Klofies klop Valia om relegasiespook op afstand te hou


Hoërskool Waterkloof se tuissege oor Hoërskool Transvalia in die Beker-afdeling van die SDC Noordvaal Cup was waarskynlik presies wat hy nodig gehad het om die relegasiespook te fnuik.
Herleef al die SDC Noordvaal Beker-aksie op SuperSport Schools – (www.supersportschools.com)
Benewens die eerste span se oorwinning van 23-12 in ‘n tawwe stryd met die ligbloues van Vanderbijlpark, het ál die ander A-spanne ook oortuigend gewen om vir Klofies ‘n beduidende hoeveelheid ligapunte te besorg.
In die eerstespan-kragmeting is die meeste skade reeds gedurende die eerste helfte aangerig, met die stryd tussen die twee agttalle wat die toon vir die stryd aangegee het.
Valia se flank en kaptein, Juan Bischoff, het oudergewoonte ‘n barshou gespeel in die los en was die eerste van twee Valies om die doellyn oor te steek. Kort daarna het regtervleuel, Dihan Crause, vanuit sy eie helfte met brute krag en hope vaart deurgebreek om tussen die pale te druk.
Klofies se haker, Ruan Jacobs, het ‘n uiters bedrywige vertoning gelewer en is met ‘n tweekuns aan drieë beloon. Skrumskakel, Marcel Tsiakos, was uitmuntend agter die Klofie-pak, met sy flink diens wat oemf aan die Klofies se aanval verleen het.
Die tweede skof was fisiek maar ietwat traag om aan die gang te kom. Die tuisspan kon mettertyd egter vyf punte tot sy rustydvoorsprong van 18-12 voeg met Jacobs se tweede drie. Dit was ook die enigste punte wat die tweede helfte opgelewer het.
In Mbombela het Hoërskool Nelspruit sy laaste merk op die Beker-afdeling gelos deur vir Hoërskool Dr EG Jansen met 27-21 op Rhino Park te troef. Die Nelspruiters sal volgende jaar in die Plaat-afdeling meeding nadat hulle reeds voor die afgelope naweek se stryd gerelegeer is.
Die Rhinos se kragtige dryfmale het ‘n beduidende rol in hul sege oor die Jansies gespeel en ook tot die eerste drie, deur haker, D’Angelo Roberts, gelei. Dit wou voorkom of die koeël deur die kerk is toe linkervleuel, Tinyiko Silubane, onderskep het vir sy span se derde drie, maar die Jansies se binnesenter, Nathan Delport, het kort daarna teruggeslaan met sy span se tweede drie.
Dit het die Jansies se agterstand na 21-22 laat krimp en hulle binne bereik van ‘n belangrike oorwinning gebring. Nelspruit-kaptein, Vaughn van Zyl, het egter in die doodsnikke onkeerbaar oorgebars vir die finale spyker en ‘n bittersoet sege vir die Rhinos.
Puntemakers:
Waterkloof 23 (18) – Drieë: Ruan Jacobs (2), Hugo Dercksen. Doelskop: Ronan Bastiaanse. Strafdoele: Bastiaanse (2). Transvalia 12 (12) – Drieë: Juan Bischoff, Dihan Crause. Doelskop: Jay-de Maree.
Hoërskool Nelspruit 27 (15) – Drieë: D’Angelo Roberts, Ruben Greeff, Tinyiko Slubane, Vaughn van Zyl. Doelskoppe: Liam Pringle (2). Strafdoel: Pringle. EG Jansen 21 (13) – Drieë: Craig Lightfoot, Nathan Delport. Doelskop: Juan van Aswegen. Strafdoele: Van Aswegen (3).
Ander spanne:
o.16: Waterkloof 35, Transvalia 20; Nelspruit 28, EG Jansen 28.
o.15: Waterkloof 33, Transvalia 20; EG Jansen 8, Nelspruit 5.
o.14: Waterkloof 29, Transvalia 3; Nelspruit 5, EG Jansen 5.