Klerksdorp té goed vir EG Jansen, Boland Landbou roer Rusties

Die eerste dag van die tweede Izintaba Gimmies-Krieketfees het gesorg vir ‘n behoorlike lopie-neerslag op die kolfvriendelike blaaie in Potchefstroom.
Herleef al die aksie op SuperSport Schools – (www.supersportschools.com)
Hoërskool Klerksdorp het sy week op ‘n hoë noot afgeskop danksy ‘n puik vertoning met die kolf deur sy toporde. Die Klerksdorpers kon aan die einde van sy toegelate 50 beurte met drie 50-talle spog.
Raykie van Rooyen het van voor gelei en sy tyd by die kolfkampie terdeë geniet om 74 lopies van 79 aflewerings te moker. Sy indrukwekkende beurt is moontlik gemaak deur ‘n stewige openingsvennootskap van 103 deur Stephan Janse van Resnburg en Colyn Vissagie.
Janse van Rensburg kon ook spog met ‘n telling bo 50. Hy het ses viere en twee sesse grens toe gestuur vir sy 52, terwyl Visagie goed vertoon het met 39.
Luken Maritz het hom in die latere stadiums van die beurt by Van Rooyen aangesluit en uitstekend gekolf vir sy 60 lopies. Dit het ook beteken dat die paar ‘n belangrike vennootskap van 130 lopies kon aanmekaarslaan om hul span uiteindelik tot ‘n totaal van 267 te help.
Hoewel die Klerksdorpers bestendig gekolf het, was die Jansie-boulaanval op sy beurt ook uitstekend. Dit was verál Adrian Ristow wat uitgeblink het om aan die einde van sy toegelate 10 beurte met syfers van 5/49 te spog. Ristow is netjies bygestaan deur Jayden Marcus wat drie paaltjies vir 43 lopies laat kantel het.
André Pretorius was die Jansies se uitblinker met die kolf en het gevaarlik gelyk vir 62 lopies. Ongelukkig vir die span van Boksburg was JP van Staden die enigste ander kolwer wat ‘n waardevolle bydrae, van 38, kon lewer.
Aanvangsbouler, Winton Abrahams, en Benrie Fourie het ewe veel skade aangerig met drie paaltjies elk. Vincenzo Holland het uiteindelik die doodskoot toegedien met sy twee paaltjies, wat die Jansies tot 234 beperk het.
Boland Lanbou het die nuutgekroonde T20 kampioen van Noordwes, Hoërskool Rustenburg, laat hik deur hulle gemaklik met 167 lopies te verslaan.
Marius du Plessis was sy span se voorslagkolwer. Du Plessis het vier viere en een ses gemoker in sy beurt van 105 nie uit nie. Stefan Conradie (59) en Rynhardt van der Schyff (52) het elk ook met 50-talle gepronk.
Marnus de Witt het die stoeiende Rusties boulaanval gelei met syfers van 2/58 in sy toegelate 10 beurte. Op sy beurt het die Boland Landbou se Tiaan Ryke met syfers van 2/41 ‘n goeie vertoning deur die res gelei. Slegs Zandré Diedericks (47) en Nathan Rossouw (25*) kon by die Bolanders se kolwers kers vashou.
Paarl Gimnasium se Wian Munnick was een lopie kort van ‘n welverdiende honderdtal in sy span se oorwinning van ses paaltjies oor Hoërskool Marais Viljoen. Die span van Alberton het eerste gekolf en ‘n skaflike telling van 265/8 aangeteken. Die kranige hotklou, Abdullah Tadwalla, het goed vertoon vir sy 62, terwyl die talenvolle Jaden Govender ook sy kolf vir ‘n vyftigtal kon lig.
Gimmies se De Waal Vivier het vir Munnick mooi bygestaan met sowel die bal as kolf. Vivier het gespog met sy span se beste syfers van 2/50 op die dag. Daarna het hy sy kolf laat praat en ‘n onoorwonne 53 lopies gemoker. Sy bydrae, tesame met dié van Charles King, wat ook nie sy paaltjie verloor het vir sy 65 lopies nie, was genoeg om ‘n oorwinning met ses paaltjies te verseker.
Nie eens ‘n uitstaande boulvertoning van 6/59 deur Hoërskool Trio se Cheslin Mogasi was genoeg om Hoërskool Wesvalia te stuit nie. Die Wessies se kolwers het die lopies opgestapel, met Henco Greyling voor in die koor met ‘n puik beurt van 73. Greyling het ook later die boulaanval gelei met syfers van 3/40 om die Trio kolwers te laat struikel.
Theuns van Rensburg was die span van Kroonstad se voorste kolwer. Sy 66 lopies, tesame met die 46 van Miguel Menino, het hul span vir ‘n oomblik laat glo. Die Wessies se boulers was egter té ekonomies en het Trio vir slegs 215, 81 lopies té min, uitgehaal.
Hans Moore se Xavier Coetzee en Warren Minnaar het hul span tot ‘n agt-paaltjie-oorwinning oor Hoërskool Monument gemoker. Nadat beide openingskolwers met nul na die pawiljoen moes terugkeer, het Coetzee en Minnaar hulself ingegrawe. Coetzee het sy 103 lopies van slegs 52 aflewerings geslaan, terwyl Minnaar met 63 van 35 balle kon spog.
Werner Durheim was die Monumentare se silwer randjie. Hy het teen ‘n gesonde tempo gekolf vir sy onoorwonne 95 lopies, wat van slegs 58 balle gekom het. Durheim was verantwoordelik vir meer as die helfte van sy span se lopies.
Beknopte telkaarte:
Hoërskool Klerksdorp 267/9 (Raykie van Rooyen 74, Luken Maritz 60, Stephan Janse van Rensburg 52, Colyn Vissagie 39; Adrian Ristow 5/49, Jayden Marcus 3/43); EG Jansen 234 (André Pretorius 67, Ekstras 39, JP van Staden 38, Jaiden Smit 22; Benrie Fourie 3/50, Winton Abrahams 3/67, Vincenzo Holland 2/8). Hoërskool Klerksdorp wen met 33 lopies.
Boland Landbou 289/6 (Marius du Plessis 105*, Stefan Conradie 59, Rynhardt van der Schyff 52, Kobus Conradie 21*; Marnus de Witt 2/58); Hoërskool Rustenburg 122 (Zandré Diedericks 47, Nathan Rossouw 25; Markus Groenewald 2/16, Tiaan Ryke 2/41). Boland Landbou wen met 167 lopies.
Marais Viljoen 265/8 (Abdullah Tadwalla 62, Ethan van Rooyen 62, Jaden Govender 50, Rieshaeel Hashim 26; De Waal Vivier 2/50); Paarl Gimnasium 267/4 (Wian Munnick 99, Charles King 65*, De Waal Vivier 53; Jordan Baijnath 1/47). Paarl Gimnasium wen met ses paaltjies.
Wesvalia 296/9 (Henco Greyling 73, J Prinsloo 55, Ethan Walker 30; Cheslin Mogasi 6/59); Hoërskool Trio 215 (Theuns van Rensburg 66, Miguel Menino 46, Thuto Kekane 25; Henco Greyling 3/40, Marneu Dreyer 2/5, D Hales 2/31). Wesvalia wen met 81 lopies.
Monument 183 (Werner Durrheim 95*, N van der Colff 24; Kenan Shaw 3/19, Henré Everleigh 2/17, Kyle Wratten 2/28); Hans Moore 184/2 (Xavier Coetzee 103*, Warren Minnaar 63*; Tshepo Mlambo 1/40). Hans Moore wen met agt paaltjies.