Leeuwenhof 72 – Drieë: Jordan Mayhew (3), Jared Steyn (3), Danté du Plessis (2), Janko van der Merwe, WH Barnard, Meyer Kriel. Doelskoppe: Van der Merwe (5), Austin van Heerden (2). Strafdoel: Van der Merwe. Overvaal 14 – Drieë: Stefan Koekemoer (2). Doelskoppe: Ruan Willemse (2).
Pionier 17 (5) – Drieë: Tommie Abrahams, Wildré van der Berg, Hardus van der Merwe. Doelskop: Christiaan Zietsman. Volksrust 3 – Strafdoel: Braam Kruger.
Ferrum 20 – Drieë: Dominic Batista, Wikus van der Walt, Apiwe Nkosi. Doelskop: Phillip Gafney. Strafdoel: Gafney. Piet Retief 12 – Drieë: Sphe Mthethwa, Rian Fourie. Doelskop: Armand Coetzee.
Schoonspruit 29 (29) – Drieë: Herman Basson, Tristan Oosthuizen, Quintin Deetlefs, Barnard Kok, Jacques Delport. Doelskoppe: Nico Harford (2). Vryburg 29 (14) – Drieë: Shawn Muller (2), Benito de Vries, Pieter Sterrenberg. Doelskoppe: Leonard Grobbelaar (3). Strafdoel: Grobbelaar.
Pretoria-Noord 24 – Drieë: Tinus Jacobs, Keano Geldenhuys. Doelskop: Carlo Alexander. Strafdoele: Alexander (4). Stoffberg 5 – Drie: Dewald Vermaak.
Fochville 22 – Drieë: Tiaan Daffue (2), Estiaan de Wet. Doelskoppe: Arrie Steenkamp (2). Strafdoel: Steenkamp. Wolmaransstad 17.
Bekker 39 – Drieë: Francois van Zyl (2), Antonie Saunderson, Johan Nienaber, Avoyele Boyce, André van der Merwe, Jannie Schultz. Doelskoppe: Van Zyl, Juandré Jacobs. Randburg 43.
Ander spanne:
Eerstespanne: Delmas 34, Oosterland 21, Fochville 22 Wolmaransstad 17.
o.16: Pionier 33, Volksrust 31; Piet Retief 55, Ferrum 0; Vryburg 60, Schoonspruit 3; Pretoria-Noord 45, Stoffberg 17; Leeuwenhof 55, Overvaal 5; Wolmaransstad 31, Fochville 17.
o.15: Pionier 41, Volksrust 19; Piet Retief 15, Ferrum 3; Vryburg 19, Schoonspruit 7; Stoffberg 10, Pretoria-Noord 8; Leeuwenhof 34, Overvaal 5; Fochville 78, Wolmaransstad 0.
o.14: Pionier 31, Volksrust 19; Piet Retief 44, Ferrum 0; Vryburg 46, Schoonspruit 0; Pretoria-Noord 35, Stoffberg 10; Leeuwenhof 55, Overvaal 3; Fochville 34, Wolmaransstad 0.
Ander wedstryde:
o.16: Randburg 39, Bekker 12.
o.15: Randfburg 27, Bekker 21.
o.14: Randburg 20, Bekker 17.




