SuperSport Schools Plus

Jim Fouché bou momentum met sege oor Sasol

By Willem Louw , in Cricket | Featured Cricket | News , at 2024-02-11 Tags: , , ,

Jim Fouché 1ste XI, 2024 (Foto verskaf)

Arnaud Marais se 54 lopies was genoeg vir Hoërskool Jim Fouché om Saterdag hul stempel in Sasolburg af te druk.

Beleef die wedstryd weer op SuperSport Schools – Registreer nou Skakel na die wedstryd

Hoërskool Sasolburg se Meyer Pretorius en Liam Singleton kon die besoekers binne die eerste sewe boulbeurte tot 12/3 beperk, maar Marais en Niel Wilken het daarna ingegrawe om ‘n netjiese vennootskap vir JF te bou.

Nathan Swanepoel kon uiteindelik van Marais ontslae raak in die 20ste boulbeurt, maar Wilken het voortgegaan om 33 onoorwonne lopies aan te teken voordat Pretorius van die res van die JF-kolwers ontslae kon raak.

Pretorius het altesaam ses kolwers laat sneuwel en was ook aan die spits van die tuisspan se poging om ‘n teenaanval met die kolf te loods.

Pieter Conradie en Henko Venter het egter korte mette met die Sasolburg-kolwers gemaak om almal vir slegs 75 uit te boul.

Lian Theron het met die eerste bal van die beurt die aanvanklike slag geslaan, voordat Conradie en Venter verwoesting gesaai het onder die res van die tuisspan se kolwers.

Volgende naweek pak JF vir Goudveld-Hoërskool aan in hul volgende Lejweleputswa-ligabepaling. Daarna maak die Bloemfonteiners gereed vir die Superliga Pro 20 se halfeindronde.

Hoërskool Diamantveld en Jim Fouché is die twee spanne wat reeds deurgedring het na daardie uitklopronde, terwyl die ander spanne in die halfeindstryde teen Woensdag bevestig sal wees.

In Bethlehem kon Hoërskool Trio, ondanks ‘n uitmuntende vertoning deur Juan Theunissen, met Hoërskool Voortrekker in hul eie agterplaas ploeg.

Die Trio-boulers het amok gesaai onder die tuisspan se kolwers, maar Theunissen en Vlag Janse van Rensburg se vennootskap van 164 lopies het die Trekkers na ‘n stewige totaal van 258/7 gedryf, na 40 beurte.

Theunissen het 134 lopies van 101 balle gemoker, met 22 grenshoue waarvan sewe vir die maksimum gejaag is, terwyl Janse van Rensburg geduldig die anker-rol gespeel en stadig maar seker verder aan sy span se telling help bou het.

Trio se kolwers het saamgespan om die groot totaal na te jaag, maar op 81/4 was daar nog heelwat werk om te doen toe Myburg Jacobs die blad betree het.

Jacobs het vinnig 76 lopies in 37 balle aangeteken om sy span nader aan hul doelwit te bring, voordat Gabriel Mochabela met ‘n skitterende  onoorwonne beurt van 41 lopies die oorwinning vir die span van Kroonstad kon verseker.

Hoërskool Fichardtpark het ook in ‘n riller teen Hoërskool Witteberg geseëvier. Zander Fourie kon vyf Fichie-kolwers se paaltjies plattrek, terwyl Rian Roos 77 lopies aangeteken het vir die span van Welkom, maar die Bloemfonteiners het hulle kolfbeurt kortgeknip voordat hulle die teiken van 203 lopies kon bereik.

 

Beknopte telkaarte:

Hoërskool Jim Fouché: 123 (Arnaud Marais 54, Niel Wilken 33*; Meyer Pretorius 6/34, Nathan Swanepoel 2/22). Hoërskool Sasolburg: 75 (Meyer Pretorius 17; Pieter Conradie 4/20, Henko Venter 3/20). Jim Fouché wen met 48 lopies.

Hoërskool Voortrekker: 258/7 (Juan Theunissen 134, Vlag Janse van Rensburg 60*, Ekstras 23; Thuto Kekane 3/57, WJ van Niekerk 2/48). Hoërskool Trio: 261/8 (Myburg Jacobs 76, Gabriel Mochabela 41*, Franco de Wet 29, Bokang Mohasa 23, Thuto Kekane 21; Thato Nthebere 2/31, Juan Theunissen 2/43, André Heunis 2/89). Trio wen met twee paaltjies.

Welkom Gimnasium: 122 (Ekstras 41, Donald Schoembie 28; Reshé Wales 3/11, AJ Joubert 3/12, Pieter van Biljon 2/29). Hoërskool Sentraal: 126/3 (Johan van den Heever 38*, Ekstras 37, Willem van Staden 31; Dean Katzin 1/25). Sentraal wen met sewe lopies.

Hoërskool Fichardtpark: 203 (Ekstras 44, Michael Cruywagen 43, Stian Kruger 31; Zander Fourie 5/55). Hoërskool Witteberg: 191 (Rian Roos 77, Ekstras 33, Lesego Mosikidi 24; Stian Kruger 4/36, Eben Botha 3/28, Michael Cruywagen 2/34). Fichardtpark wen met 12 lopies.

Willem Louw
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.