Kwaggas pak gekweste Grey in Bloem

Grey-kollege sal oorgehaal wees om hul naam in ere te herstel wanneer hulle hierdie naweek vir Hoërskool Outeniqua in Bloemfontein die stryd aansê.
Na hul skoknederlaag vanjaar teen Jeppe (19-22) by die NMI Noord/Suid-toernooi, was Grey nog nie weer in aksie nie, maar die Kwaggas sal egter alte goed besef dat ‘n gekweste Grey-span in Bloemfontein ‘n groot bedreiging inhou.
Beleef die aksie regstreeks op SuperSport Schools – Registreer nou – Skakel na die wedstryd
Grey het verlede jaar na ‘n tawwe stryd in George as oorwinnaars uit die stryd getree. Die span van Bloemfontein het heelwat karakter getoon om ‘n voorsprong van 19-17 te verdedig, en om die res van die seisoen onoorwonne te bly.
Vanjaar het Outeniqua reeds twee nederlae gely teen Noordheuwel (19-28) en Boland Landbou (13-15) voordat hulle kon hergroepeer om vir Pretoria Boys’ High (29-12) en Menlopark (37-17) te uitoorlê, maar ‘n sege teen Grey, in Bloemfontein, sal ‘n vroeë hoogtepunt van die seisoen wees.
Keenan Jantjies, wat verlede jaar op linkervleuel vir die Kwaggas diens gedoen het, is vanjaar op heelagter in aksie, met die opwindende klein skrumskakel, Ellie Meyer, wat Saterdag in Bloemfontein op losskakel uitdraf. Meyer het vantevore al getoon dat hy oor die vermoë beskik om ‘n kragmeting met sy geoefende skopskoen te draai, so hy sal beslis ‘n speler wees om dop te hou.
Jantjies is een van drie spelers in die besoekers se span wat verlede jaar ook teen Grey uitgedraf het. Die Kwaggas sal verder staatmaak op Michael Cronje en Juan Kleinhans se ervaring om voorlangs die Vrystaters te probeer tem.
Heinrich Theron, Liam van Wyk en skoolkaptein, Pieter van der Merwe, is die drietal Grey-spelers wat verlede jaar ook in die wedstryd teen Outeniqua gespeel het.
Die enigste veranderinge aan die span wat teen Jeppe verloor het is Heinz Stockenström, wat op heelagter begin, en Liam Santos, wat op agsteman gaan sak.
Van der Merwe, wat verlede jaar die SA Skole A-span gehaal het, en die groot flank, Xander Smit, het uitgeblink in hul vorige wedstryde teen King Edward VII (51-16), Welkom Gimnasium (52-5) en Hoërskool Trio (38-3). Na die teleurstellende resultaat teen Jeppe, sal die hele Grey-span egter brand om hope trots te herwin.
Die laaste keer wat Outeniqua vir Grey kon troef was in 2013, toe Duhan van der Merwe, Warrick Gelant en Dewald Human vir die Kwaggas tot ‘n sege van 22-20 gelei het. Die span van George het daardie seisoen slegs een keer verloor, toe hulle met 10-16 die knie gebuig het teen Paarl Gimnasium.
Grey het daardie jaar ook teen Affies vasgeval met 31-37.
Die spanne
Grey-kollege t. Hoërskool Outeniqua om 13:45:
Grey-kollege: 15 Heinz Stockenström, 14 Siyabonga Kenny, 13 Ethan Adams, 12 Pieter van der Merwe, 11 Ruben Cilliers, 10 Alzeadon Felix, 9 Philip McLaren, 8 Liam Santos, 7 Juliun Cosmo, 6 Xander Smit, 5 AJ Meyer, 4 Heinrich Theron, 3 Danie Kruger, 2 Liam van Wyk, 1 Dian Venter.
Outeniqua: 15 Keenan Jantjies, 14 Kerwinn Scott, 13 Reshaan Damans, 12 Luca Potgieter, 11 Xavier Solomans, 10 Ellie Meyer, 9 Jayzee Olivier, 8 Gareth Maree, 7 Ruart Curlewis, 6 Nicolas Duvenhage, 5 Michael Cronje, 4 Ruben Rossouw, 3 Juan Kleinhans, 2 Luan van der Sandt, 1 Deven Kleingeld.
Die bepalings:
Hoof: 08:30 – Grey-kollege V t. Fichardtpark II; 09:45 – Grey-kollege IV t. Outeniqua III; 11:00 – Grey-kollege II t. Outeniqua II; 12:20 – Grey-kollege III t. Fichardtpark; 13:45 – Grey-kollege t. Outeniqua.
Ovaal: 08:30 – Grey-kollege o. 16 B t. Outeniqua o. 16 B; 09:45 – Grey-kollege o. 14 A t. Outeniqua o. 14 A; 11:00 – Grey-kollege o. 15 A t. Outeniqua o. 15 A; 12:20 – Grey-kollege o. 16 A t. Outeniqua o. 16 A.
GCB A: 08:30 – Grey-kollege o. 15 B t. Outeniqua o. 15 B; 09:45 – Grey-kollege o. 15 D t. Fichardtpark o. 15 B; 11:00 – Grey-kollege o. 16 C t. Fichardtpark o. 16 A; 12:20 – Grey-kollege o. 15 C t. Fichardtpark o. 15 A.
GCB B: 08:30 – Grey-kollege o. 14 D t. Fichardtpark o. 14 B; 09:45 – Grey-kollege o. 16 D t. Fichardtpark o. 16 B; 11:00 – Grey-kollege o. 14 C t. Fichardtpark o. 14 A; 12:20 – Grey-kollege o. 14 B t. Outeniqua o. 14 B.