Kalahari en Saints in stryd om Irawa-liga se titel
Die Hoërskool Kalahari van Kuruman sal ongetwyfeld as die gunsteling om 11:40 in die eindstryd van die Kovsiestreek-kompetisie se Irawa-liga (vir kleinskole) teen St. Andrew op Shimlapark in Bloemfontein op die veld draf. Volksblad is ’n medeborg van die kompetisie.
Deel van die romantiek wat in die eerste nege jaar van die Irawa-liga ontstaan het, is die feit dat spanne met ’n groter reputasie as die Leeus van die Kalahari teen spanne met ’n heelwat swakker rekord as die van Saints in die eindstryd vasgeval het.
Die Irawa-liga sorg jaarliks vir van die mees spannendste en opwindende eindstryde van die Kovsiestreek-kompetisie. Vandag se kragmeting tussen Kalahari en Saints beloof om sy voorgangers na te doen.
Indien Saints wil wen sal hy Kalahari se agttal moet stuit. Dit is veral die stut Heinrich Fourie en die haker Gerhard Gregory wat met hul kragspel die Leeus op die voorvoet plaas. Saints se kaptein en slot, Christoffel de Lange, sal sy troepe voorlangs moet aanvuur.
Saints se skakelpaar, Jacques de Bruin en Michael Maree, sal indien hul nie genoeg gehalte balbesit kry nie met hul besluitneming ’n belangrike rol in hul span se aanslag speel.
Die Leeus van die Kalahari het vanjaar nog net teen Vryburg (17-22) die knie gebuig. Vryburg speel vandag in die eindstryd van die Beeldtrofee vir Mediumskole teen die verdedigende kampioen, Ben Viljoen van Groblersdal. Vryburg was op hul beurt nog net een keer aan die verloorkant vanjaar teen nog ’n span uit die sentrale streek Hoërskool Kathu (5-10).
In die Colt-liga sal Sand du Plessis van Bloemfontein as die gunsteling teen die Hoërskool Retief van Kestell om 10:15 op die Shimlapark draf. Die liga het ontstaan om aan die kleinste van die kleinskole in die sentrale streek die geleentheid te gee om ook deel van die Kovsiestreekkompetisie te wees.
Retief is een van die ware suksesverhale van ontwikkeling van spelers van kleur in Suid-Afrika. Die skool doen die ontwikkeling sonder die hulp van SA Rugby en die Departement van Sport.
Sannies sal sonder sy skrumskakel, Nicky Hattingh, moet klaarkom wat die span se aanvallende angel agterlangs so ietwat trek. Sheridene van Rooyen wat gewoonlik die laaste vesting beman sal in Hattingh se plek die oond skoonmaak. Die skopskoen van die losskakel, William Bloem, kan deurslaggewend vir Sannies wees.
Voorlangs behoort die flank Timothy Jones vir Retief besig te hou.




