SuperSport Schools News

Klofies se vaart agterlangs troef Diamonds, Donkies ook te vlugvoetig vir EG Jansen

By Hannes Nienaber , in Rugby | Featured Rugby | News , at 2026-03-27 Tags: , , , , ,

Die Hoërskool Waterkloof het net oor te veel vaart agterlangs beskik vir Diamantveld op die eerste dag van die jaarlikse NMI Toyota Noord/Suid-toernooi in Pretoria.

Die Klofies het gemaklik met 45-7 as oorwinnaars van die veld gestap, nadat hulle reeds teen rustyd ‘n stewige voorsprong van 28-7 geniet het.

Dit was veral die heelagter, Alexander Griesel, wat die Diamonds se verdediging met sy vaart probleme besorg het.

Hy het vanaf ‘n middelskrum net buite Klofies se kwartgebied weggebreek en die linkervleuel, Jacques Janse van Rensburg, vir die span van Pretoria se eerste drie weggestuur.

Janse van Rensburg het in die tweede helfte ook gaan druk. Griesel asook die regtervleuel, Gustav Mienie, het elk ook ‘n draai agter die doellyn gemaak.

Waterkloof se rotsvaste verdediging het ook bygedra tot die feit dat die span van Kimberley nie meer punte kon aanteken nie. Voorlangs het die slot Philip Mans en flank Hugo Dercksen goeie vertonings opgedis.

Vir Diamonds was niemand beter as sy buitesenter, Clinton Brits, nie. Hy het nooit moed opgegee nie en is ook met ‘n drie vir sy moedige vertoning beloon.

Diamantveld het vroeër vanjaar vir Monument van Krugersdorp met 36-35 getroef. Die Klofies sal dus meer as tevrede voel met hul vertoning.

HTS Drostdy se agterste driehoek het ook oor te veel skietgoed vir EG Jansen van Boksburg beskik. Die Donkies het die kragmeting met 43-24 gewen.

Die wenspan se heelagter, Anwill Jacobs, was aan die spits van sy span se aanslag. Hy het ook twee keer agter die Jansies se doellyn gaan kuier. Die twee vleuels, Darren Makeza en Tristan Syster, het ook nog drie drieë tussen hulle tot die sege bygedra.

Die flank Werno Ramsauer is welverdiend as Speler van die Wedstryd aangewys. Sy werksverrigting was merkwaardig en hy het ook ‘n hele paar keer oor die voordeellyn gebars.

Vir die Jansies het sy regtervleuel, Werner Breytenbach, twee keer kort na mekaar vroeg in die tweede helfte ook ‘n draai agter die doellyn gemaak. Die span se flank Jaco Engelbrecht verdien ook ‘n klop op die skouer.

Puntemakers: 

HTS Drostdy 43 (29) – Tries: Anwill Jacobs (2), Darren Makeza (2), Werno Ramsauer, Tristan Syster. Conversions: Jano van Deventer (5). Penalty: Van Deventer.  EG Jansen 24 (5) – Tries: Werner Breytenbach (2), Jaco Engelbrecht, Aljay Olivier. Conversions: Renaldo October, Juan van Aswegen.

Waterkloof 45 (28) – Tries: Jacques Janse van Rensburg (2), Alexander Griesel, Gustav Mienie, Mieder Erasmus, Stiaan Theron, Penalty Try. Conversions: Liam Schutte (4). Diamantveld 7 (7) – Try: Clinton Brits. Conversion: JG van Heerden.

Hannes Nienaber
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.