SuperSport Schools News

Krige-driekuns help Helpies tot sege oor Boland Landbou, Enos vat voor vir Rusties

By Hannes Nienaber , in Featured | Main Rugby | Featured Rugby | News , at 2026-03-31 Tags: , , , , ,

Helpmekaar Kollege het tot ‘n hoër rat op die laaste dag van die jaarlikse NMI Toyota Noord/Suid-toernooi in Pretoria teen Boland Landbou oorgeskakel.

Helpies het vir Boland Landbou met 50-22 behoorlik die loef afgesteek. Die span van Johannesburg het teen rustyd reeds ‘n meer as gerieflike voorsprong van 24-3 geniet.

Die span se plaasvervanger-vleuel, Zuan Krige, het ‘n driekuns aan drieë behaal. Krige is vir sy uitmuntende afrondingsvermoë as die Speler van die Wedstryd aangewys.

Helpies se heelagter, Xander van Niekerk, was ook vuurwarm en het ook twee van sy span se agt drieë afgerond. Soos gewoonlik was die Lourens-tweeling, Ethan (binnesenter) en Shaye (skrumskakel), ook op hul stukke.

Voorlangs het die agtsteman, Ruann Bester, telkemale etlike meters veld met sy stormlopies vir die wenspan gemaak.

Vir Boland Landbou kan sy heelagter, Divan Meyer, tevrede met sy vertoning voel.

Helpies het in hul eerste wedstryd van die toernooi teen Grey Kollege met 19-51 in die stof gebyt.

Die Hoërskool Rustenburg het met sy losskakel, Ricardo Enos, aan die spits oor te veel skietgoed vir Welkom Gimnasium met 47-8 beskik.

Enos het 17 punte tot sy span se sege bygedra, maar dit was sy aanvallende spel saam met die senterpaar, Aydan Willemse en Zak Swanepoel, wat Gimmies se verdediging ontsluit het. Willemse het twee keer ‘n draai agter die doellyn gemaak.

Voorlangs het die flank Pieta Niemand ‘n goeie vertoning vir Rusties opgedis.

Puntemakers: 

Helpmekaar Kollege 50 (24) – Drieë: Zuan Krige (3), Xander van Niekerk (2), Ruann Bester,  Ethan Lourens, John van Druten. Doelskoppe: Ethan Kruger (3), Ethan Lourens, Shaye Lourens. Boland Landbou 22 (3) – Drieë: Steyn Lamprechts, Du Toit Brink, Izak Beukes. Doelskoppe: Divan Meyer (2). Strafdoel: Meyer.

Hoërskool Rustenburg 47 (19) – Drieë: Aydan Willemse (2), Lian Boshoff, Xander Stickling, Ricardo Enos, Zak Swanepoel, Pieta Niemandt. Doelskoppe: Enos (6). Welkom Gimnasium 8 (3) – Drie: Gimo Nafta. Skepdoel: Jadewyn Solomons.

Hannes Nienaber
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.