SuperSport Schools Plus

Keun se korrelwerk gee deurslag teen Helpies

By Franco Oberholzer , in Rugby | Featured Rugby | News , at 2025-04-26 Tags: , , , , ,

FOTO: Frans Lombard/Actionpix.

Die Hoërskool Menlopark se losskakel en kaptein, Andru Keun, het die span van Pretoria tot ‘n sege van 36-33 gesool oor Helpmekaar Kollege in Johannesburg.

Herleef al die aksie op SuperSportSchools – (www.supersportschools.com) 

Keun het ‘n merkwaardige skopvertoning gelewer om persoonlik 19 van sy span se 36 punte by te dra. Dit het vyf strafdoele en twee doelskoppe ingesluit.

Benewens sy akkurate korrelwerk na die pale, was Keun se algemene spel en taktiese skopwerk ook van hoogstaande gehalte en het hy gereeld die Helpies laat omdraai. Sy flink verspreiding het vir buitesenter, Leskin Samuels, losgelaat om na hartelus aan te val, terwyl linkervleuel, Juan Joubert, met sy gereelde lopies teen die kantlyn af die Helpies ook laat bontstaan het.

Voorlangs het die Pretorianers se pak as ‘n eenheid uitgeblink in ‘n uiters fisieke stryd. Oopkantflank, Nathen du Plessis, het soos gebruiklik gewoel in die los en die tuisspan by die afbreekpunte hoofbrekens besorg. Die kranige loskopstut, Mattheus Prinsloo, en staatmaker-haker, Declan Pelser, het ook die pap dik aangemaak.

Old School

Die tweede helfte het egter aan die Helpies behoort. Die span van Johannesburg het verbete teruggeveg om die Parkie-ondersteuners te laat naels kou in die doodsnikke van die wedstryd. Die tuisspan se lostrio bestaande uit agsteman, Llewelyn Vermaak, en flanke, Sydney Nicholson en Zaiden Krige, het uitgetroon in die terugvegpoging, terwyl regtervleuel, Xander van Niekerk, ook moedig probeer het om ‘n haas uit die hoed te trek.

Dit was egter nét nie genoeg om die Parkies te ontspoor nie en dié sege bied vir die span van die Jakarandastad ‘n stewige platform vir die res van die kompetisie.

Puntemakers: 

Menlopark 36 (24) – Drieë: Bladen Petersen, Strafdrie, Juan Joubert. Doelskoppe: Andru Keun (2). Strafdoele: Keun (5). Helpmekaar Kollege 33 (14) – Drieë: Llewelyn Vermaak, Sydney Nicholson, Keenan Combrink, Xander van Niekerk, Andreas Badenhorst. Doelskoppe: Wian Storm (4).

Ander spanne: 

o.16: Menlopark 29, Helpmekaar 19.

o.15: Helpmekaar 17, Menlopark 0.

o.14: Helpmekaar 31, Menlopark 6.

Franco Oberholzer
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.