Klofies gaps sege met George se drie in doodsnikke
Helpmekaar Kollege het vir Klofies met mag en mening aangeval in die doodsnikke, maar ‘n onderskepdrie deur die tuisspan se Malcolm George het ‘n naelbytsege beklink.
Herleef al die aksie op SuperSport Schools – (www.supersportschools.com)
Die besoekers van Johannesburg het alles in die stryd gewerp om die onoorwonne Hoërskool Waterkloof op sy tuisveld in Pretoria te klop, maar die Klofies het koel en kalm gebly om by die agterdeur in te glip met ‘n telling van 31-29.
Dit nadat die voorsprong nie minder nie as drie keer in die laaste kwart verwissel het nie.
Helpmekaar het teen rustyd hul neuse met 10-6 voorgehad, grootliks danksy kaptein, JP Lombaard, se uitstekende spel. Die Goue Leeus se Cravenweek-slot het beïndruk met sy barslopies, wat herinner het aan ‘n jong Eben Etzebeth, en dit het aan sy span ‘n effense oorhand voorlangs verleen.
Die Klofies moes boonop na 20 minute ook sonder twee sleutelspelers, agtsteman, Marko Kok, en buitesenter en kaptein, Riwan van Aswegen, klaarkom, nadat hulle die veld met beserings verlaat het.
Die Pretorianers het hulle egter nie daardeur laat onderkry nie, met een van hul ander groot staatmakers, binnesenter, Happy Makate, wat hand opgesteek het. Makate het soos ‘n tier verdedig en ‘n paar reuse duikslae uitgevoer.
Heelagter, Ronan Bastiaanse, het self gewys dat hy ‘n man vir die groot oomblik is en waarskynlik sy beste aanvallende wedstryd tot op hede beleef. Bastiaanse se tweestryd met sy Helpmekaar-eweknie, Tiaan le Roux, was iets om te aanskou soos hulle mekaar se verdediging op die proef gestel het.
Die Klofies se oopkantflank, Divan Botha, het byna ongemerk sy stempel afgedruk en gewoeker in die vaste los om dikwels Helpies se balbesit te ontwrig. Teenoor hom het Helpie-agsteman, Motlatsi Moloi, sy ritme in die tweede helfte gevind om, nes Lombaard, gereeld oor die voordeellyn te storm.
In Krugersdorp het die uitgedunde Norie Blues, Hoërskool Noordheuwel se eerste span, ‘n belangrike sege van 31-24 oor Hoërskool Marais Viljoen behaal. Die Blues is deur die beseringspook geteister na die skoolvakansie, en moes staatmaak op heelparty van hul jong manne om die wa deur die drif te trek.
Die tuisspan se heelagter, Francois Venter, het ‘n goeie dag op kantoor beleef en sy twee drieë was waarskynlik die deurslagewende faktor. Linkervleuel en drieëvraat, Lindsey Jansen, het ook vir die soveelste keer agter die opposisie se doellyn gaan kuier en is loshande vanjaar die Nories se voorste driedrukker.
Puntemakers:
Waterkloof 31 (6) – Drieë: Ronan Barstiaanse, Divan Botha, Happy Makate, Malcolm George. Doelskop: Ronan Bastiaanse. Strafdoele: Bastiaanse (3). Helpmekaar Kollege 29 (10) – Drieë: Tiaan le Roux, Clinton Cloete, Motlatsi Moloi, JP Lombaard, Zian Smith. Doelskoppe: Michael Benzien (2).
Noordheuwel 31 (21) – Drieë: Francois Venter (2), Lindsey Jansen, Jeremo Luiters. Doelskoppe: Ethan Smith (4). Strafdoel: Smith. Marais Viljoen 24 (5) – Drieë: Rio Tshimbalanga (2), Brandon Els, Strafdrie. Doelskop: Recce Gerber.
Ander spanne:
o.16: Helpmekaar Kollege 36, Waterkloof 3; Noordheuwel 43, Marais Viljoen 3.
o.15: Helpmekaar Kollege 34, Waterkloof 15; Noordheuwel 41, Marais Viljoen 10.
o.14: Helpmekaar Kollege 24, Waterkloof 12; Noordheuwel 54, Marais Viljoen 9.
Click here for everything you need to know about the SDC Noordvaal Cup




