SuperSport Schools Plus

Le Roux laat paaltjies spat in groot oorwinning vir Dinamika

By Franco Oberholzer , in Cricket | Featured , at 2024-01-22 Tags:

Sebastian Le Roux na sy uitstekende boulskof van 5/22

Sebastian Le Roux se uitstekende boulwerk het Saterdag Hoërskool Dinamika se eerste oorwinning van die jaar se Finbury-reeks verseker.

Die naatbouler se syfers van vyf paaltjies vir 22 lopies het sy teenstanders, HTS Middelburg, onder enorme druk geplaas. Sy skof van sewe beurte het 31 leë aflewerings ingesluit teen ‘n ekonomiese pas van 3.14 per beurt.

Dean van Onselen se terugkeer was inderdaad ook ‘n groot aanwins vir die span van Alberton.

Die kaptein en aanvangskolwer was, saam met Le Roux, aan die voortou van sy span se sege met ‘n onoorwonne 77 lopies van slegs 44 aflewerings.

Van Onselen se vennootskap saam met Duandre Nieuwenhuys (31*) het beteken dat hul span die telling in die 16de beurt reeds kon verbysteek.

HTS Middelburg se Anthoni Smuts was die enigste kolwer wat kon indruk maak, en het ‘n goeie terugvegpoging geloods waarin hy 28 lopies tot sy span se totaal van 123 kon voeg.

Behalwe vir Toy Engelbrecht (1/39) was daar geen verdere ondersteuning nie. Dit het die gewonde Middelburgers met ‘n nege-paaltjie nederlaag stert tussen die bene huistoe gestuur.

Dinamika se volgende wedstryd sal teen die nuwelinge, Merensky Lanbou Akademie, in Tzaneen wees. Merensky het van die C na die D-afdeling van die kompetisie geskuif.

‘n Groot toets wag op die Tzaneeners nadat gure weer en onspeelbare toestande tot die uitstel van hul eerste wedstryd gelei het. Dit beteken dat hulle slegs ‘n enkele T20-wedstryd onder die belt sal hê wanneer hulle teen ‘n omgekrapde Dinamika-span te staan kom.

Die ander wedstryd tussen Heidelberg Volkskool en Uplands College is ook na ‘n latere datum geskuif weens die Volkies se jaarlikse kragmeting met King Edward School van Johannesburg.

Beknopte telkaart: 

HTS Middelburg:123 (Anthoni Smuts 28; Sebastian Le Roux 5/22); Dinamika: 125/1 (Dean van Onselen 77*, Duandre Nieuwenhuys 31*; Toy Engelbrecht 1/39). Dinamika wen met nege paaltjies.

Franco Oberholzer
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.