SuperSport Schools Plus

Kempies opgewonde vir Eldo-uitdaging in Jakarandastad

By Franco Oberholzer , in Cricket | News , at 2024-01-25 Tags: ,

Hoërskool Kemptonpark sal uitsien na die uitdaging wat voorlê wanneer hulle Saterdag na die Jakarandastad reis om met Hoërskool Eldoraigne kragte te meet.

Albei spanne kom vars uit goeie oorwinnings in ronde een. Die Kempie-kolwers moes hard spook vir hul naelskraapse oorwinning met twee paaltjies oor Hans Moore van Benoni.

hul twee voorslagkolwers, Wian Pieters en Stian de Villiers, sal op hulle suksesvolle begin tot die reeks wil voortbou.

In die boul-departement sal Warren Pretorius daarna uitsien om die Eldo-kolwers op hul tone te hou.

Aan die kant van Eldoraigne is dit die gevaarman, Cameron Welsh, wat die Kempies sal moet dophou. Welsh was die uitblinker in die Eldo’s se sege teen Hoërskool Monument.

Sy aanvangsvennoot, Ruhan Oliphant, sal ook graag die tuistoestande optimaal wil benut. Oliphant is veral gevaarlik met sy vermoë om die nuwe bal te laat praat.

Hans Moore verwelkom vir Hoërskool Montana in Benoni. Die Hansies sal die geleentheid wil gebruik om ‘n eerste oorwinning in die reeks te smaak.

Kaptein, Warren Minnaar, is goed op dreef na ‘n puik beurt met die kolf verlede naweek. Saam met Minnaar sal sy kollega, Xavier Coetzee, ook mik om sy goeie spelpeil voort te sit.

Die Monties lek nog hul wonde na ‘n behoorlike krieketles deur Potchefstroom Gimnasium in die eerste ronde van die reeks. Slegs aanvangskolwer, Rowan Sweetman, kom tot dusver gemaklik voor by die kolfkampie .

Krieket is egter ‘n eienaardige spel en Saterdag sal ‘n behoorlike toets van karakter bied vir albei hierdie spanne.

Hoërskool Monument durf die pad Potchefstroom toe aan waar hulle met ‘n begeesterde Potchefstroom Gimnasium swaarde sal kruis.

Die Gimmies se kaptein, Tommie Botha, sal op die Monument-span wag. Botha se vertonning teen die Monties het ‘n duidelike boodskap gestuur dat hy as een van die topspelers in die afdeling gesien kan word.

Aan die kant van Monument sal JD Landsberg die een wees waarvoor daar lig geloop moet word. Landsberg het bewys dat hy met die kolf en die bal gevaar inhou. Sy kollega, Riegardt Prinsloo sal ook ‘n belangrike rol in Monnas se kolflys speel en dié voorslagkolwer beoog om die lewe moeilik te maak vir Gimmies in Potchefstroom.

Franco Oberholzer
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.