Kemp kasty Volkies met ses van die bestes

Hoërskool Rustenburg se Henri Kemp het vir Potchefstroom Volkskool bykans eiehandig omgedop in die Rusties se eerste wedstryd as deel van die Noordwes-premierliga.
Lees en herleef al die 2025 Skolekrieket op SuperSport Schools – (www.supersportschools.com)
Rustenburg het die loot gewen en besluit om sy kolwers in te stuur om tuisveldvoordeel te benut.
Dinge het egter nie heeltemal volgens plan verloop nie en hy kon slegs 182 aanteken voor die laaste paaltjie gekantel het. Tristan van der Linde was die tuisspan se topkolwer op die dag met 32 lopies.
Henlo van Rooyen (27) en Ander Wenhold (26) het elk ook die 20-merk oorgesteek, maar het nie veel meer antwoorde op die vrae van Volkies se Andries Venter gehad nie. Venter het drie paaltjies vir slegs 26 lopies in sy skof van 10 beurte laat kantel. Sihle Duma (2/7) en Schalk Pienaar (2/29) het netjiese bystand gebied.
Kemp het egter die gunstige boultoestande op die dag die beste benut. Die Rustie-draaier het 9.2 beurte afgestuur wat 48 lopies gekos het. Dit was egter sy vermoë om die besoekers een na die ander kleedkamer toe te stuur wat die kollig gesteel het.
Kemp het nie minder nie as ses paaltjies laat spat, terwyl aanvangsbouler, Thian Labuschagne, ook drie opgepik het.
Dié fel boulaanslag het die druk vierkantig op die Volkies geplaas en alles het ná Louis van Wyk se 30 lopies in duie gestort. Die span van Potchefstroom kon uiteindelik net 135 vermag voordat Kemp die laaste paaltjie geneem het, 48 lopies kort van ‘n wentotaal.
Beknopte telkaart:
Hoërskool Rustenburg 182 (Tristan van der Linde 32, Extras 29, Henlo van Rooyen 27, Xander Wenhold 26; Andries Venter 3/26, Sihle Duma 2/7, Schalk Pienaar 2/29); Potchefstroom Volkskool 135 (Louis van Wyk 30, Ruan Smit 24, Ben Oosthuizen 22; Henri Kemp 6/48, Thian Labuschagne 3/28). Hoërskool Rustenburg wen met 47 lopies.