SuperSport Schools Plus

Labuschagne lei Affies jongelinge tot naelbytsege oor Grey

By Franco Oberholzer , in Cricket | Featured Cricket | News , at 2025-10-27 Tags: , ,

FOTO: Verskaf deur Afrikaanse Hoër Seunskool.

Die jaarlikse ontmoeting tussen Afrikaanse Hoër Seunskool en Grey-kollege se “Stayers”, oftewel o.17-spanne, het Saterdag in Pretoria oudergewoonte vir ‘n naelbyt-affêre gesorg.

Dié kragmeting, met die matrieks afwesig weens die eindeksamen, word gesien as ‘n gulde geleentheid om die volgende generasie talent die nodige blootstelling te gee alvorens hulle die 2026-seisoen moet aanpak.

Albei spanne beskik egter reeds oor ‘n groot gros jongelinge wat die afgelope jaar of twee deel uitgemaak het van hul onderskeie eerste spanne.

Belowende nuwe name soos Christian Kind, Vihan Pretorius, Zian Labuschagne en Daniel Hattingh het mekaar die afgelope naweek dus die stryd aangesê in Affies se sege met vier paaltjies oor hul tradisionele  aartsvyande.

Dit was juis Pretorius en Labuschagne wat voor in die koor was om vir die tuisspan die oorhand te bewerkstellig. Pretorius was, soos deur die loop van 2025, ‘n uitblinker met die nuwe bal en sy vyf beurte het twee paaltjies vir slegs 18 lopies opgelewer, wat die skroewe styf gedraai het.

Labuschagne was self ‘n doring met die bal. Hoewel effens duurder, het sy volle kwota van 10 beurte ook twee paaltjies laat kantel vir 63 lopies, waarvan een dié was van die groot vis, Aiden Dodd, in slegs die tweede beurt. Dit het vir Grey op 4/2, en onder hewige druk, geplaas.

Die herstelwerk is deur Daniel Hattingh (23) en Peter Le Roux gedoen. Le Roux se beurt is uiteindelik beëindig deur ‘n stukkie netjiese veldwerk deur Nico Loggenberg, maar nie voordat hy ‘n geduldige 66 lopies van 115 aflewerings kon aanteken nie.

River Scott en Bergh Vorster het verdere herstelwerk verrig, met Scott (47) wat sy span se tweede hoogste telling aangeteken het, terwyl Vorster se bydra van 38, nie uit nie, gehelp het om die Bloemfonteiners tot 227/8 in die toegelate 50 beurte te neem.

Die Affie-kolfbeurt het op dieselfde trant begin met die besoekers wat self reeds twee vroeë paaltjies kwyt was, te danke aan Bernard Saaiman (2/55). AJ Morkel het egter deur die druk gekolf en vroeë weerstand gebied, met sy 31 lopies wat die grondslag vir die jaagtog gelê het. Paaltjiewagter, Daniel Murray, was ook weer goed op dreef, met sy uitstekende voetwerk en energie in die kolfkampie wat 43 lopies aan hom besorg het.

Uiteindelik was dit weer Labuschagne wat homself midde in die aksie bevind het. Murray se vertrek het vir hom en Jacques Swart byeengebring in die middel. Labuschagne het die aanvallende rol gespeel, om van slegs 67 balle vyf viere en twee sesse te mokker vir ‘n onoorwonne 65, albei is ook steeds o.16, iets wat net bewys hoe blink die toekoms by die Pretoria reus is.

Swart was geduldig en het die beurt aanmekaar gehou. Hy het 51 lopies behaal en was saam met Labuschagne onoorwonne toe die teiken bereik is. Hul vennootskap van 112 lopies het die deurslag gegee, hoewel Daniel Hayidakis, Grey se beste bouler op die dag, moedig probeer het. Hayidakis is aan die einde van sy 10 beurte met syfers van 2/37 beloon.

Beknopte telkaart 

Grey-kollege 227/8 (Peter le Roux 66, River Scott 47, Bergh Vorster 38*, Daniel Hattingh 23, Divan Bezuidenhout 23; Vihan Pretorius 2/18, Zian Labuschagne 2/63); Affies 229/6 (Zian Labuschagne 65*, Jacques Swart 51*, Daniel Murray 43, AJ Morkel 31; Daniel Hayidakis 2/37, Bernard Saaiman 2/55). Affies wen met vier paaltjies.

Franco Oberholzer
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.