Kan Affies weer Klofies se ‘kriptoniet’ wees?

Die tweede ronde van kragmetings tussen die Titans Platinum Liga se “groot vier” behoort eerskomende Saterdag nogmaals skouspelagtige aksie op te lewer.
Lees en volg alles oor die Titans Platinum Liga op SuperSport Schools – (www.supersportschools.com)
Dit is juis die ronde waarin twee van die Jakarandastad se tradisionele aartsvyande mekaar die stryd aansê, met Afrikaanse Hoër Seunskool wat vanjaar tuisveldvoordeel geniet teen Hoërskool Waterkloof op die Affie-ovaal.
Dit is terloops waar Waterkloof die laaste keer, oor die laaste twee seisoene, ‘n nederlaag in die Titans Liga gely het. Affies het by die geleentheid, in 2023, met vyf paaltjies koning gekraai.
Vanjaar behoort dit oudergewoonte weer ‘n stryd tussen die langstele af te gee.
Die Affies-blad is alombekend as een wat gunstig is teenoor kolwers, en iets wat die Klofies se lopievraat, AJ de Villiers, ten volle sal wil benut. De Villiers, wat die beurt vir sy span open, het in sy vorige vyf ligawedstryde reeds 224 lopies opgestapel, teen ‘n gemiddeld van 44.8 per beurt, wat onderskeidelik ‘n honderdtal en ‘n vyftigtal ingesluit het.
Paaltjiewagter, Rico van der Walt, is self nie te versmaai nie en het net verlede week ‘n puik honderdtal teen Hoërskool Garsfontein aangeteken.
Aan Affies se kant het die veelsydige Ruben Groenewald egter ook sy ritme met die kolf gevind. Affies is tradisioneel bekend vir eerstespan-losskakels wat ook uitstekende krieketspelers uitmaak, met Groenewald se voorganger, Ruan de Swardt, wat in sowel rugby as krieket die SA Skole gehaal het. Groenewald het self reeds vanjaar vir die SA Skolerugbyspan verteenwoordig en kan, indien hy sy onlangse goeie spelpeil voortsit, die eerste tree na die SA Skolekrieketspan gee deur vir die Titans se Khaya Majola-span gekies te word.
Met die twee geleenthede wat hy reeds gekry het om te kolf, het hy 109 lopies aangeteken sonder om sy paaltjie te verloor, en dit teen ‘n indrukwekkende treftempo van 155.71. Dit beteken dat hy, volgens die syfers, 155 lopies behoort aan te teken vir elke 100 balle wat hy trotseer. Groenewald hou boonop ‘n gevaar in met sy slim boulwerk tydens die middelperiode van die beurt.
Boulwerk was juis, volgens Klofies-afrigter, Cobus Pienaar, ‘n deurslaggewende faktor in sy span se yslike 32 50-beurt wedstryde wat hulle reeds gespeel het. Rivan Booysen was tot dusver voor in die koor. Dié linkerhandse draaier het in sy vyf ligawedstryde reeds 14 paaltjies laat kantel, teen ‘n besonderse boulgemiddeld van 6,36. Die boulgemiddeld verteenwoordig die hoeveelheid lopies wat ‘n bouler afstaan vir elke paaltjie wat hy neem, wat Booysen s’n, van hoogstaande gehalte maak.
Ricardo Crous en De Villiers, nie slegs ‘n gevaar met die kolf nie, volg kort op sy hakke. Crous en de Villiers pronk elk met 11 paaltjies oor vyf wedstryde, albei met gemiddelde van 10 of minder.
Vir Affies sal sy voorslagbouler, Vihan Pretorius, ‘n beduidende rol hê om te speel. Pretorius is sy span se voorste paaltjievraat, met agt slagoffers in sy drie ligawedstryde, terwyl Nico Logenberg se akkurate swaaiboulwerk aan hom reeds sewe paaltjies besorg het teen ‘n uitstekende gemiddeld van net sewe. Groenewald het self ‘n week gelede vier paaltjies laat spat in Affies se gemaklike vyf-paaltjie sege oor Die Hoërskool Menlopark.
Die uitslag in enige krieketwedstryd tussen ‘n liga se voorlopers is nooit maklik om te voorspel nie, maar een ding is seker, die vonke gaan Saterdag op die Affie-ovaal spat.





