Kruger aan die spits vir die Rhinos in sege oor Zwartkop
Die Hoërskool Nelspruit se agtsteman, Douw Kruger, was met ‘n driekuns aan drieë aan die spits van die Rhinos se klinkende sege van 47-29 Saterdag oor die Hoërskool Zwartkop. Die wenspan het teen rustyd reeds ‘n voorsprong van 26-10 geniet. 
Ondanks die sege oor Zwartkop sal Nellies se eerstes nie tot die halfeindronde van die Virsekerbeker se Plaat-kompetisie deurdring nie. Die Zwarries sal vanjaar tevrede met die houtlepel moet wees.
Eldoraigne het ‘n waardevolle bonuspunt in sy span se nederlaag van 21-24 teen Montana opgetel. Eldos beklee tans die vyfde posisie op die puntelys met 19 punte.
Eldoraigne kom Saterdag is sy laaste ligawedstryd op sy tuisveld teen Marais Viljoen van Alberton te staan. Die manne van Alberton kan nie meer tot die uitkloprondes deurdring nie, maar kan wel die Groen Drake se hele seisoen bederf.
Eldos kan wel sonder ‘n sege maar met twee bonuspunte steeds bo Kempton Park eindig.
Kempton Park kan nog deur ‘n Eldoraigne uitgeskakel word. Kempies beklee die vierde posisie met 20 ligapunte, maar het reeds al hul ligaverpligtinge voltooi. Die Rooi Buffels van Ben Vorster beklee die derde posisie met 22 ligapunte. Hulle kom Saterdag op hul tuisveld teen Zwartkop te staan.
Die Hoërskool Rustenburg het Saterdag met ‘n sege van 38-28 oor Marais Viljoen van sy plek in die halfeindronde seker gemaak. Rustenburg se kondisioneerder, Eugene le Maitre, het in 2011 vanuit Marais Viljoen die Suid-Afrikaanse Skole-span as haker gehaal. Interresant is dat sy broer, Rehan le Maitre, Saterdag op heelagter vir Marais Viljoen teen Rusties uitgedraf het.
Montana se senterpaar, Franco Stassen en Stefan Tolmay, het elk ‘n dubbelle driedruk-plesier in hul span se sege van 24-21 oor Eldoraigne ervaar.
FOTO: Frans Lombard/Actionpix
Puntemakers:
Hoërskool Nelspruit 47 (26) – Drieë: Douw Kruger (3), Duncan Troskie (2), Solly Mazibuko, Henko de Nysschen. Doelskoppe: Mathee Joubert (6). Zwartkop 29 (10) – Drieë: Pierre Smit (2), Raymond Dodd, Bertu Burger, Wihan Slabbert. Doelskoppe: Dieter Groenewald (2).
Hoërskool Rustenburg 38 (18) – Drieë: Diaan Venter (2), Juan Smith, Estian Schonfeldt, Bryan du Plessis. Doelskoppe: Wiehan Kruger, Schonfeldt. Strafdoele: Schonfeldt (2), Kruger. Marais Viljoen 28 (16) – Drieë: Stiaan Smit, Thyler Paulsen, FC Kotze. Doelskoppe: Rehan le Maitre (2). Strafdoele: Le Maitre (3).
Montana 24 – Drieë: Franco Stassen (2), Stefan Tolmay (2). Doelskoppe: Stassen (2). Eldoraigne 21 – Drieë: Waldo Noeth, Adriaan Botha, Luhan Oosthuizen. Doelskoppe: Noeth (3).
Ander spanne:
o.16: Montana 31, Eldoraigne 7; Nelspruit 27, Zwartkop 12; Marais Viljoen 27, Rustenburg 19.
o.15: Montana 19, Eldoraigne 12; Zwartkop 43, Nelspruit 0; Rustenburg 22, Marais Viljoen 17.
o.14: Montana 8, Eldoraigne 7; Nelspruit 29, Zwartkop 12; Marais Viljoen 15, Rustenburg 13.
[powr-comments id=”56518c81_1564408401908″]
 



