Kempies bespreek promosie-relegasie-stryd met Nellies
Hoërskool Kempton Park kan in 2026 sake in die A-afdeling van die Finsbury-reeks uitspook, nadat hy Saterdag sy plek in die promosie-relegasie-wedstryd teen Hoërskool Nelspruit bespreek het.
Herleef al die aksie op SuperSport Schools – (www.supersportschools.com)
Die Kempies se oorwinning met 39 lopies oor Hoërskool Hans Moore het verseker dat hulle bo aan die B-afdeling se puntelys eindig en dus eerskomende naweek teen die Nellies, wat laaste in die A-afdeling geëindig het, te staan kom vir ‘n plek in die top-afdeling van die reeks.
Soos die geval was met heelparty wedstryde in die kompetisie, is Saterdag se kragmeting in Kempton Park ook deur gure weer en nat toestande beïnvloed. Die tuisspan, wat eerste gekolf het, moes spook om uiteindelik by 175/8 uit te kom, toe die reën sy kolfbeurt in die 43ste beurt kortgeknip het. Hanré van Deventer was voor in die koor met 57 lopies, onder druk, om die grondslag vir sy span te lê.
Shaun Nash (22*) en Garth van Deventer (22) het ook broodnodige bydraes gelewer, wat belangriker is as wat die telkaart mag voorgee, terwyl Nathan King (2/26) en Zander Swart (2/40) die Moories se gevaarmanne was met die bal.
Die Kempies se goue trio in die bouldepartement het egter die momentum in die guns van die Kempies geswaai. Met die Moories se hersiende teiken van 215 in net 42 beurte, was die linkerhandse draaier, Wian Pieters, vir die soveelste keer vanjaar die span van Kempton se uitblinker.
Sy nege beurte het slegs 20 lopies gekos, terwyl hy ook drie paaltjies opgeraap het wat die druk vierkantig op die span van Benoni geplaas het. Die aanvangsboulers, Stian van Breda (2/27) en Kristian du Plessis (2/44), het die res van die skade aan die toporde aangerig.
Kenan Shaw het, na die ineenstorting van die toporde, sy kolfvernuf tentoongestel deur, onder kwaai druk, ‘n vermaaklike 79 lopies, wat agt grenshoue ingesluit het, te moker. Hy was ongelukkig die enigste Moorie-kolwer wat ‘n noemenswaardige bydrae kon maak.
Potchefstroom Gimnasium se Christivan Coetzer en Nico Jordaan het Hoërskool Centurion se boulers in Potch laat les opsê. Albei is uiteindelik vir 74 lopies terug pawiljoen toe, maar hul poging was genoeg om die Gimmies tot ‘n stewige totaal van 263/9 in die toegelate 50 beurte te help. Die veelsydige Ciaden Seleka (3/22) en Ruhann Steenkamp (2/19) het daarna met die bal die sege beklink.
Slegs die Woeries se Morné Prinsloo het gelyk of hy antwoorde gehad het op die Gimmie-boulers se vrae en sy 38 was die hoogste telling van die span van Centurion, wat vir net 152 lopies uitgeboender is.
Hoërskool Marais Viljoen kon slegs 10.3 beurte kolf voor sy wedstryd teen Hoërskool Montana afgelas is. Die twee spanne het dus elk twee liagpunte uit hul laaste kragmeting in vanjaar se reeks ontvang.
Beknopte telkaarte:
Hoërskool Kempton Park 178/5 (42.1) (Hanré van Deventer 57, Ekstras 28, Shaun Nash 22*, Garth van Deventer 22; Nathan King 2/26, Zander Swart 2/40); Hans Moore 175/9 (42) (Kenan Shaw 79, Ekstras 24, Zander Swart 22; Wian Pieters 3/20, Francois Marais 2/25, Stian van Breda 2/27, Kristian du Plessis 2/44). Hoërskool Kempton Park wen met 39 volgens die Duckworth-Lewis-Stern-metode.
Potchefstroom Gimnasium 263/9 (Christivan Coetzer 74, Nico Jordaan 74, Ulrich Botha 33, Caiden Seleka 29; Hoërskool Centurion 152 (Morné Prinsloo 38, Judah Phillips 32, Carlo Kotze 29; Caiden Seleka 3/22, Ruhann Steenkamp 2/19, Henré Cronje 2/38). Potchefstroom Gimnasium wen met 111 lopies.
Marais Viljoen 44/1 (Jaden Govender 18*; Jaun Theunissen 1/24); Montana (Het nie gekolf nie). Wedstryd afgelas weens gure weer.