SuperSport Schools Plus

Kan Menlopark vir die derde agtereenvolgende week die rekordboeke herskryf?

By Hannes Nienaber , in Rugby | News , at 2019-08-16 Tags: , ,

NewsGKeuneKirkhamDie Hoërskool Menlopark sal vir die derde agtereenvolgende week die rekordboeke moet herskryf indien hy sy naam op die gesogte Virsekerbeker uitgekerf wil hê. 

Die Parkies kom in slegs sy tweede eindstryd van die oudste skolerugby-reeks in Suid-Afrika teen Helpmekaar-kollege op Marais Viljoen se veld in Alberton te staan. 

Die span van die Jakarandastad het twee weke gelede met ‘n sege van 22-15 vir die eerste keer ooit daarin geslaag om Monument van Krugersdorp om te dop. Die sege het ook verseker dat die Parkies tot die uitspeelrondes deurdring. 

Menlopark het verlede week die eerste keer sedert 2011 daarin geslaag om Garsfontein (72-40) te verslaan om sy plek in die eindstryd te bespreek. Dit was ook die Parkies se grootste sege ooit oor Garsies. 

Menlopark kon nog nooit in die geskiedenis van die Virsekerbeker (voorheen Beeldtrofee, Direkteurstrofee en Administrateursbeker) daarin slaag om Helpies te klop nie.  Die twee spanne het mekaar wel nog net twee keer vantevore in die reeks ontmoet. Helpies was vroeër vanjaar met 29-21 baas, terwyl hulle verlede jaar met 32-20 as oorwinnaars van die veld gestap het. 

Die tweestryd tussen die Parkies se haker, Enrique Courtriers, en Helpies se Tyler Skudder behoort een van die hoogtepunte van die eindstryd te wees. Indien Courtriers die vertonings tydens die Cravenweek vir die Blou Bulle opgedis het, wat hy die afgelope paar weke vir Menlopark insit, sou hy nou in Wellington saam met die SA Skole-spanne gewees het. 

Menlopark se heelagter, Niel Beukes, asook die binnesenter, Ruan Oosthuizen, se spelpeil is op die oomblik ook van hoogstaande gehalte. Beukes het verlede week teen Garsfontein ‘n volle 25 punte tot sy span se sege bygedra. 

Helpies se binnesenter, Divan Esterhuizen, asook die heelagter, Tiaan Botes, sal ook sleutelrolle in die eindstryd vertolk. Esterhuizen sal nie net Oosthuizen moet hokslaan nie, maar ook Helpies se planmaker op die aanval moet wees. Voorlangs sal die slot Keith Whitehead asook die agtsteman, Zander du Toit, die pap dik moet aanmaak. 

Menlopark se kaptein en flank, Lohan Potgieter, is ook ‘n uitstaande atleet. Hy het Suid-Afrika verlede jaar op die Jeug Olimpiese Spele verteenwoordig. Boonop is die vleuel Michael Schoeman die huidige Afrika Spele-kampioen in die 110m-hekkies vir seuns o.19. 

Dit is die Parkies se eerste verskyning in die eindstryd van die reeks sedert 1991. Menlopark het destyds met 10-18 teen HTS Middelburg se Rooi Bulle die knie gebuig in die kompetisie wat toe as die Direkteurstrofee bekend gestaan het.

Die span van die Jakaranstad kon nog nooit daarin slaag om as kampioen van die Noordvaal-reeks gekroon te word nie. Dit is ook slegs die tweede keer wat die Parkies in die eindstryd in aksie sal wees.

Dié jaargroep van Menlopark het twee jaar gelede wel die titel as o.16-kampioen van die Virsekerbeker vir Makroskole verower. Die span het destyds vir EG Jansen van Boksburg met 65-13 in die eindstryd afgeransel.

Vier van die wenspan se drieë in die eindstryd is destyds deur sy agtsteman, Gideon van Wyk, gedruk. Van Wyk het daarna na die Hoër Jongenskool Paarl geskuif en draf Saterdag vir die SA Skole-span teen Engeland in Wellington uit. 

Een van EG Jansen se driedrukkers twee jaar gelede die haastige vleuel Christiaan Bezuidenhout het die afgelope twee jaar sy naam in Helpies se geskiedenis verewig. Bezuidenhout sal Saterdag probeer om sy eie rekord vir die meeste drieë in ‘n seisoen te verbeter. Hy het verlede jaar 17 keer die doellyn vir Helpies se eerstes oorgesteek en het vanjaar reeds die rekord geëwenaar. 

Die Helpies het die drie laaste titels van die Grootskole-afdeling tussen 2015 en 2017 ingepalm. Die Johannesburgers het ook al drie keer die drie kroon as kampioen van die Administrateursbeker in onderskeidelik 1938, 1962 en 1975 gedra. Die span het wel in 1975 die louere met die Hoërskool Nelspruit gedeel. 

Saterdag sal dit die tiende keer wees dat Helpies in ‘n eindstryd van die reeks in Suid-Afrika in aksie sal wees. 

FOTO: Marius Nortjé

Die spanne is: 

Helpmekaar-kollege: 15 Tiaan Botes, 14 Melbirt van der Spuy, 13 Frans Weideman, 12 Divan Esterhuizen, 11 Christiaan Bezuidenhout, 10 Sebastine Watney, 9 Keune Kirkham, 8 Zander du Toit, 7 Brink Marx (kaptein), 6 Michael Jonker, 5 Jean Slabbert, 4 Keith Whitehead, 3 Luke Underhay, 2 Tyler Skudder, 1 Stefan Liebenberg. 

Hoërskool Menlopark: 15 Niel Beukes, 14 Ulrich Wiese, 13 Ruan van der Walt, 12 Ruan Oosthuizen, 11 Michael Schoeman, 10 Marcelle Deysel, 9 Keanan Wessels, 8 Jurgen van Zyl, 7 Lohan Potgieter (kaptein), 6 Tiaan Lange, 5 Theo Daily, 4 Ernst Simon, 3 Gerhard van der Bijl, 2 Enrique Courtriers, 1 Nolan Pienaar. 

[powr-comments id=”089828b5_1565950392557″]

Hannes Nienaber
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.