Klofie-lokomotief stoom voort

PRETORIA- Klofies doen dit weer.
Hoërskool Waterkloof het daarin geslaag om dit twee uit twee te maak teen Hoërskool Menlopark, met ‘n spogsege van 51-33 in die SDC Noordvaal Cup se Beker-afdeling.
Herleef al die aksie op SuperSport Schools – (www.supersportschools.com).
Die twee Pretoriaanse skole het gesorg vir aanskoulike hardlooprugby, maar dit was die Klofies se kliniese vertoning in die eerste helfte, toe hulle reeds 31 punte kon aanteken, wat die deurslag gegee het.
Die Parkies was duidelik onkant betrap met Klofies se aanvanklike aanslag, maar het daarin geslaag om hul ritme te vind in die tweede skof en met 21 punte terug te veg.
Die Klofies se haker, Llwelyn Steenberg, wat die beseerde Ruan Jacobs vervang het, het sy kans met albei hande aangegryp. Steenberg het gewoeker voorlangs, die Parkie-verdedigers met sy begeesterde dryfspel besig gehou en was haas onstuitbaar om ‘n welverdiende driekuns te behaal.
Klofies se Cravenweek-agtsteman, Marko Kok, het ook gewys hoekom hy die groenlig van die Blou Bulle se keurders ontvang het. Kok was telkens gevaarlik wanneer hy op loop gesit het met die bal en het self die doellyn twee keer oorgesteek.
Die tweestryd tussen die skrumskakels, Migael Prinsloo (Waterkloof) en Gustav Schaffener (Menlopark), was ‘n fees om te aanskou.
Prinsloo se balverspreiding was uit die boonste rakke en het grootliks bygedra dat die Klofies vir die meerderheid van die wedstryd op die voorvoet was, terwyl Schaffener die Klofies besig gehou met sy breekslae om die afbreekpunte. Hy het ook die tuisspan se rekening oopgemaak toe hy toegeslaan het op ‘n losbal naby die doellyn.
Dit is duidelik dat die lynstane, en dryfmaalbewegings wat daarmee gepaardgaan, ‘n vername wapen vir die Parkies is. Hulle het dit dikwels aangewend om die Klofies onder druk te plaas en die baan te weg vir haker, Declan Pelser, om twee keer te druk.
Hoewel Hoërskool Marais Viljoen met 19-31 teen Hoërskool Garsfontein se Bere vasgeval het, het hulle nietemin taamlike weerstand gebied op hul tuisveld in Alberton.
Binnesenter, Brandon Els, was uitmuntend op die aanval en het, na ‘n paar briljante individuele lopies, twee keer agter die Bere se doellyn gaan draai. Die voorspelers het ook, vernaam in die eerste helfte, nie geskroom om die Bere fisies die stryd aan te sê nie.
Vir die Bere het niemand beter vertoon nie as linkervleuel, Junaide Stuart, wat op enige beskikbare spasie toegeslaan het, terwyl Junade Pasensie se skuif van heelagter na losskakel blyk om ‘n meesterskuif te wees. Met sy instinktiewe aanvoelling vir die spel het Pasensie die Bere se agterlyn gereeld op die voorvoet geplaas.
Hoërskool Rustenburg het, danksy ‘n strafdoel deur Lorenzo Snyers, ‘n naelskraapse sege van 22-19 oor Hoërskool Nelspruit behaal. Die Rusties se heelagter het ook met twee doelskoppe geslaag.
Die Nellies se Rhino’s het hul dragslae teen Helpmekaar Kollege verlede naweek agter hulle gesit, met buitsesenter, Ian Wood, wat hul grootste uitblinker op die dag was.
Puntemakers:
Waterkloof 51 (31) – Drieë: Llewelyn Steenberg (3), Marko Kok (2), Dennis Obi, Migael Prinsloo, Malcolm George, Happy Makate. Doelskoppe: Ronan Bastiaanse (3). Menlopark 33 (12) – Driee: Declan Pelser (2), Gustav Schaffner, Divan Nel, Wynand van Wyk. Doelskoppe: Andru Kuhn (3), Reinardt Herbst.
Garsfontein 31 (17) – Drieë: Junaide Stuart (2), JP Pieterse, Justin Blom, Stephan Pretorius. Doelskoppe: Junade Pasensie (2), Luan Ferreira. Marais Viljoen 19 (12) – Driee: Claudo do Couto (2), Devin Raubenheimer. Doelskoppe: Rekkie Gerber (2).
Hoërskool Rustenburg 22 (10) – Drieë: Zulu Khumalo (2), Christiaan van der Bergh. Doelskoppe: Lorenzo Snyers (2). Strafdoel: Snyers. Hoërskool Nelspruit 19 (7) – Lindani Ndlela, Regardt Vermaak, Tiaan de Beer. Doelskoppe: Theuns Meyer (2).
Ander spanne:
o.16: Waterkloof 15, Menlopark 13; Garsfontein 61, Marais Viljoen 14; Nelspruit 35, Rustenburg 17.
o.15: Menlopark 49, Waterkloof 10; Garsfontein 52, Marais Viljoen 5; Nelspruit 15, Rustenburg 0.
o.14: Menlopark 12, Waterkloof 10; Garsfontein 96, Marais Viljoen 0; Rustenburg 22, Nelspruit 5.
Click here for everything you need to know about the SDC Noordvaal Cup




