SuperSport Schools Plus

Jong Helpies hou vanjaar trofee omhoog

By Franco Oberholzer , in Rugby | News , at 2024-08-24 Tags: , , ,

DANIEL VAN DER LINDEN, steelkantflank van Helmekaar se o.16-span, op die aanval in die eindstryd teen Noordheuwel. FOTO: Marius Nortjé

Helpies se o.16-span het die bordjies vanjaar verhang om as die beste span in hul ouderdomsgroep in die SDC Noordvaal Cup se Beker-afdeling te eindig.

Herleef al die Noordvaal Beker-aksie op SuperSport Schools(www.supersportschools.com)

Helpmekaar Kollege se o.16’s het vergoed vir die teleurstelling van 2023 se o.15-eindstryd deur vanjaar as die kampioen gekroon te word. Die span van Johannesburg het verlede jaar met 8-17 teen Hoërskool Monument se o.15’s vasgeval.

Vanjaar was dit ‘n ander storie en het hulle vir ‘n uitstaande vertoning gesorg om vir nóg ‘n span van Krugersdorp, Hoërskool Noordheuwel, gemaklik met 32-6 kaf te draf.

Hierdie sege was grotendeels te danke aan steelkantflank, Daniel van der Linden, se merkwaardige vertoning. Van der Linden het het gereeld met bal in hand vorentoe gebars en kon uiteindelik met ‘n briljante driekuns spog.

Haker, Jeandré van der Merwe, was ewe goed. Van der Merwe, het saam met Van der Linden, deurgaans hoofbrekens besorg vir die Nories se verdedigers en is welverdiend as speler van die wedstryd aangewys.

In die o.15 eindstryd was dit so hittete of daar was ‘n nuwe kampioen gekroon. Hoërskool Monument moes hard swoeg in die tweede helfte om sy bure, Hoërskool Noordheuwel, met ‘n enkele punt (13-12) die loef af te steek.

Danksy heelagter, Ray-Nathin van Kolver, se uitstekende afronding en losskakel, Jaydon Whitfield, se skopstewel, kon die Monumentare 13 onbeantwoorde punte in die tweede helfte aanteken.

Die Nories het die eerste helfte oorheers, met drieë deur linkervleuel, Jaydon Piennaar, en binnesenter, Heinrich Smith, wat aan hulle ‘n voorsprong van 12-3 met die omdraaislag besorg het. Hulle het egter nie ‘n antwoord gehad op die Monumentare se aanslag daarna nie.

Hoërskool Rustenburg se o.14-span het vir die grootste verrassing gesorg deur vir Monument met 22-10 om te dop.

Die Rusties se heelagter, Ryan Pheiffer, se naam sal vir lank nog by die Krugersdorpers spook. Die heelagter het sy span tot dié geskiedkundige sege gesool met ‘n doelskop en nie minder nie as vyf strafdoele vir ‘n persoonlike bydrae van 17 punte. Hy was ook vroeër vanjaar die beslissende faktor in die twee spanne se groepswedstryd toe hy ‘n strafdoel kort voor die eindfluitjie deur die pale gejaag het.

Puntemakers: 

o.16

Helpmekaar Kollege 32 (10) – Drieë: Daniel van der Linden (3), Jeandre van der Merwe, Ruben Coetzee, Ethan Lourens. Doelskop: Shaye Lourens. Noordheuwel 6 (6) – Strafdoele: Tidi Moeketsane (2)

o.15

Monument 13 (3) – Drie: Ray-Nathin van Kolver. Doelskop: Jaydon Whitfield. Strafdoel: Whitfield. Noordheuwel 12 (12) – Drieë: Heinrich Smith, Jaydon Piennaar. Doelskop: Ronaldo October.

o.14

Hoërskool Rustenburg 22 (6) – Drie: Reinhardt Enthoven. Doelskop: Ryan Pheiffer. Strafdoele: Pheiffer (5). Monument 10 (0) – Drie: Clayton Snyman. Doelskop: Snyman. Strafdoel: Snyman.

Franco Oberholzer
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.