SuperSport Schools Plus

Jeugland verras in voorlaaste ronde van Bowl

By Franco Oberholzer , in Rugby | Featured Rugby | News , at 2025-08-10 Tags: , , , , , , , , , ,

FOTO: Potchefstroom Volkskool op Facebook.

Die halfeindstryde in die Bowl-afdeling van vanjaar se SDC Noordvaal Cup gaan straks albei in Potchefstroom plaasvind.

Herleef al die SDC Noordvaal Bowl-aksie op SuperSport Schools – (www.supersportschools.com) 

Dit volg nadat die twee Potchefstroomse skole, Potchefstroom Gimnasium en Potchefstroom Volkskool, Saterdag hul onderskeie wedstryde elk met ‘n bonuspunt kon wen.

Die Gimmies het, in ‘n herhaling van verlede jaar se eindstryd, vir Hoërskool Eldoraigne met 26-13 tuis in Potch verslaan.

Gereelde staatmakers, De Wet Grobler en onderkaptein, Elrich Bosch, het elkeen agter die doellyn gaan draai om aan die Gimmies ‘n gerieflike voorsprong van 19-3 te besorg met die omdraaislag. Hulle het egter die voet ietwat van die pedaal afgehaal na die vierde en bonuspuntdrie.

Eldos se Hugo Theron en Tristan Lee het in de tweede helfte hul kanse aangekryp om elkeen agter die Gimmies se doellyn te gaan kuier. Dit was egter nie genoeg om teen die tuisspan se soliede verdediging die kastaiings uit die vuur te krap nie.

Elders in die dorp, het die Volkies vir Hoërskool Ermelo ‘n loesing van 54-21 toegedien. Agsteman, Johannes Lombard, was voor in die koor met ‘n driekuns aan drieë, wat welverdiende beloning was vir sy uitstaande vertoning in sowel die lynstane as los.

Lombard se losvoorspelermaat, Wian Victor, was vernietigend by die afbreekpunte en het die Volkies gereeld met omgekeerde balbesit voorsien, waarmee hulle venynige aanvalle kon loods.

Die Volkies sal egter op hul hoede moet wees vir Bergsig Akademie. Die Arende van Rustenburg het hul beste vertoning vanjaar gelewer om vir Hoërskool Randburg met 45-24 pak slae te gee. Dié bonuspuntsege beteken dat die Arende en die Volkies albei na 25 ligapunte opskuif.

Regtervleuel, Keabetswe Diale, het die dominante vertoning deur sy pak behoorlik benut om die Randburgers se doellyn twee keer oor te steek.

Dit maak die Volkies se stryd teen Hoërskool Dinamika in Alberton, asook Bergsig s’n teen die Gimmies in Potchefstroom, bepalend in terme van wie uiteindelik in die tweede plek sal eindig.

Hoërskool Jeugland se bonuspuntsege van 39-27 sege oor Merensky Landbou Akademie het vir die Plasies harde werk in die finale ronde van die reeks gelos. Die span van Kempton Park het uit die dood opgestaan om homself tans in die vierde plek te bevind. Agsteman, Alec Mohlala, was Jeugland se groot uitblinker met twee belangrike drieë.

Die Plasies se nederlaag beteken dat hulle aanstaande week ‘n taai stryd met Hoërskool Eldoraigne, in Tzaneen, met soveel moontlik moet wen, én hoop dat Jeugland teen Ermelo, in Ermelo, vasval.

Puntemakers: 

Potchefstroom Gimnasium 26 (19) – Drieë: De Wet Grobler, Elrich Bosch, Rea Moalosi, Matthew Redelinghuys. Doelskoppe: Zandré Da Silva (3). Eldoraigne 13 (3) – Drieë: Hugo Theron, Tristan Lee. Strafdoel: Damian Elferink.

Potchefstroom Volkskool 54 (26) – Drieë: Johannes Lombard (3), Luan Fourie (2), Anro Nel, Lourenzo Louw. Doelskoppe: Juhan Geldenhuys (7). Hoërskool Ermelo 21 (21). 

Jeugland 39 (19) – Drieë: Alec Mohlala (2), Thando Ngomane, Joseph Ngoma-Ngoma, Thando Ngomane, Strafdrie. Doelskoppe: Koketso Maphopha, Ngomane. Strafdoel: Maphopha. Merensky Landbou Akademie 27 (8) – Drieë Matthew Mockford (2), Christo Venter, Henru Venter. Doelskoppe: JD Boshoff, Jens Bezuidenhout. Strafdoel: JD Boshoff.

Bergsig Akademie 45 – Drieë: Keabetswe Diale (2), Carlo de Jager, Dan Bogobane, Marnus Dercksen, Stephan Harmse, Jacque Viviers. Doelskoppe: De Jager (2). Hoërskool Randburg 24. 

Ander spanne: 

o.16: Eldoraigne 29, Potchefstroom Gimnasium 13; Potchefstroom Volkskool 15, Ermelo 7; Bergsig Akademie 22, Randburg 12; Merensky 72, Jeugland 7.

o.15: Eldoraigne 32, Potchefstroom Gimnasium 15; Potchefstroom Volkskool 7, Ermelo 5; Randburg 7, Bergsig Akademie 6; Merensky 24, Jeugland 21.

o.14: Potchefstroom Gimnasium 45, Eldoraigne 0; Ermelo 17, Potchefstroom Volkskool 10; Randburg 19, Bergsig Akademie 7; Jeugland 10, Merensky 6.

Franco Oberholzer
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.