Kempies se Kruger koning met die kolf, Moories weer baas met 10 paaltjies

Hoërskool Kempton Park se Sheldon Kruger het Hoërskool Marais Viljoen gelooi met die wilgerlat om sy span tot ‘n reuse oorwinning met agt paaltjies te lei.
Herleef al die aksie op SuperSport Schools – (www.supersportschools.com)
Kruger het koning gekraai vir die Kempie-kolwers met ‘n meesterlike 73 lopies, wat van 86 balle gekom en agt viere en ‘n ses ingesluit het.
Wian Pieters het netjiese ondersteuning gebied met 47 lopies, net drie kort van wat ‘n welverdiende vyftigtal sou wees, in sy en Kruger se vennootskap van 113. Stian de Villiers het ook goed gevaar vir sy bydrae van 26, nie uit nie.
Dit was egter die boulers, en, meer spesifiek, die blitsige Kristian du Plessis, wat die sege verseker het. Du Plessis het in sy kwota van 10 beurte slegs 36 lopies afgestaan en ook vier paaltjies opgeraap. Pieters (2/27) was ook nie te versmaai met die bal nie, om Marais Viljoen tot net 175 te beperk.
Die Kempies het hul aanslag om promosie te verwerf aansienlik verstewig, maar die voorste perd in dié resies, Hoërskool Hans Moore, het self weer ‘n uitmuntende vertoning aanmekaargeslaan. Die Moories het vir die tweede keer in vanjaar se reeks met 10 paaltjies geseëvier, dié slag oor Hoërskool Centurion.
Kyle Wratten en Kearen Weyers het die Woerie-kolwers vir ‘n skamele 82 uitgeboender. Wratten, die Moories se uitstaande bouler op die dag, het met syfers van 4/18 gespog, terwyl, Weyers, kort op sy hakke, met 4/22 afgesluit het.
Dit het vir Zander Swart (41*) en Stephan Vermaak (37*) ‘n teiken gestel wat hulle weer met gemak, en ‘n paar uithalerhoue, na net 10 beurte kon bereik.
‘n Skitterende spanpoging deur Potchefstroom Gimnasium het ‘n wegholoorwinning met 112 lopies oor Hoërskool Montana tot gevolg gehad. Ulrich Botha, soos telkmale vantevore, het uitgeblink met die kolf. Sy 67 lopies, tesame met Divan van Eldik (34) en Caiden Seleka (32) se bydraes, het die Potchefstromers tot 229/9 in die toegelate 20 beurte gehelp.
Bennet Keet en Kie het daarna die Montie-kolwers laat bontstaan met die bal en Keet, met 3/9 in net 3.5 beurte, asook Henré Cronje (2/33) en Ruhann Steenkamp (2/18), het gesorg dat die laaste Montie-paaltjie op 117 val.
Beknopte telkaarte:
Marais Viljoen 175 (Abdullah Tadwala 31, Stiaan Jansen van Vuuren 30, Ekstras 27, Raynhardt Kruger 24; Kristian du Plessis 4/36, Wian Pieters 2/27); Hoërskool Kempton Park 177/2 (Sheldon Kruger 73*, Wian Pieters 47, Stian de Villiers 26*, Ekstras 23; Tristan Thom 1/22). Hoërskool Kempton Park wen met agt paaltjies.
Hoërskool Centurion 82 (Morné Prinsloo 19; Kyle Wratten 4/18, Kearan Weyers 4/22); Hans Moore 83/0 (Zander Swart 41*, Stephan Vermaak 37). Hans Moore wen met 10 paaltjies.
Potchefstroom Gimnasium 229/9 (Ulrich Botha 67, Divan van Eldik 34, Caiden Seleka 32, Christivan Coetzer 25, Nico Jordaan 21; Juan Theunissen 3/37, Du Preez Prinsloo 2/19, Jaco Lundall 2/30); Montana 117 (Juan Theunissen 32; Bennet Keet 3/9, Ruhann Steenkamp 2/18, Henre Cronje 2/33). Potchefstroom Gimnasium wen met 112 lopies.