Kempies wil onoorwonne status behou
Die Hoërskool Kemptonpark sal hul onoorwonne status in die Finsbury-reeks wil behou wanneer hulle Saterdag tuis teen Hoërskool Montana te staan kom.
Die Kempies het deur die loop van die reeks uiters gemaklik voorgekom teen al hul teenstanders , en dit is grotendeels te danke aan ‘n sterk kolflys.
Floors Mynhardt, die Kempies se nr. 1-kolwer, sal sy reeks op ‘n hoë noot wil afsluit, en na verlede naweek se teleurstelling, so gou as moontlik sy normale vorm wil herwin.
Joshua Shanker, ook lekker op dreef, sal vir oulaas ‘n aansienlike telling op die bord wil plaas.
Die sterk Kempie-kolflys behoort die nodige ondersteuning van ‘n bekwame boulaanval te ontvang. Martin Williams en Warren Pretorius sal hier die leiding neem. Albei is venynig met die bal en behoort die Montana-kolwers deeglik te toets.
Vir die jong Monties-span was hierdie ‘n moeilike reeks, met die Pretorianers wat naarstiglik soek na ‘n eerste oorwinning in die kompetisie. Du Preez Prinsloo sal derhalwe wil voortbou op sy belowende beurt teen Hoërskool Monument.
Wouter Kotze is ook nie te versmaai met die kolf nie en sal uitsien daarna om die Kempie-boulers aan te vat.
Die Monties se bestendige Luca Bairos sal ‘n gevaar met die bal en die kolf inhou. Bairos het in elke wedstryd hard probeer om vir die die Monties ‘n eerste sege te laat realiseer, en sal hoop dat Konrad Koukeas weer sy lengtes kan handhaaf om die Kempie-kolwers onder druk te plaas.
Hoërskool Hans Moore reis na Krugersdorp waar Hoërskool Monument op hulle wag. Monnas sal die Hansies met hernude ywer aanpaak na hul sewe-paaltjie oorwinning oor Hoërskool Montana in die vorige ronde. Rieghardt Prinsloo sal die Krugersdorpers se gevaarman met die kolf wees, terwyl hy met sy boulwerk ook ‘n sleutelrol vir Monnas kan vervul.
Joshua McCoy se 31 lopies in die vorige ronde sou sy selfvertroue ‘n hupstoot gegee het, terwyl Monnas se voorste bouler, André van Niekerk, met mening die bal laat praat. Van Niekerk spog met nege paaltjies in sy laaste twee verskynings, en hou groot gevaar vir die Hansies se kolflys in.
Die Hansies se Xavier Coetzee sal die uitdaging verwelkom. Die voorslagkolwer was in die Hansies se vorige twee kragmetings uitstekend op dreef, met tellings van 85 teen Potchefstroom Gimnasium 84 teen Hoërskool Eldoraigne.
Tihan Eloff het ook sy ritme gevind met ‘n goeie vyftigtal, maar sal dit ‘n stappie verder wil neem hierdie week. Hanroux Siemens sal die Hansies se boulaanval lei en vir oulaas die Monnas-kolwers op hul tone hou.



