Kan Garsies vir Affies derde jaar agtereenvolgens tem?

Hoërskool Garsfontein mik om vir ‘n derde opeenvolgende keer die baas van die Jakarandastad te wees wanneer hulle Saterdag vir die Afrikaanse Hoër Seunskool, in straks Pretoria se grootste skolewedstryd, pak.
Volg al die aksie regstreeks op SuperSport Schools. Skakel na die wedstryd.
Die Bere was die vorige twee seisoene baas met oorwinnings van 20-19 (2022) en 45-38 (2023), met laasgenoemde sege boonop op Affies se tuisveld.
Die Bere het egter ook ‘n punt om te bewys nadat hulle twee nederlae in twee wedstryde op vanjaar se Noord/Suid-toernooi in die gesig moes staar.
Dit is veral die 36-38 nederlaag, in die doodsnikke teen Hoër Jongenskool Paarl, wat as genoegsame motivering vir die Garsies behoort te dien.
Affies het ook effens wankelrig gelyk inhul 25-30 nederlaag teen Paul Roos Gimnasium. Wat die positiewe betref, het sowel Garsies as Affies tot dusver uiters indrukwekkend vertoon in die skrums.
Affies se voorry het hul stempel deeglik afgedruk teen die span van Stellenbosch, en Ruan Smuts (vaskopstut), Ethan van Dyk (haker) en Werner Vrey (loskopstut) het ‘n groot verantwoordelikheid op hul skouers indien die Wit Bulle hoop om ‘n derde agtereenvolgende nederlaag teen die Bere die hoof te bied. Dit sal allermins egter ‘n maklike taak wees, met die Bere se skrum wat Boishaai ook op die agtervoet gedruk het.
Die ander opwindende stryd tussen die die twee pakke wag in die lynstane. In tipies Pretoriaanse styl beskik albei oor kragtige rolmaalbewegings, wat naby die doellyn uiters moeilik is om te stuit.
Agterlangs wag ‘n tweestryd tussen die twee spanne se losskakels.
Derrick Kuhn, die Bere se generaal, beskik oor ‘n geoefende skopskoen, en behoort Affies se agterste driehoek deurgaans te toets, terwyl sy visie en vermoë om die spasie raak te sien ook die besoekers se middelveld op hul tone sal hou. Dit sal die Bere se voorste driedrukker van 2023, Ruan Enslin, die kans gee om die spasie agterlangs uit te buit.
In teenstelling sal Affies se spelskepper, Ruben Pienaar, nie skroom om die Bere-verdediging aan te vat nie, en met die SA Skole-binnesenter, Janco Purchase, aan sy buitekant, kan dit gevaar voorspel vir die opposisie.
Purchase beleef tot dusver ‘n stadige begin tot die seisoen, maar die naweek se groot stryd teen die Bere kan dalk net die nodige inspuiting bied om hom na hoogste versnelling te laat oorskakel.
Die spanne:
Garsfontein t. Affies op Berepark in Pretoria om 13:10:
Hoërskool Garsfontein (moontlik): 15 Ruan Enslin, 14 Eben Koekemoer, 13 Junade Pasenensie, 12 Luann Olivier, 11 Junaide Swart, 10 Derrick Kuhn, 9 Brooklyn Newman, 8 Aiden King, 7 Thinus Oosthhuizen, 6 Stephan Pretorius, 5 Jacques Swart, 4 James Schnetler, 3 Luan van der Berg, 2 Justin Blom, 1 Ethan van Wyk.
Afrikaanse Hoër Seunskool: 15 Ruben Groenewald, 14 Rikus Strydom, 13 Nicolaas Grobler, 12 Janco Purchase, 11 Roux Eagan, 10 Ruben Pienaar, 9 Hendré Schoeman, 8 Robin Lippold, 7 Albert Smit, 6 Luan Potgieter, 5 JD Hattingh, 4 Muntingh Hamman, 3 Ruan Smuts, 2 Ethan van Dyk, 1 Werner Very.




