Kern van Blou Bulle se Cravenweek-span kom uit Affies
Die kern van die Blou Bulle se o.18-rugbyspan wat aan die 52ste Cravenweek vir hoërskole in Stellenbosch gaan deelneem kom uit die Afrikaanse Hoër Seunskool van Pretoria.
Daar is tien spelers van Affies in dié span. Hulle is die senter Louritz van der Schyff, losskakel Eddie Fouché, agtsteman Eduan Lubbe, flanke Regardt du Plessis en Phillip Krause, slotte Henk Pretorius en Ruben van Heerden, die haker Schalk Erasmus, stut Cabous Eloff en die plaasvervanger-slot, Niel Bezuidenhout.
Die Ligbloues kom in sy eerste wedstryd van die toernooi teen die Westelike Provinsie te staan. Die Streeptruie sal in dié kragmeting na sy 100ste sege sedert die onstaan van die Cravenweek in 1964 opsoek wees.
Die Ligbloues het twee spelers in sy geledere die heelagter, Andell Loubser, en die skrumskakel, Embrose Papier, wat reeds verlede jaar vir die Suid-Afrrikaanse Skole-span uitgedraf het.
Die twee behoort vanjaar ook weer sterk aanspraakmakers op plekke in die nasionale span te wees indien hulle met sterk vertonings op die toernooi vorendag kom.
Fouché, Lubbe, die senter Stedman Gans en die plaasvervanger-voorryman Luyolo Qinela was verlede jaar ook vir die span van die Jakarandastad in aksie.
Die Ligbloues se laaste opwarmingswedstryd sal op die jaarlikse Noordvaal Bondedag in die DP de Villiers-stadion op Sasolburg teen die Valke wees. Die Valke het verlede week die Leeus met 14-13 verslaan. Die Leeus en die Blou Bulle het die vorige week met 14-elk gelykop gespeel.
Krause is die seun van die voormalige losvoorspeler van die Leeus, Blou Bulle en Griekwas se seniorspan, Piet Krause. Laasgenoemde het in 1991 vir die destydse Vaaldriehoek op die Cravenweek in Oos-Londen aangevoer.
Van der Schyff wat volgende jaar ook nog verkiesbaar vir die span is, het reeds vanjaar 14 keer die doellyn vir Affies oorgesteek. Affies is die enigste span Noord van die Vaalrivier wat onder die voorste vyf spanne in Suid-Afrika tot dusver volgens die nuutste ranglyste tel.
Die span is:
Andell Loubser (Menlopark), Abner van Reenen (Garsfontein), Stedman Gans (Waterkloof), Louritz van der Schyff (Affies), Austin Davids (Garsfontein), Eddie Fouché (Affies), Embrose Papier (Garsfontein), Eduan Lubbe, Regardt du Plessis, Phillip Krause, Henk Pretorius, Ruben van Heerden (almal Affies), Chergin Fiellies (Waterkloof), Schalk Erasmus, Cabous Eloff (albei Affies). Plaasvervangers: Jeandré Jones (Waterkloof), Luyolo Qinela (Southdowns College), Niel Bezuidenhout (Affies), PJ Steenkamp (Garsfontein), Wayne van der Bank (Menlopark), Runan Venter (Waterkloof), Snowy Zondani (Southdowns College).




