Klein sink Boishaai op Porterville se Bulfees
MAKHANDA. – Die 2023-skolerugbyseisoen is nog in sy babaskoene, maar dit is reeds duidelik dat daar nie met absolute sekerheid bespiegel kan word wie vanjaar die voorste skolespan is nie.
Die Hoërskool Durbanville het gewys dat hy die Bul van Porterville se Bulfees is deur die Hoër Jongenskool Paarl naelskraaps met 26-25 in die doodsnikke van die hoofwedstryd van die dag te verslaan.
Durbies se Shaun Klein het met minder as ‘n minuut oor met ‘n strafdoel geslaag om aan sy span dié geskiedkundige oorwinning te besorg. Die losskakel het boonop 21 van sy span se punte in die sege aangeteken.
Klein het een van sy span se twee drieë gedruk, albei vervyf en ook vier strafdoele tussen deur die pale gejaag.
Dit was veral in die lynstane asook die skrums waar Durbies daarin geslaag het om Boishaai te ontwrig. Die twee fassette is tradisioneel die span van die Paarl se sterkpunte.
Durbies se kaptein en flank, Evert Bouwer, was uitstaande voorlangs en het veral in die lynstane die aanslag gelei.
Een van die ander aanspraakmakers om vanjaar die land se voorste skolespanne te wees, Paarl Gimnasium, moes sweet om vir Stellenberg met 24-23 te klop.
Gimmies se skrumskakel, Dawid Kotze, het ‘n driekuns aan drieë behaal, maar dit was amper nie genoeg op die Jade Brigade in toom te hou nie.
Stellenberg se binnesenter, Ruben Thompson, het met sy skopskoen sy span in die kragmeting gehou.
Gimmies kom eerkomende Vrydag teen Grey-kollege tydens die jaarlikse Noord/Suid-toernooi in Pretoria te staan.
Dalk het die span van die Paarl probeer om nie al hul kaarte reeds teen Stellenberg op die tafel te sit nie.
Grey was in Makhanda tydens Graeme College se fees ter viering van hul 150ste bestaansjaar in aksie. Die span van die Rosestad het vir Marlow Landbou (52-12) en St Andrew’s College (48-0) met gemak afgestof.
Grey het ook nie te veel van sy planne tydens die seges weggegee nie. Die span se vaskopstut, Jean Erasmus, het wel gewys hoe gevaarlik hy kan wees indien hy die bal onder die arm vasknyp en in albei wedstryde dubelle driedruk-plesier ervaar.
Grey se binnesenter, Pieter van der Merwe, het ook gewys in Makhanda waartoe hy in staat is wanneer die agttal onder een kombers en op die voorvoet is.
‘n Unieke geleentheid het in die eerste wedstryd teen die Wolramme van Marlow plaasgevind met Jean-Henri Smith wat teen sy pa se ou alma mater gewys het dat hy net so kliphard is. Sy vader Philip Smith het die Springbokke in 1998 verteenwoordig.
Rondebosch Boys’ High het vir die eerste keer in jare na Riversdal gereis en toe boonop die Bulle van Oakdale Landbou met 24-18 verslaan.
Durban High School was met 14-7 baas in ‘n strawwe eerste Premier Interschools teen Maritzburg College. Jim Fouché sal nie te ontevrede na sy gelykop-uitslag van 31-elk teen Secunda wees nie.
In die NWU Prestige-reeks sal die span wat die kroon wil dra eers verby die Hoërskool Noordheuwel moet kom. Die Nories het sy laaste groepwedstryd van die reeks vir Potchefstroom Volkskool met 54-0 afgestof.
Feitlik al hierdie wedstryde kan weer gekyk word op SuperSport Schools (www.supersportschools.com). SuperSport Schools spog nou ook met sy eie kanaal op DStv – SuperSport 216.
Al die uitslae:
GRAEME COLLEGE RUGBYFEES
SACS 19, Graeme College 5; Grey-kollege 48, St Andrew’s College 0; Hilton College 19, Framesby 3; Kingswood College 34, Marlow Landbou 5; Queen’s College 22, Die Brandwag (Uitenhage) 0; Grey High School 27, Hudson Park 7; Selborne College 34, Nico Malan 17; Dale College 22, Pearson 20; Muir College 21, Stirling 10; HTS Daniël Pienaar 24, Cambridge 7; Union High 26, Mary Waters 7; Woodridge College 32, Port Alfred 0; Grey College 52, Marlow Landbou 12; Graeme College 18, Framesby 14; Kingswood College 21, Queen’s College 12; Hilton College 48, Die Brandwag (Uitenhage) 3; St Andrew’s College 13, SACS 12.
NWU PRESTIGE-REEKS
Noordheuwel 54, Potchefstroom Volkskool 0; Marais Viljoen 15, Heidelberg Volkskool 12; Jeugland 25, Hoërskool Middelburg 23; Montana 27, Hugenote (Springs) 14; Lichtenburg 28, Potchefstroom Gimnasium 12; Hoërskool Rustenburg 25, Die Anker 12; Wesvalia 27, Zwartkop 6.
VRIENDSKAPLIK
Hoërskool Durbanville 26, Hoër Jongenskool Paarl 25; Paarl Gimnasium 24, Stellenberg 23; Rondebosch Boys’ High 24, Oakdale Landbou 18; Durban High School 14, Maritzburg College 7; Helpmekaar 41, Voortrekker (Bethlehem) 3; Fichardtpark 50, Brandwag (Benoni) 0; Garsfontein 28, Jeppe High School for Boys 24; Charlie Hofmeyr 41, DF Malan 27; Fichardtpark 40, Hans Moore 0; Robertson 15, Vredendal 10; Leeuwenhof 38, Cornwall Hill College 21; Noord-Kaap 38, Louis Botha 0; Jim Fouché 31, Secunda 31; Montagu 25, Melkbosstrand 12; Parel Vallei 11, Hermanus 7; St John’s College 29, St Alban’s College 24; Centurion 20, Sutherland 14; Penryn College 19, Die Wilgers 18; Hoërskool Punt 15, Hugenote (Wellington) 10.
DANIE ROSSOUW-WEEK
Ferrum 37, Bergvlam 27; HTS John Vorster 6, Lydenburg 3; Midstream College 24, HTS Witbank 10; Ligbron 40, Bergsig Akademie 12.
.




