“Klein Interjol” gaan gróót stryd afgee

Dit is weer tyd vir die FNB Classic Clashes-kragmeting tussen die twee buurskole in Upington, oftewel die “Klein Interjol”, wanneer verlede jaar se Noord-Kaap kampioene, Hoërskool Upington, vir Duineveld op hul tuisveld welkom heet.
Beleef die aksie regstreeks op SuperSport Schools – Registreer nou – Skakel na die wedstryd
Verlede jaar het Uppies met 22-17 koning gekraai na ‘n naelbytstryd in die eerste kragmeting, maar die Velties het die bordjies later in die seisoen met 29-26 verhang op Hoërskool Upington se velde tydens die “Groot Interjol”.
Die tafel is dus gedek vir nóg ‘n meedoënlose stryd wanneer die twee mekaar weer Saterdag pak.
Die Duineveld-span het verlede week hul spiere gebult in Bloemfontein, by Hoërskool Sentraal se Standard Bank-toernooi, deur eers vir die Tralies met 61-15 kaf te draf en toe 39 punte sonder antwoord teen Goudveld in te ryg.
Jacquin Jasson en Gregon Jansen is twee van die Velties se opwindende gevaarmanne agterlangs, met Alek Andrianatos en Arno Luttig twee voorspelers om dop te hou hierdie naweek. Dié viertal is veterane van die Duineveld-vyfyiental wat, saam met skrumskakel, Franco Erasmus, en stut, Ethan Prins, ook in hul vorige kragmeting met die Uppies in aksie was.
Luttig het verlede jaar reeds vir Griekwas by die Cravenweek verteenwoordig.
Die tuisspan sal heelwat staatmaak op die ondervinding van hul spelbreker op binnesenter, Sylvester Hoffman, asook Louwan Harper, Roelof Slabbert, Johan Louw en Ruan Janse van Rensburg.
Die stryd op die oewers van die Oranjerivier lewer jaarliks vonke, en Saterdag se wedywering sal geen uitsondering wees nie.
Die spanne:
Hoërskool Upington: 15 LJ Izaaks, 14 Dali Gubula, 13 Themba Kella, 12 Sylvester Hoffman, 11 Laymian Snyders, 10 Cayden Daniels, 9 Louwan Harper, 8 Roelof Slabbert, 7 Petri Fourie, 6 Johan Louw, 5 Ruan Janse van Rensburg, 4 Jaden Williams, 3 Nathan Manyora, 2 Jade Coetzee, 1 Monqoba Hinana.
Duineveld: 15 Jacquin Jasson, 14 Henry Page, 13 Gregon Jansen, 12 Xavier Swarts, 11 AJ Burger, 10 PJ Smit, 9 Franco Erasmus, 8 Wihan Liebenberg, 7 Henco Spangenberg, 6 Alek Adrianatos, 5 Jandries Potgieter, 4 Arno Luttig, 3 Ethan Prins, 2 Phillip van As, 1 Adriaan Botha.