Koring reeds vroeg van die kaf op jaarlikse VKB Stedelike-week geskei
Die koring is ordentlik van die kaf geskei tydens die eerste dag van die jaarlikse VKB Stedelike-week op Pieter Geyer-park in Reitz.
Verlede jaar se naaswenners die Western Cape Disas het vir Zululand met 71-10 behoorlik kaf gedraf. Die Disas se buitesenter, Armand Potgieter, was op sy stukke en het twee keer die doellyn oorgesteek.
Potgieter is vir sy blink vertoning ook met die toekenning as Speler van die Wedstryd beloon. Die span se linkervleuel, Migile Carelse, het ook twee van sy span se 11 drieë afgerond. Junior Louw het ook 19 punte tot die sege via ‘n drie en sewe doelskoppe bygedra.
Die Disas sal Dinsdag teen die Blou Bulle se o.17-span te staan kom.
Die Vrystaat Arende het oor te veel skietgoed vir Namibië in hul sege van 31-10 beskik. Die Arende sal die die hoofwedstryd van die tweede dag teen KwaZulu-Natal se o.18-span sake uitspook.
Die Arende se slot Jatin Marais heet behoorlik in die los gewoel en sal op sy vertoning van die eerste dag wil voortbou.
Die Blou Bulle se o.17-span het die UXI-uitnodigingspan met 33-17 die loef afgesteek. Die Ligbloues se losskakel, Willie Pieterse, se skopskoen het die meeste van die praatwerk gedoen. Hy het albei sy span se drieë, behalwe natuurlik die strafdrie, verdoel en ook vier strafdoele sekuur tussen deur die pale gejaag.
Die wenspan se agtsteman, Lourenz de Jager, het sy goeie vertonings vanjaar op die rugbyveld voortgesit en is as Speler van die Wedstryd aangewys.
Die Griffons Platteland was in ‘n vernietigende bui en het die Diamante vanuit die Noord-Kaap met 96-13 as steenkool afgemaak. Die wenspan se flank MJ Hattingh en vleuel Thapelo Neshunzi het elk ‘n driekuns aan drieë behaal. Hul span het uiteindelik 14 keer gaan druk.
Die losskakel, Andries De Wet Steyl, het slegs een doelskop skeef gekorrel om self 26 punte by te voeg.
Die Westelike Province Noordelike Voorstede Disas se senter Haddon Plaatjies was met ‘n driekuns aan drieë aan die voorpunt van sy span se oorwinning van 39-19 oor Noord-KwaZulu-Natal.
Puntemakers:
Blou Bulle o.17 33 (6) – Drieë: Austin Cloete, Lourenz de Jager, Strafdrie. Doelskoppe: Willie Pieterse (2). Strafdoele: Pieterse (4). UXI Invitational 17 (10) – Drieë: Etten Haywood, Khanya Jekwa. Sihle Mazibuka, Haywood. Strafdoel: Stefan Moolman.
Vrystaat Arende 31 (7) – Drieë: Hugo Coetzer, Aidan Gottsch, Xander de Beer, JC van Niekerk, Regard Scheepers. Doelskoppe: Gottsch (2), Hanco Nel. Namibië o.18 10 (7) – Drie: Derrick Bezuidenhout. Doelskop: Sergio Pamplin. Strafdoel: Pamplin.
KwaZulu-Natal o.18 20 (6) – Drieë: Menelisi Maguduleka, Kyden Ward. Doelskoppe: Jurgens Pretorius (2). Strafdoele: Pretorius (2). Barbarians 10 (3) – Drie: Pieter Nel. Doelskop: Nolan du Plooy. Strafdoel: Du Plooy.
Western Cape Disas 71 (19) – Drieë: Migile Carelse (2), Armand Potgieter (2), Yanick Mwamba, Junior Louw, Chrismar Prinsloo, Wade Wilfred, Yibonge Malate, Caleb Reeding, Justin Phillips. Doelskoppe: Louw (7), Marquin Smith. Zululand 10 (10) – Drie: Akhona Saki. Doelskop: Okuhle Gumede. Strafdoel: Dino Bezuidenhout.
Griffons Platteland 96 (49) – Drieë: MJ Hattingh (3), Thapelo Neshunzi (3), Wian Visser (2), Rohan de Beer, Craydon Bibbey, Prince Mahlongo, Thlompo Motsapi, Lucky Ratutubala, Oratile Shata. Doelskoppe: Andries De Wet Steyl (13). Diamante 13 (8) – Drieë: Dylan van Wyk, Heinrich Swart. Strafdoel: Liam Botha.
Westelike Provinsie Noordelike Voorstede Disas 39 (34) – Drieë: Haddon Plaatjies (3), Denwill Coetzee, Luhle Ngqentsu, L David, Jannie Strauss. Doelskoppe: Zane van Schalkwyk, David. Noord-KwaZulu-Natal 19 (5) – Drieë: David Joubert, Anthony Byrnes, Ian Groenewald. Doelskoppe: Josh Jordaan (2).






