Jansies wéér Wit Bulle se baas

Hoërskool Dr. EG Jansen het meer as waarskuwingskote laat klap in hul eerste SDC Noordvaal Beker-kragmeting van die jaar.
Herleef al die aksie op SuperSport Schools. (www.supersportschools.com)
Die Jansies het, nes verlede jaar, die Wit Bulle van Hoërskool Monument die loef afgesteek met ‘n telling van 32-15 in Boksburg. Die Boksburgers het verlede jaar óók in Krugersdorp geseëvier.
Die twee tradisionele vyande het mekaar soos boksers uitgevoel vroeg in die eerste helfte, maar Monnas se linkervleuel, Ernesto Oersen, en buitsenter, Jason Joubert, het daarna vir die besoekers uit die blokke gekry met twee vinnige drieë.
In teenstelling hiermee het die tuisspan ‘n rukkie geneem om aan die gang te kom, en dit was uiteindelik hul woelwaterflank, Divan Francis, wat met sy terugkeer die ys vir die Jansies kon breek. Gerhard van Aswegen, die Arende se slot, het kort daarna ook oorgebars om sake gelyk te laat trek met 10-10 teen rustyd.
Die tweede 35 minute het geheel en al aan die tuisspan behoort. Die Arende het daarin geslaag om die wedstryd te dikteer en weereens gewys dat hulle op hul gemaklikste, en gevaarlikste, is wanneer die spel oopgemaak word.
Daardeur het hulle vir die Wit Bulle deurentyd onder druk geplaas, in die besoekers se helfte geboer en nóg drie keer agter die span van Krugersdorp se doellyn gaan kuier. Die laaste hiervan was Van Aswegen se welverdiende drie, bykans vanuit sy eie halfgebied.
Helpmekaar Kollege was ook té sterk vir hul gashere, Hoërskool Menlopark, in Pretoria. Die Johannesburgers het uiteindelik met ‘n telling van 31-19 vergoed vir hul nederlaag van verlede naweek.
Die Helpies se agterlyn was vir die eerste keer vanjaar op hul stukke, met Michael Benzien op losskakel en die twee jongelinge, Clinton Cloete en Ty Ax, aan sy buitekant. Voorlangs het die vaskopstut, Ulrich van der Merwe, sy aanspraak op die nr. 3-trui van die Leeus se Cravenweekspan verder versterk.
Divan Nel, wat vandeesweek op linkervleuel in plaas van heelagter vir die Parkies diens gedoen het, was ongetwyfeld die span Pretoria se uitblinker, en is beloon met een van sy span se twee drieë.
Verder af met die N1 het ‘n goed afgeronde spanvertoning deur Hoërskool Waterkloof aan hulle ‘n wegholoorwinning van 61-17 oor Hoërskool Nelspruit besorg.
Agtsteman, Marko Kok, en buitsenter, Riwan van Aswegen, het vir die soveelste keer vanjaar uitgeblink. Van Aswegen was verál genadeloos om swakplekke in die Nellies se verdediging uit te buit en het twee keer die doellyn oorgesteek.
Losskakel, Franco Cronje, het weer beïndruk met sy korrelwerk pale toe en agt van sy span se nege drieë met gemak verdoel.
Puntemakers:
Dr. EG Jansen 32 (10) – Drieë: Gerhard van Aswegen (2), Divan Francis, Duwan Potgieter, Juandre Jacobs. Doelskop: Matthew Bergman. Strafdoel: Bergman. Monument 15 (10) – Drieë: Ernesto Oersen, Jason Joubert, Taslien Guyan.
Helpmekaar 31 (19) – Drieë: Ula van der Merwe, Molatsi Moloi, Tiaan le Roux, Pieter Moller, Zaiden Krige. Doelskoppe: Michael Benzien (3). Menlopark 19 (5) – Drieë: Divan Nel, Declan Pleser. Doelskoppe: Reinhardt Herbst, Logan Botha.
Waterkloof 61 (35) – Drieë: Riwan van Aswegen (2), Ruan Jacobs (2) Marko Kok, Divan Botha, Migael Prinsloo, Franco Cronje. Doelskoppe: Franco Cronje (8). Nelspruit 17 (12) – Drieë: Regard Vermaak, Ronaldo van Rensburg, Lindane Ndela. Doelskoppe: Theuns Meyer.
Ander spanne:
o. 16: Monument 45, EG Jansen 31; Menlopark 11, Helpmekaar 10; Nelspruit 24, Waterkloof 18.
o. 15: Monument 21, EG Jansen 12; Menlopark 24, Helpmekaar 19; Waterkloof 18, Nelspruit 15.
o. 14: Monument 17, EG Jansen 7; Helpmekaar 46, Menlopark; Waterkloof 15, Nelspruit 11.




