Koen, Klerksdorp karnuffel die Oosies


Die ervaring van ses Cravenweek-verteenwoordigers en die brute krag van Hoërskool Klerksdorp se agttal was nét te veel vir Hoërskool Oos-Moot Saterdagmiddag in Klerksdorp.
Herleef al die SDC Noordvaal Plaat-aksie op SuperSport School – (www.supersportschools.com)
Die Klerksdorpers het na ‘n taai eerste helfte, waarin die Oosies self ‘n aantal skote afgevuur het, die sluise in die tweede skof oopgemaak om uiteindelik gemaklik met 37-19 oorwinning te smaak.
Agsteman, Tiaan Koen het ‘n kapteinsbeurt gespeel deur nie alleen die besoekers se doellyn twee keer oor te steek nie, maar het deurgaans sy lyf op die spel geplaas, en is kragtig bygstaan deur ‘n tweede agtereenvolgende uithalervertoning deur slot Abrie Esterhuizen.
Met die Klerksdorpers wat voorlangs die oorhand verkry het, het hul gevaarlike agterlyn, met buitesenter, Winton Abrahams, aan die spits, die krane oopgedraai om amok onder die Oosie-verdedigers te saai.
Daar was nietemin positiewe vir die besoekers, met vernaam buitesenter, Jayden Pretorius, wat die tuisspan kopsere besorg het met sy netjiese aanvalslyne.
Matthew Abbey het met vier uit vyf doelskoppe geslaag in Hoërskool Middelburg se sege van 24-9 oor Hoërskool Wesvalia, waarmee Middies na die wenpad teruggekeer het. Wessies-losskakel, Eduard Dreyer, se visier was self ingestel en hy het ál sy span se punte met drie strafdoele aangeteken.
Elders in die dorp het HTS Middelburg in ‘n wipplankstryd met 41-32 oor Ligbron Akademie geseëvier. Die eerste 35 minute het egter aan die besoekers behoort, met die Liggies wat weereens gewys het hoe gevaarlik hul snellers uit gebroke spel kan wees. Dit het selfs aan hulle ‘n voorsprong van 20-12 teen rustyd gebied, nadat regtervleuel, Neo Zwane, in die hoekie oorgeduik het.
Die Rooi Bulle se Argu Kruger en CJ Muller het egter die kitaar in die tweede helfte geslaan, deur elkeen twee keer agter die doellyn te gaan draai om hul span oor die wenstreep te kry.
Hoërskool Zwartkop het sy onoorwonne segetog van 16 wedstryde met ‘n welholsege van 61-7 oor Hoërskool Marais Viljoen voortgesit. Haker en drieëvraat, Reagan Blignaut, het sy goeie spelpeil gehandhaaf met nogmaals ‘n driekuns aan drieë.
Luan Williams, wat kort voor die afskop na binnesenter moes skuif weens ‘n besering aan David van Jaarsveld, was kort op Blignaut se hakke met twee drieë van sy eie.
Puntemakers:
Hoërskool Klerksdorp 37 (15) – Drieë: Tiaan Koen (2), Abrie Esterhuizen, Dorian Isaacs, Winton Abrahams. Doelskoppe: Isaacs (2). Strafdoele: Isaacs (2). Oos-Moot 19 (12) – Drieë: Stian de Vente, Bradley Jacobs, Jayden Pretorius. Doelskoppe: Jeandré Venter (2).
Hoërskool Middelburg 24 (13) – Drieë: Lesego Rakale, Jaco Truter. Doelskop: Matthew Abbey. Strafdoel: Abbey (4). Wesvalia 9 (6) – Strafdoele: Eduard Dreyer (3).
HTS Middelburg 41 (12) – Drieë: Argu Kruger (2), CJ Muller (2), Danté Muller, Johnny Dos Santos, C-Jay Potgieter. Doelskoppe: WJ Enslin, Lubbe. Ligbron Akademie 32 (20) – Drieë: Bandile Thanjekwayo, Neo Zane, Siyanda Dennison, Jurgens Bezuidenhout. Doelskoppe: Gaston Brown (3). Strafdoele: Brown (2).
Zwartkop 61 (19) – Drieë: Reagan Blignaut (3), Luan Williams (2), Shayden Botha, Justin Julies, Stiaan Botha, André Marx. Doelksoppe: Tilon Barron (8). Marais Viljoen 7 (0) – Drie: Jemaine Crause. Doelskop: Tiaan van Huyssteen.
Ander spanne:
o.16: Oos-Moot 12, Klerksdorp 7; Hoërskool Middelburg 33, Wesvalia 3; Ligbron Akademie 17, HTS Middelburg 14; Marais Viljoen 35, Zwartkop 31.
o.15: Oos-Moot 21, Klerksdorp 5; Wesvalia 13, Hoërskool Middelburg 3; HTS Middelburg 19, Ligbron Akademie 17; Zwartkop 54, Marais Viljoen 15.
o.14: Klerksdorp 14, Oos-Moot 7; Wesvalia 19, Hoërskool Middelburg 17; HTS Middelburg 7, Ligbron Akademie 5; Zwartkop 28, Marais Viljoen 17.