SuperSport Schools Plus

Klofies beëindig Ysbere-segetog

By Franco Oberholzer , in Cricket | Featured Cricket | News , at 2025-02-12 Tags: , ,

FOTO: Hoërskool Nelspruit op Facebook.

Hoërskool Garsfontein, wat die huidige seisoen met ‘n stormloop van seges afgeskop het, het uiteindelik sy rieme styfgeloop teen sy tradisionele vyande, Hoërskool Waterkloof.

Herleef al die aksie op SuperSport Schools(www.supersportschools.com)

Die Ysbere, wat die seisoen met meestal T20-kragmetings afgeskop het, se oorwinnings het een na die ander ingerol. Dit het aan hulle die titel besorg by die onlangse streek-uitspele van die Schools SA20-kompetisie vir spanne van Noord-Gauteng, Limpopo en Easterns, in Benoni, waar die Garsies gemaklik met selfs ‘n sterk Afrikaanse Hoër Seunskool Skool (Affies) in die eindstryd afgereken het.

Garsfontein is Dinsdagmiddag egter deur die Klofie-golf getref om hul eerste nederlaag van 2025, boonop op tuisbodem, te ly. Die grondslag vir Waterkloof se sege is deur sy giftige boulaanval, en spesifiek Darius Maritz en Ricardo Crous, gelê. Die twee Klofie-boulers was nie alleen uiters ekonomies nie, maar het gekapitaliseer op die druk om elkeen drie paaltjies op te raap.

Maritz het na drie beurte, met syfers van 3/11 gespog, terwyl Crous 18 leë balle in sy kwota van vier beurte geboul het. Sy drie paaltjies het slegs 13 lopies gekos, wat uiteindelik beteken het dat die tuisspan vir slegs 94 uitgeboender kon word.

Die besoekers het nietemin ietwat gestamel in hul tog om die klein teiken te jaag. Echard Struwig (1/6) en Ruan Coetzee (1/16) het albei binne die eerste vyf beurte toegeslaan. Dit het vir Riley Miller, die besoekers se kaptein, en Franco Schmidt klaarblyklik min geskeel, met eersgenoemde wat oudergewoonte volgens sy sterkpunte gespeel het om ‘n onoorwonne 25 lopies aan te teken.

Schmidt het sy deel gedoen met ‘n aggresiewe beurt wat 23 lopies van slegs 14 aflewerings, wat drie sesse ingesluit het. Dié vennootskap van 44 lopies was belangrik, aangesien dit die besoekers op die voorvoet geplaas het toe die gure weer, wat die einde van die wedstryd sou beteken, inbeweeg het.

Die twee spanne moes uiteindelik noodgedwonge bladskud met die Klofies wat met agt paaltjies, volgens die Duckworth-Lewis-Stern-metode, koning gekraai het.

Beknopte telkaart: 

Garsfontein 94 (Wikus du Preez 20*; Darius Maritz 3/11, Ricardo Crous 3/13); Waterkloof 68/2 (Riley Miller 25*, Franco Schmidt 23*; Echard Struwig 1/6). Waterkloof wen met agt paaltjies volgens die Duckworth-Lewis-Stern-metode.

Franco Oberholzer
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.