Klerksdorp breek wendroogte van twee jaar teen Liggies

Hoërskool Klerksdorp het daarin geslaag om ‘n wendroogte van twee jaar teen Hoërskool Lichtenburg te breek. Die Klerksdorpers het in nóg ‘n groot derby-stryd tussen dié spanne met 21-13 die pyp gerook.
Dit het soos telkens vantevore ‘n titaniese stryd afgegee tussen hierdie twee spanne, met geen genade wat gegee of gevra is nie.
Die Klerksdorpers, met ‘n punt om te bewys nadat hulle verlede naweek tuis teen bure, Hoërskool Wesvalia, vasgeval het, het egter die intensiteit gelig, boonop met ‘n groot tuisskare wat hulle luidkeels aangemoedig het.
Voorlangs het Tiaan Koen het gewys hoekom hy onlangs as die Luiperds se Cravenweek-agsteman aangewys is. Koen het die veld volgespeel op sowel die aanval as verdediging, en was boonop ‘n staatmaker in die lynstane.
Koen het duidelik vir vaskopstut, Hanro Nel, aangesteek, met die voorryman wat dikwels met mening vorentoe gebeur het in die vastelos. Dit het die platform geskep vanwaar die gevaarlike buitesenter, Winton Abrahams, vir die Liggies kon laat bontstaan.
Vir die besoekers het skrumskakel, Rea Motsusi, sy ervaring op eerstespan-vlak uitgestal met geniepsige lopies en puik diens aan die agterlyn. Agsteman en kaptein, KG Legodi, en buitesenter, Oratile Sekoto, het ook hul bes probeer om die besoekers op die voorvoet te plaas, met Legodi wat oudergewoonte by die afbreekpunte uitgetroon het.
Vir die Liggies verskuif die fokus nou na hul eerste wedstryd in die Skild-afdeling van die SDC Noordvaal Cup teen Hoërskool Piet Retief volgende naweek, terwyl die Klerksdorpers voor ‘n reuse toets te staan kom teen die besoekende Hoërskool Middelburg.
Puntemakers:
Hoërskool Klerksdorp 21 (10) – Drieë: Winton Abrahams, Tyrand Masango. Doelskop: Dorian Isaacs. Strafdoele: Isaacs (3). Hoërskool Lichtenburg 13 (3) – Drieë: Rea Motsusi, Kuzi Mupudzi. Strafdoel: Luan Snyman.
Ander spanne:
o.16: Klerksdorp 46, Lichtenburg 5.
o.15: Lichtenburg 15, Klerksdorp 10.
o.14: Klerksdorp 29, Lichtenburg 0.






