SuperSport Schools Plus

Joubert, Stone swaai die lat teen Gimmies, Stellies en Westville ewe goed


Cricket Ball on BatHelpmekaar Kollege se kolwers het die wilgerlat ingelê in hul eerste kragmeting van die tweede Izintaba Gimmies-Krieketfees.

Herleef al die aksie op SuperSport Schools(www.supersportschools.com)

Die span van Johanneburg het die tuisspan, Potchefstroom Gimnasium, behoorlik laat les opsê. Danksy twee honderdtalle in die Helpies se top-ses het die besoekers uit die stad van goud ‘n allemintige 341/6 in hul toegelate 50 beurte opgehoop.

Zuan Joubert was uitstaande op nommer drie, met sy beurt wat 111 aflewerings geduur en waartydens hy 131 lopies gemoker het. Sy pragbeurt het 12 viere en ses sesse ingesluit.

Asof dit nie genoeg sout in die wonde was nie, het Anthony Stone ook besluit om vas te trap. Stone, wat selfs ietwat vinniger as Joubert gekolf het, het die vonke laat spat met sy 105 van slegs 88 balle. Hy het die bal agt keer oor die grenstou laat seil en ook ses viere aangeteken.

Gimmies se Margeo Joubert, was op sy beurt ewe indrukwekkend. Joubert het koelkop gebly onder kwaai druk om 96, vier kort van ‘n welverdiende honderdtal, aan te teken. Bennet Keet het Joubert se voorbeeld nagevolg om ‘n beurt van 43 lopies aanmekaar te slaan.

Dit was egter die aanslag van Anrich Liebenberg en Henno Steyn wat die Gimmies se vlerke geknip het. Liebenberg was uitmuntend om met syfers van 3/33 in sy toegelate 10 beurte te spog, terwyl Steyn, met bykans presies dieselfde syfers, kon spog met drie paaltjies vir 32 lopies.

‘n Verdere bydrae van twee paaltjies deur Xander Jackson het die wind heeltemal uit die Gimmies se seile gehaal en die gasheerspan beperk tot ‘n totaal van 232, 109 lopies kort van die teiken.

Westville Boys’ High se jongmanne, oftewel “Stayers”-span, en Hoërskool Stellenberg het die skare om die Witrand-ovaal deurgaans op die punte van hul stoele gehou. Teen die einde van die dag se 100 beurte was daar steeds niks te kies tussen die twee spanne nie en moes hulle blad skud op ‘n gelykopuitslag.

Westville se Evan du Toit het sy span se kolfaanslag met ‘n puik beurt van 93 lopies gelei. Met behulp van Aiden Rautenbach se 29 en Ashton Kidgell se 20, kon die span van Durban hul weg na 239/9 in die toegelate 50 beurte vind.

Stellies het daarop geantwoord met 239 almal uit.

JJ Rotham het sy waardevolle boulvertoning van 2/36 opgevolg met ‘n belangrike beurt van 49 lopies. Wilhelm Smet het hom mooi bygestaan met 38 wat van sy kolf gekom het. ‘n Rits verdere bydraes van 20 lopies of meer het die Stellies gehelp om kop te hou en uiteindelik Westville se telling te ewenaar.

Noordwes se Krieket Hub het beïndruk met ‘n oortuigende nege-paaltjie-oorwinning oor Hoërskool Brackenfell op die Mooivallei-ovaal. McCuauley Johnson het die span vanuit die Kaapse voorstad gekasty met ‘n uitstekende boulskof van 3/13. Hy het puik ondersteuning ontvang van Katlego Moloto wat ook drie paaltjies laat kantel het.

‘n Verdere bydrae van 2/15 deur Tumelo Makume het verseker dat die span van die Wes-Kaap vir 119 almal uitgeboender word. Slegs die openingskolwer Keenan Rheeder het gemaklik voor die paaltjies gelyk, maar moes steeds hard werk vir sy 44 lopies, wat van 73 balle gekom het.

Daarenteen het die Noordwes Hub se Katlego Molefi en Makume kolfwerk laat maklik lyk. Molefi het die beurt afgeskop met ‘n blitsige 54 lopies van slegs 28 balle. Dit was egter Makume wat uiteindelik die doodskoot toegedien het met sy 56 van slegs 29, teen ‘n treftempo van 193.10, en só sy span veilig oor die wenstreep gekry het.

Beknopte telkaarte:

Helpmekaar Kollege 341/6 (Zuan Joubert 131, Anthony Stone 105, Kyle Swanepoel 37, Kevin Olivier 23; Caden Seleka 2/28); Potchefstroom Gimnasium 232 (Margeo Joubert 96, Bennet Keet 43, James Wood 30, Henré Cronje 24; Henno Steyn 3/32, Anrich Liebenberg 3/33, Xander Jackson 2/31). Helpmekaar Kollege wen met 109 lopies.

Westville Boys High Stayers 239/9 (Ewan du Toit 93, Aiden Baudach 29, Ashton Kidgell 20; Lohann Pretorius 2/31, JJ Rothman 2/36, Kyle van Santen 2/52); Stellenberg 239 (JJ Rothman 49, Wilhelm Smet 38, Michael Amoedo 26, Kyle van Santen 24, Mortie Viljoen 21, Jan Jak Alberts 21; Ewan du Toit 3/41, Ashton Kidgell 2/30, Kelso Billiache 2/34, Kian Lottering 2/40). Wedstryd gelykop.

Brackenfell 119 (Keenan Rheeder 44, Jean Bester 31*; McCuauley Johnson 3/13, Katlego Moloto 3/18, Tumelo Makume 2/15); Noordwes Krieket Hub 120/1 (Tumelo Makume 56*, Katlego Molefi 54*; Jeandré Limby 1/27). Noordwes Krieket Hub wen met nege paaltjies.

Ander wedstryde:

Bethlehem Voortrekker 68 (André Heunis 28; Hanro Keulder 4/11, Janro de Bruin 2/15, Dylan Koegelenberg 2/9); Affies 2de XI 69/1 (SF Vermeulen 32*, Dylan Koegelenberg 20*; Joel Coetzee 1/25). Affies 2de XI wen met nege paaltjies.

Durbanville 75 (Reuben La Grange 15; Kaeden Posthumus 3/15, Wian Pieters 2/12, Kristian du Plessis 2/15); Hoërskool Kempton Park 77/2 (Wian Pieters 25*; Calla du Toit 2/39). Hoërskool Kempton Park wen met agt paaltjies.

Franco Oberholzer
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.