Klofies hou kanse lewend met sege oor Helpies, Garsies bobaas teen Monnas

Die Hoërskool Waterkloof het sy kanse om vanjaar tot die uitspeelrondes van die SDC Noordvaal Cup se Beker-afdeling deur te dring ‘n reuse hupstoot gegee. Die Klofies het vir Helpmekaar-kollege met 30-27 in ‘n wipplankstryd verslaan.
Die Helpies het teen rustyd ‘n voorsprong van 16-12 geniet met ‘n drie deur die heelagter, Junayden Seffier, wat deur die regtervleuel, Delano Maritz, aangevuur is wat die hoogtepunte van die eerste helfte was.
Die tuisspan se binnesenter, Michael Benzien, het boonop sy skopskoene aangehad. Hy het vroeg in die tweede helfte ‘n strafdoele deur die pale gejaag om sy span se voorsprong tot 19-12 te rek. Benzien het met vyf strafdoele in die kragmeting pale toe geslaag.
Klofies se losskakel, Franco Cronje, het egter vanaf ‘n vryskop op die halflyn die vonk verskaf wat sy span benodig het. Cronje het deur ‘n gaping geglip voordat hy vir Waldemar Griesel (regtervleuel) weggesit het.
Die drie het sake gelyk getrek voordat Cronje kort daarna met ‘n strafdoel sy span die voortou met 22-19 laat neem het. Waterkloof se skrumskakel, Francois Viljoen, is deur Helpies ‘n geskenk gegee toe hulle vyf meter van hul doellyn die bal by ‘n lynstaan oorgegooi het.
Klofies se Griesel wat uitmuntend agterlangs, terwyl Arlow, Jean Jooste (flank) en Marnus Maritz (loskopstut) voorlangs gesorg het dat hul span voorvoet balbesit ontvang.
Dr. EG Jansen van Boksburg het ‘n klinkende sege van 74-7 oor Menlopark op sy tuisveld behaal. Die Jansies was teen rustyd met 31-7 reeds stewig in die saal.
Die Parkies beleef ‘n paar moeilike weke op die rugbyveld, maar die span verdien wel lof dat hulle nooit ophou duik of probeer speel het tydens die nederlaag nie.
Die Jansies se kantman Zaide-Leigh Rippenaar, heet ‘n driekuns aan drieë behaal, terwyl Jeandre Jacobs (buitesenter), Matthew Bergman (losskakel) en Nathan Matthee (agtsteman) elk ook dubelle driedruk-plesier ervaar het. Matthee en die ander kantman, Reon Pretorius, het behoorlik in die los gewoel en hul span gehelp om deurgans voorlangs op die voorvoet te bly.
Die sege se grondslag is voorlangs gele. Agterlangs het Jacobs en die linkervleuel, Cameron van Wyk, ook baljaar.
Die span wat vanjaar as kampioen van die SDC Noordvaal Cup se Beker-afdeling gekroon wil word, sal eers verby die Hoërskool Garsfontein moet kom.
Die Turkoois Bere het die verdedigende kampioen, Monument, met 39-31 in hul kragmeting op Berepark in Pretoria verslaan. Dit was Garsies se eerste sege oor die Wit Bulle sedert 2018. Die vreugdevure sou dus hoog in die Jakarandastad tot laat Saterdagaand gebrand het.
Die Garsies se binnesenter, Heinrich Cloete, was uitstaande vir die wenspan. Hy het waarskynlik die meeste duikslae uitgevoer en soms sommer ook voorspelers langs die losgemale raak geduik. Voorlangs was die haker, De Wet Lottering, op sy stukke en daar sal ‘n hele paar Wit Bulle vandag met seer lywe wees weens sy fisieke spel by die afbreekpunte.
Monnas se kaptein en slot, Ulrich van der Westhuizen, het gebloei soos min vir sy span. Hy moes twee keer in die wedstryd ‘n nuwe trui vanuit die truiesak op aandring van die skeidsregter versoek omdat dit so vol bloed was.
Die Wit Bulle se lynstaanwerk het gelol en dit het gemaak dat die span nie veel geleenthede vanaf die faset op die aanval kon skep nie. Die span se haker, Tristan da Costa, het wel so bietjie met sy spel in die los vergoed vir sy aandeel in die lynstane se gesukkel. Hy het twee keer ‘n draai agter die doellyn gemaak.
Puntemakers:
Garsfontein 39 (24) – Drieë: Luan Ferreira, Dimitre Erasmus, De Wet Lottering, Zian Cilliers, Abrie van der Westhuizen, Cassie Prinsloo. Doelskoppe: Nicallen Gabrielsen (3). Strafdoel: Gabrielsen. Monument 31 (7) – Drieë: Tristan da Costa (2), Zain Henery, Ceano Everson, Ernest Oersen. Doelskoppe: Justin Viljoen (2), Daylon Myners.
Waterkloof 30 (12) – Drieë: Waldemar Griesel (2), Francois Viljoen, Stephan Jacobsz. Doelskoppe: Franco Cronje (2). Strafdoele: Cronje (2). Helpmekaar 27 (16) – Drieë: Junayden Seffier, Tristan van Niekerk. Doelskop: Michael Benzien. Strafdoele: Benzien (5).
EG Jansen 74 (31) – Drieë: Zaide-Leigh Rippenaar (3), Jeandre Jacobs (2), Nathan Matthee (2), Matthew Bergman (2), R-Jay Pietersen, Gerhard van Aswegen, Twala. Doelskoppe: Twala (6), Bergman. Menlopark 7 (7) – Drie: Mocke Balt. Doelskop: Jayden Fortuin.
Ander spanne:
o.16: Garsfontein 45, Monument 29; Helpmekaar 58, Waterkloof 22; Menlopark 29, EG Jansen 12.
o.15: Monument 69, Garsfontein 5; Helpmekaar 22, Waterkloof 10; Menlopark 20, EG Jansen 17.
o.14: Monument 26, Garsfontein 19; Helpmekaar 15, Waterkloof 11; Menlopark 20, EG Jansen 17.




