Kalahari Leeus brul hard in die Noord-Kaap
 Die Hoërskool Diamantveld het sy goeie spelpeil tot dusver die seisoen voorgesit deur die Hoërskool Upington oortuigend met 52-9 op Griekwa-park in Kimberley kaf te draf.
Die Hoërskool Diamantveld het sy goeie spelpeil tot dusver die seisoen voorgesit deur die Hoërskool Upington oortuigend met 52-9 op Griekwa-park in Kimberley kaf te draf. 
Diamonds het teen rustyd reeds ’n stewige voorsprong van 33-3 opgebou. Dit was veral die samespel van die losskakel, Charles Williams, en die senterpaar, Etdeon Greyvenstein en De-an Ackerman, wat vir Uppies probleme besorg het.
Die wedstryd was ’n voorwedstryd vir die kragmeting tussen Griekwas en die Blou Bulle se seniorspanne in die Provinsiale reeks.
Die Hoërskool Kalahari se Leeus van Kuruman het Saterdag op hul tuisveld vir Hoërskool Kathu met 25-14 in hulle jaarlikse interskole verslaan.
Kathu was voor die nederlaag onoorwonne in sy tien wedstryde tot dusver vanjaar. Kalahari se kaptein en haker, Gerhard Gregory, het sy span van voor gelei. Hy het ook die vonk voorlangs vir die agttal verskaf wat die grondslag vir die sege gelê het.
Die heelagter, Mpho Molaolwa, was ’n rots op verdediging in die laaste vesting. Vir Kathu het sy senter Samuel Muzasa skitterspel gelewer.
Dit wil blyk of die Hoërskool Noord-Kaap sy mojo terug het. Northerns het tot en met die Wildeklawer-toernooi in Kimberley nie ’n goeie seisoen op die rugbyveld beleef nie, maar sedert hy die bordjies op dié toernooi teen Welkom Gimnasium verhang het is dit duidelik dat die span nie ligtelik opgeneem kan word nie.
Die span het Saterdag op Pirates in Kimberley met 24-elk gelykop teen Duineveld van Upington gespeel. Velties is tot dusver vanjaar die tweede beste skolespan vanuit die Noord-Kaap met slegs Diamantveld wat met beter vertonings vanjaar kan spog.
Dit was veral die haastige vleuel van Northerns, Cameron Hufke, wat met sy vaart vir Velties probleme besorg het. Hy sou heelwat meer skade as sy twee drieë kon aanrig indien dit nie vir sy direkte teenstander, Sebastiaan Jobb, se goeie spel as teenvoeter was nie.
Voorlangs het Velties se slot Rudolph Oberholzer, kaptein en agtsteman, Johan Geldenhuys, en die kantman Ruan Visser puik vertonings opgedis.
Puntemakers:
Diamantveld 52 (33): Drieë: Glen Nieuwoudt (2), Charles Williams, André du Toit, Etdeon Greyvenstein, De-an Ackerman, Jody Schmidt, Bernard Jansen. Doelskoppe: Williams (6). Hoërskool Upington 9 (3): Strafdoele: Iwan Lombaard (3).
Noord-Kaap 24: Drieë: Cameron Hufke (2), Chadwyn November. Doelskoppe: Hufke (3). Strafdoel: Hufke. Duineveld 24: Drieë: Rudolph Oberholzer, Sebastiaan Jobb, Dolf Zandberg. Doelskoppe: Connie Conradie (3). Strafdoel: Conradie.
Kalahari 25: Drieë: Erik Kies, Brian Whitehead, Ernst Terblanche. Doelskoppe: Johnny Hollenbach (2). Strafdoele: Hollenbach (2). Kathu 14: Drieë: Samuel Muzasa, Marko van Niekerk. Doelskoppe: Selez Mazossi (2).
 
 
 
 




 
  
  
  
  
  
  
  
  
 